Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wiid gekap oor ‘oningeligte’ uitsprake oor gays
Gretha Wiid, Christelike skrywer.Foto: Lisa Hnatowicz

Die Christelike skrywer Gretha Wiid word in sosiale media oor die kole gehaal oor die diskriminerende aanmerkings wat sy oor homoseksualiteit maak in ’n boek vir tieners.

Gielie Hoffmann, geestesbreier, oudonderwyser en berader, sê hy stel dokumente op om 'n klag by die Menseregtekommissie in te dien en moedig mense op Facebook aan om dieselfde te doen.

Wiid het onder meer in haar boek Lyfslim vir meisies geskryf dit is “hartseer” om homoseksueel te wees.

“Ongeag wat die redes vir homoseksualiteit is (of jy nou met my saamstem of nie), dit bly hartseer. Sulke mense kan nooit op die normale manier kinders hê nie. En sou hulle kinders aanneem, sal die kinders nooit die wonderlike voorreg hê om ’n pappa én mamma te hê nie,” lui ’n paragraaf in die boek.

Sy skryf ook ’n seun kan gay word “omdat hy nie liefde by sy pa kry nie, baie verneder word of heeldag geslaan en hard hanteer word”.

Sy skryf ook homoseksualiteit aan molestering toe.

Hoffmann sê Wiid mislei “kwesbare minderjariges” en dit is roekeloos om sulke uitlatings in ’n tienerboek te maak.

“Haar uitsprake is verdoemend en simplisties en sonder hoop vir ’n kind wat worstel. Sy gee ’n uitgediende taal en perspektief vir ’n nuwe generasie om hieroor te dink.”

Hy sê sy het nie die kundigheid om oor die onderwerp te skryf nie en is op geen manier ’n teoloog of ’n wetenskaplike nie.

Met haar uitlatings oor homoseksualiteit maak sy wilde afleidings oor molestering, kinders se verhouding met hulle ouers en fisieke mishandeling, sê hy.

“Sy versterk ook verder stereotipes rondom aktiwiteite soos skaak en klavier.”

Wiid het geskryf: “Ander seuns word weer deur simpel kinders gespot omdat hulle klavier of skaak speel en dalk niks van iets soos rugby hou nie. Kinders begin dan vroeg-vroeg al om hierdie seuns moffies te noem – ’n ander woord vir gay man.”

’n Foto van een van die bladsye in die Wiid se boek, Lyfslim vir meisies. Sy skryf ’n seun kan gay word omdat hy nie liefde by sy pa kry nie.
Nog ’n foto van een van die bladsye in die Wiid se boek, Lyfslim vir meisies. Sy skryf dis “hartseer” om homoseksueel te wees.
Gielie Hoffmann, geestesbreier, oudonderwyser, en berader.Foto: Argief

Tieners het nie noodwendig die nodige konteks en agtergrond om af te lei dat sy net een perspektief aan hulle stel nie, sê Hoffmann.

Hy sê ’n mens moet alle perspektiewe aan tieners stel om dié sensitiewe saak op so ’n jong ouderdom te hanteer.

“Hulle moet ook presies weet wat wetenskaplikes bevind het.”

Wiid het nie gereageer op vrae oor wat haar bevoeg maak om oor homoseksualiteit te skryf nie en het ook nie kommentaar gelewer op wetenskaplike bevindings oor homoseksualiteit nie.

Sy sê wel die boek is “Christelike jeuglektuur en as sulks vir ’n baie jong teikenmark in 2009 geskryf”.

Hoffmann sê dis juis een van die probleme en dat dit nie saakmaak wanneer dit geskryf is nie omdat die boek nou nog in winkels en op die internet te koop is.

“In die lig van die feit dat daar ’n hangende klag is oor standpunte in die boek, is die media nie die aangewese platform om die verhoor te voer nie en sal ek my standpunte mettertyd by die Menseregtekommissie, binne die grondwetlike konteks van vryheid van geloof, gewete en uitdrukking, motiveer en verdedig,” sê sy.

Meer oor:  Gretha Wiid  |  Sosiale Media  |  Skrywer  |  Gays  |  Gay  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.