Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wie gee opdrag vir waterkanon teen kwesbares, vra LUR
Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Malherbe Nienaber

Hy het steeds vrae nadat die polisie ’n verslag oor die optrede teen mense voor ’n kantoor van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) in Bellville oorhandig het, sê Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid.

Fritz sê sy vrae aan die polisie in die Wes-Kaap oor wie die eenheid vir openbare orde ontbied en opdrag gegee het dat ’n waterkanon gebruik word op mense wat tougestaan het, is onbeantwoord gelaat.

“Die verslag wat gelewer is, is net ’n geredigeerde, gedeeltelike weergawe van wat gebeur het, met die besonderhede van verskeie vrae wat weggelaat is,” het Fritz Woensdag in ’n verklaring gesê.

Baie mense het op 15 Januarie voor die Sassa-kantoor saamgedrom waar Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, besoek afgelê het.

Zulu het in dié tyd kantore besoek waar lang rye mense aangemeld is, om die vlak van dienslewering en nakoming van Covid-19-protokolle na te gaan en mense se klagtes aan te hoor.

Met haar besoek in Bellville het sy ’n beroep op die mense voor die kantoor gedoen om ’n veilige afstand van mekaar te handhaaf. Die polisie het ook mense gewaarsku.

Later is ’n waterkanon gebruik op van die mense voor die Sassa-kantoor.

Sassa het in die afgelope maand aan die Wes-Kaapse wetgewer verduidelik dat meer as 50 000 tydelike ongeskiktheidstoelae einde Desember in die provinsie verval het. Die provinsie het in die land die meeste van dié toelae wat op dieselfde tyd verval het.

Fritz sê hy staan by sy onvoorwaardelike veroordeling van die polisie se gedrag en hy sal alles waartoe sy toesigrol hom in staat stel, doen om uit te vind wie die opdrag daarvoor gegee het.

In die reaksie wat die polisie op Fritz se vrae op 28 Januarie verskaf het, word genoem dat die polisie die oggend ontbied is weens inligting dat ’n groep mense ten tyde van Zulu se besoek onwettig toegang tot die Sassa-kantoor in Bellville wou verkry.

“Die eenheid is ontplooi om die skare by die Sassa-kantoor te bestuur en dit is toe dat die waterkanon gebruik is om die mense uiteen te jaag.”

Die polisie sê ook in sy reaksie dat die afdwing van ’n veilige afstand tussen mense nie net sy verantwoordelikheid is nie, maar dié van elke departement en staatsentiteit.

Mense drom voor die Sassa-kantoor in Bellville saam tydens Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, se besoek op 15 Januarie. Foto: Jaco Marais

Die polisie het ook intern met sy lede in gesprek getree om hul rol in die afdwing van die regulasies ingevolge die ramptoestand uit te stippel.

Fritz sê die antwoord van die polisie maak steeds nie duidelik wie gevra het dat die eenheid ontplooi word en waarom dit nodig geag is om ’n waterkanon met ’n minister se besoek teenwoordig te hê nie.

“Dié vyandige optrede het die waardigheid geskend van talle kwesbare mense wat in die ry gestaan het.”

Hy vra ook waarom Sassa nie maatreëls gehad het om ’n veilige afstand tussen aansoekers te handhaaf en lang toue te verhoed nie.

Fritz sê hy sal die nasionale polisiebestuur en minister van polisie ook oor dié saak nader om sodoende oorsig oor die polisie se optrede uit te voer.

Bheki Cele, minister van polisie, het Woensdag ook erken dat die polisie “die bal laat val het” toe lede ’n waterkanon teen mense voor ’n Sassa-kantoor gebruik het.

Cele het vandeesweek met verskeie afdelingshoofde in die Wes-Kaap vergader en onder meer die voorval in Bellville bespreek vergeleke met hoe die polisie betogers op Kaapstad se strande hanteer het.

Hy het toe bevestig dat die polisie se optrede ondersoek word en hy het gevra dat ’n verslag opgestel word.

Zulu het ook verlede week gesê sy het nie die polisie opdrag gegee om die waterkanon op mense by die Sassa-kantoor te gebruik nie.

Sy het verlede Dinsdag in ’n verklaring beklemtoon dat sy ingegryp het om die polisie te keer nadat die mense wat saamgedrom het gewaarsku is om ’n veilige afstand te handhaaf.

Zulu het aantygings in die media en op sosiale media dat sy dié bevel gegee het en in ’n polisievoertuig “weggekruip” het, verwerp.

Meer oor:  Albert Fritz  |  Bheki Cele  |  Kaapstad  |  Waterkanon  |  Belville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.