Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Weiveld verwoes ná motor op N2 aan brand slaan

Sowat 250 ha is verwoes in ’n veldbrand wat Saterdag langs die N2 tussen Albertinia en Riversdal in die Suid-Kaap ontstaan het nadat ’n motor omgeslaan en aan die brand geslaan het.

Brandspanne was Maandag steeds op die toneel, maar dit het geblyk dat die brand onder beheer is.

Deon van Wyk, adjunk-brandweerhoof van die Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM), met die dragtige duiker wat uit die gebrande gebied gered is. Foto: Elana Basson

Die brand het Saterdagmiddag ontstaan toe gras langs die pad weens ’n motorongeluk aan die brand geslaan het. “Niemand is in die ongeluk beseer nie,” het Herman Pieters, woordvoerder van die Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM), by navraag gesê.

Die bestuurder het vermoedelik vir iets in die pad uitgeswaai toe die motor omgeslaan en aan die brand geslaan het.

Sondag was die N2 in ’n stadium gesluit toe digte rook motoriste se sig belemmer het, maar die pad is later weer oopgestel. ’n Sterk wind het ook gewaai.

Later is ’n verkenningsvlug oor die gebrande gebied gedoen en ligte reën het ook uitgesak.

Die veldbrand Sondag langs die N2 tussen Albertinia en Riversdal. Foto: Jean van Beulen

’n Duiker is deur Deon van Wyk, adjunk-brandweerhoof van die GRDM, uit die gebied gered. Van Wyk het ’n voorbrand gemaak toe hy die duiker opgemerk het. Sy kon nie van die vlamme ontsnap nie en hy het nadergegaan. Sy het toegelaat dat hy haar optel en na veiligheid dra.

“Die duiker is dragtig,” sê Pieters. “Sy is in dieselfde gebied vrygelaat, maar in ’n deel wat nie gebrand het nie.”

Brandbestryders maak Maandag gereed om te bid op die toneel van ’n veldbrand wat Saterdag langs die N2 tussen Albertinia en Riversdal ontstaan het. Foto: Verskaf

Volgens Pieters is na raming 200 ha, wat weiveld insluit, in die brand verwoes.

Luidens ’n verslag van die GRMD was die N2 Maandag steeds oop. Die brand was onder beheer (in die deel van die gebied wat reeds gebrand het) met opvlammings wat voorgekom het.

Nege brandbestryders van die GRDM is op die toneel, asook 20 grondspanne van Werk met Vuur (WoF) en ’n brandweerwa.

Volgens die GRDM is die opvlammings geblus en sou opruiming van die gebied deur die dag voortgaan. Die gebied sou tot Maandag om 21:00 gemonitor word.

Geen lewensverlies of beserings is aangemeld nie.

Die brandbestryders het Maandagoggend eers ’n gebed gedoen voordat hulle met hul dagtaak begin het, sê Pieters.

’n Brandbestryder Sondag in die gebrande gebied. Foto: Elana Basson
Meer oor:  Albertinia  |  Riversdal  |  Brand  |  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.