
Verkeersbeamptes op die toneel waar die bestuurder van ’n afleweringsvoertuig Woensdag beheer oor die voertuig verloor het nadat een van die bande gebars het. Foto: Samuel Walters

Die wrak van die afleweringsvoertuig nadat die bestuurder beheer daaroor verloor het. Foto: Samuel Walters

Die voorste gedeelte van die voertuig. Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor nadat een van die bande gebars het. Foto: Samuel Walters

Die bestuurder van die afleweringsvoertuig is ernstig beseer en steeds in die Paarl-hospitaal. Foto: Walter Samuels
Werkers van die Drakenstein-munisipaliteit het Woensdag ’n noue ontkoming gehad toe ’n afleweringsvoertuig op die R44-pad tussen Wellington en Hermon se band gebars en die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
Samuel Walters, van Riebeek-Kasteel, sê die munisipale werkers het gras langs die pad gesny toe die voorval gebeur het.
Die voertuig het glo gerol en op die gras aangrensend tot die R44 beland waar die munisipale werkers enkele minute tevore nog besig was om te werk.
Die bestuurder van die voertuig is ernstig beseer en per ambulans na die Paarl-hospitaal geneem.
Jandré Bakker, woordvoerder van die provinsiale verkeersdepartement, het by navraag gesê dat die voorval nie by die provinsiale radiobeheersentrum aangemeld is nie.
Sers. Noloyiso Rwexana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het Donderdag die voorval bevestig en sê dat ’n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.
Sy sê die bestuurder van die afleweringsvoertuig is steeds in die hospitaal.