Baie Suid-Afrikaners wat oorsee woon en werk, kan die einde van die maand sonder ’n inkomste sit as die regering hulle nie help nie.
’n Groep van 3 500 Suid-Afrikaners, wat sedert die staat van inperking afgekondig is, in Suid-Afrika vasgekeer is, het hulle nou by die groep Locked in South Africans (Lisa) aangesluit, wat gestig is om hulle te probeer help.
Van hulle is onderwysers in die Ooste, verpleegsters en boere in Amerika en seevaarders wat op ’n rotasiegrondslag werk.
Beverley Schäfer, Lisa se koördineerder, gaan die regering nou saam met die groep in die hooggeregshof in Pretoria pak sodat hul pleidooie oorweeg word.
Schäfer het die media Vrydag op ’n videokonferensie oor hul probleme ingelig.
Baie van hulle het werkgeleenthede in die buiteland gekry en het alles in Suid-Afrika opgegee. Sommige is in die proses om te immigreer en die gesinne sit nou sonder ’n huis, inkomste of mediese fonds.
Ander het weer vir familie in Suid-Afrika kom kuier en kon sedert die inperking begin het nie terugkeer na hul werk in die buiteland nie. Die kans is nou groot dat hulle aan die einde van die maand hul werk, verblyf en ander bates kan verloor.
Baie werk op kontrak en hul werknemers kan nie onbepaald hul werk vir hulle hou nie. Gesinne is ook in die proses van mekaar geskei.
Ons het nie ’n ander keuse gehad as om die howe om hulp te nader nie.
Schäfer sê hulle het sowat drie weke gelede met die regering hieroor probeer onderhandel, maar dit het op dowe ore geval.
“Ons het nie ’n ander keuse gehad as om die howe om hulp te nader nie,” sê sy.
Al wat die groep vra, is dat die regering aan ’n bemiddelingsproses moet deelneem en hulle help.
Volgens Schäfer is daar uitsonderings gemaak in die regulasies, maar daar is steeds ’n groot aantal mense wat nie mag terugkeer nie. Dit maak inbreuk op hul grondwetlike reg om te reis en om te werk waar hulle wil, meen sy.
Lede van die groep sê dat die lande waarin hulle werk se ambassades hulle wel probeer help. Almal het die nodige papierwerk en permitte, maar dit is die Suid-Afrikaanse regering wat hulle keer as hulle die land probeer verlaat.
Schäfer sê hulle hoop om teen Woensdag ’n antwoord te kry omdat die einde van die maand om die draai is en hulle die probleem voor dan wil oplos.