Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wenfoto ‘laat jou weer kyk’

Met sy verlangende oë, nogal in die rigting van Suid-Afrika, het die “verlangende meerkat” die wenfoto van Buite, die Aquila- private wildreservaat en Cameraworld se Natuurfoto-kompetisie besorg.

Karien le Roux van Struisbaai, wat die wenfoto by die Mata Mata-kampeerplek in die Kgalagadi-oorgrenspark geneem het, is gisteraand by ’n spesiale geleentheid by die Protea Hotel Marriott in Durbanville as die wenner in die senior kategorie aangewys.

Vanjaar se wenfoto: Karien le Roux van Struisbaai se inskrywing van die “verlangende meerkat” is Buite, die Aquila- private wildreservaat en Camera-world se wenfoto.

Jaco Marais, hooffotograaf van Netwerk24 en wat deel van die kompetisie se paneel was, meen die eenvoud van die foto is een van die elemente wat daartoe bygedra het dat dié foto die wenner is. “Die wenfoto het dadelik die paneel se aandag aangegryp met die eenvoud daarvan. Dit het ook die vermoë om op verskeie maniere geïnterpreteer te word. Die skoon uitfokus-agtergrond plaas die fokus van die foto op die meerkat en die draad. Die elemente van die natuur en die kunsmatigheid van die mensgemaakte draad werk saam om die meerkat ’n amperse menslike persoonlikheid te gee. Sekere mense sal ’n ingehokte meerkat sien, ander sal weer ’n meerkat sien by die grens van ’n nuwe avontuur.

“Die foto het my aan Ant Stienie van Agter elke Man-faam laat dink wat staan en die wêreld bekyk én skinder by die draad.

Gideon Malherbe van die Paarl se “ongeduldige Kaapse suikervoël” is die naas-wenner.

“Dit is ’n goeie voorbeeld daarvan dat eenvoudige, skoon natuurfoto’s kan meeding met die foto’s van ’n massamigrasie op die Serengeti. ’n Goeie foto is daardie foto wat die kyker laat stop om daarna te kyk. Ek wil glo dat elkeen wat na dié foto kyk iets van hulself in die meerkat sal sien.”

Gideon Malherbe van die Paarl is as die naaswenner in die senior kategorie aangewys vir sy foto van die “ongeduldige Kaapse suikervoël”.

Malherbe vertel: “Die uitdaging was om die aksie te vries met die kuiken en sy vlieënde ma, maar tog ’n mate van beweging in haar vlerke toe te laat.”

In die junior kategorie, wat vanjaar teleurstellend min inskrywings opgelewer het, is die wenner die 14-jarige Annegret Serfontein.

Vanjaar was daar 11 finaliste, maar 15 finalisfoto’s – die rede hiervoor is dat twee finaliste meer as een inskrywing in die top-15 gekry het. Malherbe en Antoinette Morkel van Port Elizabeth het onderskeidelik vier en twee inskrywings onder die bestes gehad.

Die inskrywings het vanjaar beslis nie teleurgestel nie, sê Malani Venter, redakteur van Buite.

“Wat veral uitgestaan het, is dat ’n ieder en ’n elk ingeskryf het – van die professionele fotograaf tot die amateur wat dit geniet om die mooi in die Suid-Afrikaanse natuur vas te vang,” sê Venter.

Meer oor:  Cameraworld  |  Meerkat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.