Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wes-Kaap moet hom staal vir erge kouefront
Tafelberg, Kaapstad Foto: Pixabay

’n Kouefront wat reën, onstuimige seetoestande, bibberweer en moontlike vloede in Kaapstad en ander dele van die Wes-Kaap kan veroorsaak, word vir Woensdag voorspel.

Die Suid-Kaapse weerkantoor van die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ook waarskuwings uitgereik oor swaar reën, sterk wind en buitengewoon hoë deinings wat Woensdag en Donderdag moontlik oor groot dele van die provinsie se kus kan voorkom.

Hoë deinings word in die Bergrivier- munisipale gebied, Kaap Agulhas, die Cederberg- munisipale gebied, die Kaapse metro-gebied, Overstrand, Saldanhabaai, die Swartland- munisipale gebied, die Bitou- munisipale gebied, George, Knysna, die Hessequa- munisipale gebied en Mosselbaai voorspel.

Swaar reën word vir Kaap Agulhas, Bitou, George, Hessequa, Kannaland, Oudtshoorn, Knysna, Mosselbaai, Overstrand, Swellendam en Theewaterskloof voorspel. Die reën kan tot moontlike vloede en skade aan infrastruktuur lei.

Oor inligting op Facebook dat ’n potensieel gevaarlike storm – bekend as die swart suidooster, wat in 1981 die Laingsburg-vloed veroorsaak het – moontlik oor die suidwestelike deel van die Wes-Kaap kan vorm en van Woensdag slegte weer kan bring, sê die Garden Route-distriksmunisipaliteit se rampbestuur-afdeling dat dié tipe storms, ook bekend as “perfekte storms”, baie moeilik is om te voorspel omdat die weersomstandighede skielik kan verander.

Die weerdiens sê in ’n verklaring ’n afsny-laagdruk sal die Wes-Kaap van Woensdag tot Donderdag tref en met wydverspreide buie, donderbuie, sterk winde en onstuimige seetoestande gepaardgaan.

Die laagdruk sal Woensdag langs die suidweskus van die Wes-Kaap ontwikkel en teen die aand by Saldanha wees.

Sporadiese, swaar reënval word veral teen Woensdagaand en oornag tot Donderdag in die Overberg, Tuinroete, dele van die Kaapse Wynlande en Kaapse metropool verwag. Reën van 30 tot 50 mm word binne 24 uur verwag en dele van die Overberg kan van 60 tot 100 mm reën kry.

Langs die kus kan sterk winde van Kaap Columbine tot Stilbaai voorkom, en deinings van tussen 4 m en 5,5 m hoog veroorsaak.

Vaartuie gewaarsku, strande moontlik gesluit

Kleiner vaartuie word gewaarsku dat hulle in die storm kan omslaan of water kan inneem, en word gevra om skuiling in hawens te soek. Strande kan ook moontlik gesluit word.

Volgens die Weerdiens is hy ook van die Facebook-boodskap oor die swart suidooster bewus. Sterk suidoostelike winde oor die suidwestelike deel van die provinsie word gewoonlik met sonskynweer geassosieer. Soms kan die ekstra teenwoordigheid van ’n boonste lug-afsny-laagdruk lei tot ’n vogtige suidoostelike wind, ook bekend as ’n swart suidooster.

Hoewel dit heel moontlik is dat ’n swart suidooster kan ontwikkel, moet die publiek nie op hol raak oor inligting op sosiale media nie, maar eerder betroubare bronne oor weersake raadpleeg.

Die Kaapstad-metro sê in ’n verklaring ’n intense kouefront met stormsterk winde, reën en onstuimige seetoestande word Woensdag verwag. Al die metro se dienste en agentskappe is op bystand.

Inwoners word gevra om potensiële blokkasies om hul huise te verwyder en seker te maak dat geute en pype skoon is. Indien moontlik moet inwoners in laagliggende gebiede ’n sloot om hul huis grawe sodat die water kan afloop.

Noodgevalle moet by die metro se noodsentrum by 021 480 7700 aangemeld word, of skakel 107 van ’n landlyn af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.