Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Weldoener skenk geld aan herder vir ‘God se kinders’

Jason de Vries is “die medisyne wat die wêreld nodig het”.

Só beskryf ’n weldoener dié Kaapse man aan wie hy al R100 000 geskenk het. Want De Vries het behoorlik daarmee gewoeker om na sy gemeenskap se vlees én gees om te sien.

Dit het alles begin toe De Vries (30) op sosiale media vertel het die nasionale inperking weens Covid-19 het sy werk as spuitverwer gevat het en sy gesin ly honger.

Jason de Vries en Ivoritha Taphel by ’n fasiliteerder, Asiphe Roiinyathi, in die bib­lioteek wat hulle in ’n wendyhuis begin het.Foto: Edrea du Toit

Die weldoener, wat van KwaZulu-Natal kom, maar nou in die oliebedryf in die Verenigde Arabiese Emirate werk, het dit raakgesien en vir hom R10 000 gegee. Op foto’s op sosiale media verskyn dié barmhartige samaritaan, wat anoniem wil bly, met ’n aanvallige dame, by luukse motors en in eksotiese plekke.

Hy het aan Rapport gesê hy het tussen vlak 5 (in April verlede jaar) tot vlak 1 (in Maart vanjaar), altesaam R100 000 aan De Vries gegee.

Dié sê hy het altyd geweet hy sal eendag ’n verskil in die gemeenskap maak, al het hy ’n hartseer geskiedenis: op vier was hy ’n weeskind, as jong man het hy met die drankduiwel gestoei en soms op die kerk se dak geslaap.

In 2018 het hy tot bekering gekom en sy vriendin en “inspirasie”, Ivoritha Taphel, ontmoet.

Jason de Vries se hulpkreet op sosiale media was nie vergeefs nie.

De Vries sê hy het verlede jaar op sosiale media gevra vir kospakkies of koskoepons om sy twee kinders en die buurt se hongeres te voed. Groot was sy verbasing toe die wildvreemde man van oorsee hulp aanbied.

“Hoekom so baie geld?” wou De Vries nog weet.

Met die eerste skenking is kospakkies vir die behoeftiges in die Happy Valley-buurt naby Kuilsrivier opgemaak en toe sy eie koskas gevul.

Gou was die geld egter op en het die spreekwoordelike wolf weer voor die voordeur kom sit. In September moes hy sy huurhuis opgee.

De Vries het hom weer tot sosiale media gewend en weer het die weldoener geld gestuur: dié keer R20 000 vir kospakkies vir 600 behoeftiges in Happy Valley.

De Vries en Taphel het ’n sopkombuis begin en gee met die hulp van die hulporganisasies Ladles of Love en die Woodstock-sopkombuis gereeld vir die buurt kos.

Hulle het ook ’n biblioteek ingepas in die wendyhuis wat ’n plaaslike weldoener geskenk het. Nou kan die buurt se kinders hul skoolwerk hier in stilte kom doen. Agt hoërskoolleerlinge help ook om vir die kleineres moeilike begrippe te verduidelik.

De Vries het ’n dogtertjie wat saam met ’n groep mense in ’n bos daar naby gewoon het, “aangeneem”, ’n versorger gekry en die kind in die skool gekry. Sy is nou in gr. 1 en vaar goed, sê hy.

Volgens die oorsese weldoener was hy “verras deur Jason se entoesiasme, durf en daad.

“Hy doen waarvoor hy lief is, maak nie saak wat dit vereis nie. Hy is nederig en geensins hooghartig nie, maar wys sy passie om klein kinders te help. Elke keer as ’n kind siek is, doen hy alles in sy vermoë om hom of haar te versorg. Hy het ’n goddelike dissipline in kinders ingestel.

“Ek het Jason gehelp omdat hy en die kinders ’n voorbeeld stel van wat liefde is. Hy vra niks vir homself nie en gee meer as homself. Hy is menslik, buitengewoon en die medisyne wat die wêreld nodig het.

“Hy het mý kom leer hoe om vir God se klein kinders te sorg. Ek sal Jason vorentoe weer help.”

Meer oor:  Weldoener  |  Sosiale Media  |  Covid-19  |  Skenking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.