Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Weldoeners help bejaarde egpaar ná ongeluk in wildtuin
Die foto van Fawzia en Hoosen Vawda is tydens een van hul vele uitstappies aan die Krugerwildtuin by die Berg-en-Dal ruskamp geneem.

Dis leeuwêreld dié en daar is nie ’n siel in sig nie.

Die gedagte het deur Hoosen Vawda (72) se kop gemaal toe hy en sy vrou Fawzia Vawda (67) beheer oor hul motor in die Krugerwildtuin verloor het.

Die kar het midde in die bosse, sowat vyf kilometer van die Satara-ruskamp, tot stilstand gekom en die Vawdas gestrand gelaat.

Binne minute het vier ander toeriste egter die bejaarde egpaar te hulp gesnel en toe hulle hul oë uitvee was daar glo meer as 40 mense op die toneel om handjie by te sit.

Vawda, wat in Barberton woon, sê hulle besoek die wildtuin minstens elke derde naweek.

Muhammed Vawda (49), sy seun, verduidelik sy ouers was verlede Maandag tussen Orpen en Satara na Barberton onderweg toe hulle beheer oor hul motor verloor.

“My ma het bestuur omdat my pa net voor die inperking ’n beroerte gehad het.

Die kar het glo begin ruk en sy het later ’n geluid gehoor.

Fawzia en Hoosen Vawda se motor het in ’n groot bos tot stilstand gekom nadat Fawzia beheer van die motor verloor het.

Die voertuig het van die pad af gegaan en sy kon dit nie beheer nie. Die voertuig het in ’n groot bos tot stilstand gekom en my pa het my gebel,” sê Muhammed.

Vawda sê hy ken die wildtuin goed “en ek het geweet ons is in die moeilikheid. Dis leeuwêreld en daar was geen kar op die pad nie.”

Dit het later aan die lig gekom dat die voertuig se agteras gebreek het.

Muhammed sê hy het probeer om die Satara-kamp in die hande te kry sodat hulle ’n veldwagter kan ontbied.

“My ouers is baie oud en ek was bekommerd oor hul welstand. My ma het 25 jaar gelede ’n breinoperasie gehad en kan glad nie stres hanteer nie en my pa was nog besig om van sy beroerte herstel.”

Intussen het twee egpare, wat in ’n kampeervoertuig in die wildtuin was, die Vawdas gehelp.

“My ma het probleme met haar voete en sukkel om te loop, maar die egpare het haar uit die voertuig gehelp en ’n leertjie vir haar opgeslaan om in hul kampeervoertuig te klim.”

Vawda sê die egpare het ’n paar minute na die ongeluk by hulle gestop “en toe ons weer kyk het daar omtrent 40 mense gestop om ons te help.”

Fawzia en Hoosen Vawda se motor moes ingesleep word nadat dit in die wildtuin gebreek het.

Die egpare het die Vawdas na Satara geneem.

“Terwyl my pa besig was om ’n insleepvoertuig te reël, het ’n veldwagter drie ure lank saam met my ma gesit en haar rustig gehou,” sê Muhammed.

Sy ouers het by Satara oornag en is Dinsdag met ’n huurmotor terug na Barberton. ’n Insleepvoertuig het ook Dinsdag hul motor verwyder.

Muhammed sê hy is dankbaar vir die weldoeners en personeel van die park wat sy bejaarde ouers gehelp het.

Muhammed verduidelik dan opgewonde dat sy familie reeds in 1880 in Barberton aangekom het.

In die vroeë 1900’s het die veldwagters van die wildtuin, wat eers in 1926 amptelik geopen is, glo by sy oupagrootjie se winkel hul inkopies kom doen en het hy selfs vir Paul Kruger ontmoet.

Die Vawdas sê hulle “kan nie wag vir ’n nuwe kar nie sodat ons weer kan wildtuin toe gaan”.

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Ongeluk  |  Bejaarde Egpaar  |  Wildtuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.