Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
WhatsApp-groepe vir fietsryers om hulself te beskerm
Wimpie van der Merwe, ’n oud-Springbok-fietsryer wat al vyf aanvalle sedert 2017 oorleef het, sê fietsryers moet mekaar help en proaktief wees.

Nóg ’n fietsryer, nóg ’n aanval.

Die aanval Saterdag op Riaan Coetzee (52) in die Strand, waar hy met ’n vuurwapen gedreig en beroof is, het fietsryers laat besluit iets daadwerklik moet nou gedoen word.

Fietsryers in die Helderberg sê aanvalle is nie meer geïsoleerde gevalle nie en sindikate lê hulle voor op verskeie roetes.

Wimpie van der Merwe, ’n oud-Springbok-fietsryer wat al vyf aanvalle sedert 2017 oorleef het, sê fietsryers moet mekaar help en proaktief wees.

“Dit is onbillik om te moet wonder of jy lewend gaan terugkom by die huis nog voordat jy op jou fiets klim. As ons nie iets doen nie, gaan ons die vryheid verloor om te gaan fietsry,” sê Van der Merwe.

In die omgewing van die Strand, Gordonsbaai en Somerset-Wes neem die aanvalle op fietsryers toe en die vermoede is dat sindikate dié aanvalle beplan.

Van der Merwe sê in van die voorvalle waar sake by die polisie aanhangig gemaak is en verdagtes selfs in die hof verskyn het, is dit duidelik daar is so baie misdaad dat die polisie en justisie nie nog by die veiligheid van fietsryers ook uitkom nie.

“Die probleem is nie honger mense nie. Dit is die sistemiese gebrek aan polisiëring en voldoende strawwe vir aanvallers,” sê Van der Merwe.

So wat bly oor? Van der Merwe het dié vraag begin vra toe hy besef het dit help in werklikheid nie om te wag vir die polisie om iets te doen nie. Hy het die Facebook-groep Safe Cycling begin waarby fietsryers van die Strand en omliggende gebiede kan registreer.

Die probleem is nie honger mense nie. Dit is die sistemiese gebrek aan polisiëring en voldoende strawwe vir aanvallers.

Hierop skryf Van der Merwe: “Ons leef in tye wat verander. Ek aanvaar dit nie as die nuwe normaal nie. Geniet jou fietsry.”

Op Safe Cycling is daar skakels vir WhatsApp-groepe wat reeds gestig is vir die volgende gebiede gestig is:

• Stellenbosch, Paarl, Franschhoek (Wynlande);

• Kaapse Vlakte, die gebied tussen Kaapstad en Helderberg, Stellenbosch asook Bellville;

• Die gebied rondom Klipheuwel, wat die dele noord van die N2 en Durbanville tot by Melkbosstrand en Malmesbury insluit;

• Die suidelike voorstede van Kaapstad tot by Kaappunt; en

• Die noordelike voorstede van Kaapstad, oftewel die gebied tussen Bellville en die Kaapstadse middestad.

Van der Merwe sê verskeie nooddienste, veiligheidsmaatskappye en buurtwagte wat in die bepaalde geografiese gebiede diens doen, is op die WhatsApp-groep vir daardie gebied. Deur jou GPS-ligging na die bepaalde WhatsApp-groep te stuur vir die gebied waarin jy ry, word reaksie geaktiveer.

Die WhatsApp-groepe is vir aktiewe fietsryers en nie familie of vriende nie.

Fietsryers kan ook stemposse en liggings op die WhatsApp-groepe los van gebiede waar hulle verdagte optrede opmerk, sodat ander fietsryers gewaarsku kan word.

“Raad aan fietsryers soos om ’n wapen saam te vat, is nie prakties nie. Pepersproei help nie teen gewapende aanvallers nie. Maar mense soek oplossings,” sê Van der Merwe.

Die gevaargebiede verskil van dag tot dag en selfs op verskillende tye van die dag. Wanneer fietsryers mekaar ingelig hou wat op die roetes aangaan, kan hulle proaktief wees.

Van der Merwe sê die oplossing is nie dat fietsryers hul vryheid verloor en ophou fietsry nie, maar saamwerk om jou reg op vryheid terug te kry en jouself te beskerm.

Kry meer inligting by: Safe Cycling - https://www.facebook.com/groups/2417185215198496/

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.