Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Wêreld vandag armer’ ná dood van dieretuin-man

Die nuus dat die gerekende woordvoerder van die Pretoriase dieretuin onverwags oorlede is, het as ’n groot skok gekom.

Veral mense in die nuusmedia wat jare saam met Craig Allenby (50) gewerk het, was geskok toe hulle hoor hy is Donderdagoggend dood aangetref in sy huis in die ooste van Pretoria.

Hy is geloof vir sy uitsonderlike werksetiek en word as een van die land se beste woordvoerders in die mediaskakelwese beskryf. Hy het selfs pryse daarvoor gewen.

Phillip Bruwer en Craig Allenby. Foto: Verskaf

Allenby se ma, Sylvia, het hom Donderdagoggend in sy bed dood aangetref.

“Sy dood is vir almal ’n groot skok en ons is gebroke,” sê Phillip Bruwer, ’n jare lange vriend en kollega.

“Die polisie ondersoek die oorsaak van sy dood, maar geen misdaad word vermoed nie.”

Allenby word ook oorleef deur sy suster, Sylvia de Kock.

Die familie het gevra dat hul privaatheid in dié moeilike tyd gerespekteer word.

Craig Allenby, wat in 2014 die Nasionale Persklub se prys gekry het as woordvoerder van die jaar. Foto: Verskaf

Allenby was sowat 30 jaar by die Pretoriase dieretuin betrokke. Ten tyde van sy dood was hy ook die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi) se direkteur van bemarking en kommersialisering.

Die Pretoriase dieretuin is een van die 11 nasionale botaniese tuine en dieretuine wat onder Sanbi val.

“Allenby sal onder meer onthou word as ’n mens met ’n hart van goud wat omgegee het vir elke dier, mens en die omgewing. Hy was een van die beste mediaskakelbeamptes in Suid-Afrika en is in 2014 deur die Nasionale Persklub as die woordvoerder van die jaar aangewys.

“Hy was die toonbeeld van simpatie en was altyd daar as ’n mens hom nodig gehad het.”

Lali Meintjes en Craig Allenby. Foto: Facebook/Lali Meintjes

Allenby was dol op Afrikaanse musiek, al was hy Engelssprekend. Sy gunsteling-sanger was Gerrie Pretorius.

“Hy was nie skaam om sy wysheid te deel nie, en was ’n rolmodel in die mediakringe. Niks sal sy leemte vul nie,” sê Bruwer.

Allenby was ook jare lank lid van die Nasionale Persklub. Dié klub het sy medelye met sy ma, kollegas en vriende betuig.

Val Boje, voorsitter van die Nasionale Persklub, sê in ’n verklaring Allenby het nog kort voor die uitbreking van Covid-19 in die land baie mediageleenthede aangebied.

“Persklublede en ander lede van die Suid-Afrikaanse media het met Allenby gepraat as woordvoerder van die Pretoria-dieretuin en later Sanbi, ’n organisasie waarvan die werk passievol deur Allenby bevorder is.

Craig Allenby, wat Donderdagoggend in sy bed dood aangetref is. Foto: Verskaf

“Hy het baie kontakpersone in die media gehad en was toeganklik en baie doeltreffend as ’n woordvoerder.”

Lali Meintjes sê die gedagte dat haar goeie vriend en kollega van die afgelope tien jaar dood is, is onwerklik.

“Ons is almal regtig gebroke. Ek het hom gisteraand (Woensdag) nog gesien.

“Hy was ’n ongelooflike mens in die mediakringe en sy etiek was ongelooflik. Almal het geweet hulle kan hom enige tyd nader vir eerlike kommentaar.

“Die wêreld is vandag báie armer.”

Die begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

Craig Allenby Foto: Verskaf
Meer oor:  Pretoria  |  Dieretuin  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.