Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Werkers eis ‘koppe moet rol oor yslike tender’
Ben Moseme, uitvoerende hoof van C-Squared.

Die openbare beskermer (OB) ondersoek die toestaan van ’n tender van R15 miljoen vir persoonlike beskermende toerusting (PPE) aan ’n maatskappy wat oor die jare skatryk geword het uit die reël van groot byeenkomste vir die departement van sport.

C-Squared Consumer Connectedness het in April ’n gedaanteverwisseling ondergaan en die tender by die departement van vervoer losgeslaan om die taxibedryf Covid-19-gereed te help kry.

’n Groep bekommerde personeellede van die departement beweer C-Squared se eienaar, Ben Moseme, is bevriend met Fikile Mbalula, wat nou minister van vervoer is en destyds minister van sport en ontspanning was toe C-Squared ook groot kontrakte by daardie departement gekry het.

C-Squared, ’n Bloemfonteinse maatskappy, het in 2011 ’n tender van R28 miljoen losgeslaan om die omstrede Suid-Afrikaanse Sporttoekennings aan te bied en is een van drie maatskappye wat elke jaar sedert 2016 R50 miljoen by die Vrystaatse regering kry om die Mangaung African Cultural Festival (Macufe) te reël. Verlede jaar het C-Squared ’n kontrak van R2,9 miljoen by die departement van openbare werke gekry vir die reël van pres. Cyril Ramaphosa se inhuldiging op Loftus Versfeld in Pretoria – en toe die staatsrede in 2019 plaasvind, was C-Squared wéér in die prentjie.

Toe groot byeenkomste weens Covid-19 verbied is, het die maatskappy in ’n kits in ’n verskaffer van PPE verander.

In die klagte aan die OB, wat Rapport onder oë gehad het, beweer “bekommerde personeellede” van die departement van vervoer Moseme is nie net bevriend met Mbalula nie, maar ook met Alec Moemi, direkteur-generaal van vervoer.

Moemi sê egter dit is alles ’n komplot van korrupte amptenare waarvan hy ontslae probeer raak.

Rapport is die afgelope twee weke toegegooi onder anonieme oproepe en e-posse van mense wat hulself “bekommerde werknemers” van die nasionale departement van vervoer noem.

Hulle sê koppe moet rol oor die tender van R15 miljoen, die grootste enkele kontrak in die departement vir PPE. Luidens die klagte aan die OB, wat ook aan die spesiale ondersoekeenheid (SOE) gestuur is, is die tender deurspek met onreëlmatighede.

Die klaers beweer:

  • C-Squared het die kontrak gekry weens Moseme en Moemi se vriendskap;
  • C-Squared het verskeie tenders by die departement van sport gekry toe Moemi en Mbalula nog daar gewerk het;
  • Bestuurders in die departement se voorsieningskettingbestuur is nie in die kontrak geken nie; en dat
  • Moemi wou die uitvoerende raad van die departement nie by die toekenning van kontrakte betrek nie.

Rapport het intussen vasgestel C-Squared het ook ’n tender van sowat R6 miljoen losgeslaan om PPE aan die Vrystaatse departement van gesondheid te lewer.

Alec Moemi, DG van vervoer. Foto: Jabulani Langa

Moemi sê bewerings dat hy en Moseme bevriend is, is “lagwekkend”. “Die man haat my. Moseme sal self so sê,” het Moemi Donderdag aan Rapport gesê. “Ek was die een wat sy maatskappy se kontrak met die departement van sport kleiner gemaak het toe ek in 2012 daar aangestel is.”

Volgens Moemi het sy departement slegs in vlak 5 van die inperking PPE-aankope gedoen.

“Die nasionale Covid-19-bevelsraad was vinnig op ons tydens die oopmaak van die taxibedryf. By staanplekke was daar nie werkende toilette nie, en ons moes seker maak dat alles higiënies is.”

Moemi sê hy het sy bedenkinge gehad toe hy C-Squared se tender sien, maar daar was nie tyd om te mors nie. “Die tesourie het ons gedwing om te kyk na maatskappye wat op die tenderdatabasis was.”

Moemi sê die PPE wat C-Squared verskaf het, was van uitstekende gehalte en billik geprys. Luidens die kontrak, wat Moemi aan Rapport verskaf het, het die departement 7 300 pare handskoene, 80 040 maskers, 1 000 beskermende oorpakke, 1 266 20-liter-houers handreiniger, 148 087 eenhede 1-liter-handreiniger, en 1 286 20-liter ontsmettingsmiddels by C-Squared gekoop. Die pryse was in pas met riglyne van die nasionale tesourie.

Moseme het nie op navrae gereageer nie.

Die OB het bevestig hulle gaan die saak ondersoek. Die SOE oorweeg die klagte nog.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.