Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wet sny boere keelaf

Lesotho se 30 000 geregistreerde wol- en sybokhaarboere is besig om van honger dood te gaan nadat dié land besluit het dat wol slegs deur ’n Chinese makelaar gekoop en uitgevoer mag word.

Die pragtige Lesotho-landskap wat onder meer bekend is vir sy wolbedryf, met skape en sybokke wat oral wei, is tans gehul in ’n donker kombers van depressie. Foto’s: Deon Raath

Terwyl Lesotho se boere dekades lank hul wol na Suid-Afrika uitvoer het waar dit op die vrye mark verhandel is, het die regering van Lesotho 18 maande gelede besluit dat alle wol en sybokhaar slegs deur ’n Chinees met die naam Stone Shi verkoop kan word.

Die gevolg was ’n dramatiese insinking in die prys en boere wat maande vir hul geld moet wag.

Die situasie is só benard dat minstens 20 desperate boere al hul eie lewe geneem het omdat hulle gedaan en uitgehonger was. Duisende boere het nie meer geld vir kos nie en moet ook hul kinders uit die skool haal omdat hulle nie die skoolfonds kan betaal nie.

Boere is ook besig om uit nood diere te verkoop en te slag. Die wat wel betaal is vir hul wol, het baie minder gekry as in die verlede.

Daar was geen oorleg met boere of moeite om die bedryf te verstaan nie. My hart bloei vir my mense.

Prins Seeiso Bereng Seeiso van Lesotho het die afgelope week in Matsieng, sowat 40 km van Ma­seru, aan Rapport gesê die regering se plan om die verkope van skaapwol en sybokhaar te nasionaliseer is nie goed deurdink of beplan nie.

“Daar was geen oorleg met boere of moeite om die bedryf te verstaan nie. My hart bloei vir my mense. Ek boer self en het geld verloor, maar ten minste kry ek ook ’n maandelikse salaris,” sê hy.

“Kerstyd was altyd so lekker in Lesotho, want dan het die meeste boere hul geld gekry en almal was gelukkig. Daar was ’n buzz. Maar nie verlede jaar nie. Almal was depressief en arm.”

Volgens die nuwe wetgewing mag wol en sybokhaar in Lesotho net aan ’n enkele makelaar verkoop word – dit nadat Lesotho se boere 44 jaar lank in die verkoopstyd (van middel Augustus tot Mei) hul wol deur Suid-Afrikaanse makelaars op die wolmark in Port Elizabeth verkoop het.

Sowat 12 000 Basotho-wolboere van Lesotho het Vrydag na hul parlement gestap uit protes teen die nuwe wetgewing op wolhandel wat hulle arm, honger en desperaat laat. Sowat 20 boere het glo al hul eie lewe geneem omdat hulle nie meer ’n bestaan kon voer nie.

Vir die meeste boere was dit hul enigste kontantinkomste.

Vrydag het sowat 12 000 desperate boere na die parlement in Lesotho geloop om te vra dat die wet geskrap word.

Dit volg nadat die regering vandeesweek aangekondig het dat boere ’n grasieperiode van drie maande gegun word om ook hul wol elders te verkoop – en nie net deur die Lesotho Wool Centre wat Shi net buite Maseru vir miljoene opgerig het nie.

Rapport was by die verkoopsentrum, maar is toegang ge­weier.

Khotsang Moshoeshoe, wat met sybokke boer, is verlede jaar vir 16 dae in die tronk gegooi omdat hy geweier het om sy wol aan Shi te verkoop.

“Dis eenvoudig. Hy het geen geskrewe koopkontrakte met boere aangegaan nie. Ek kan mos nie my kosbare kommoditeit aan hom lewer as ek nie weet wat ek in ruil gaan kry nie.

Prins Seeiso Bereng Seeiso van Lesotho in sy kantoor in Matsieng.

“Hierdie drie maande van grasie beteken niks nie. Dis ’n klug. Die enigste mense wat daarby gaan baat vind, is die Chinese. Dit is ’n skande.”

Clementi Letlala (38) sê hy en sy familie boer al 30 jaar lank met wolskape en het die laaste jaar gemiddeld tussen R47 000 en R53 000 verdien. Sy laaste woltjek was vir slegs R22 000.

Die minister van kleinhandel in Lesotho, Chalane Phori, een van die voorstanders van die nuwe wetgewing, sê egter Shi is ’n “kenner” op die gebied van wol.

“Die wol is ordentlik geklassifiseer by die sentrum in Lesotho en toe ook opgeveil,” sê hy.

Phori sê die boere moet die wet aanvaar en basta.

“Ons is tevrede met hoe dinge verloop en gaan die nuwe wet ná die grasieperiode permanent maak,” het hy Vrydag kort ná die optog gesê.

Hieroor skud prins Seeiso net sy kop.

“Jy sien, dis goed om Lesotho se ekonomie te wil versterk, maar dan moet jy dit op die regte manier doen, gegrond op ’n sinvolle sakemodel in oorleg met almal betrokke.”

Tsepo Leplese (17), ’n informele skaapboer van Lesotho, gaan waarskynlik binnekort nie meer kan skool toe gaan nie omdat hy nie geld gekry het vir sy wol nie en nie sy skoolgeld kan betaal nie. Hy boer al van ’n jong ouderdom. “Ons kry op die oomblik baie swaar.”

Hy sê daar is ander, dwingender probleme in die wolbedryf – soos kwynende grasvelde – wat getakel moet word.

’n Ram het in die verlede gemiddeld 5 kg wol gelewer, maar die afgelope 15 jaar gaan die kwaliteit agteruit as gevolg van swakker weiding.

Nou is die gemiddelde gewig sowat 2,5 kg.

Shi het deur ’n woordvoerder per teksboodskap gesê die boere wat deelgeneem het aan Vrydag se optog “was nie regte boere nie” en hulle “weet nie waarvan hulle praat nie”.

Isak Staats, wol- en sybokhaarbestuurder van die landboumaatskappy BKB, sê 10% van die wol wat hulle verhandel, kom uit Lesotho. Die land se besluit raak hulle dus ook en sowat 50 van hul wolsorteerders se werk is in die gedrang as gevolg hiervan.

Die afname in volume het ook ’n invloed op die koste van verwerking en verpakking – wat ook slegte nuus is vir Suid-Afrikaanse wolboere.

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Lesotho  |  Sybokhaar  |  Betogings  |  Wolbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.