Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Wie’s die man op my kind se foon?’

Die pa van ’n Noorweegse student wat al meer as ’n jaar gelede langs die Tuinroete verdwyn het, hoop nou dat foto’s en ander data wat op haar selfoon gevind is, hom kan help om sy dogter op te spoor.

Marie Ostbo kort voor haar verdwyning. In die agtergrond is die paadjie oor die sandduin.

Die 21-jarige Marie Ostbo, het in April verlede jaar op die strand by Sedgefield verdwyn. Die Noorweegse ambassade het haar selfoon by die polisie gekry en dit na Noorweë teruggestuur vir ontleding, waar Noorweegse kundiges toegang verkry het tot die inhoud daarvan.

Haar pa, Atle Ostbo, van Stavanger, ’n stad in die suidweste van Noorweë, sê hy wil nou self na Suid-Afrika kom om dié leidrade op te volg. Hy sê hy “voel verlore en soek antwoorde” en wil daarom self met die twee vissermanne, die Switserse paartjie, asook ’n man met ’n hond wat op sy dogter se laaste foto’s te sien is, gesels.

Marie en haar toergroep het op 18 April verlede jaar omstreeks 17:30 op Sedgefield aangekom. Hulle sou om 19:00 by die Pili Pili-restaurant langs hul hostel aandete eet. Dié eetplek is teen die strand, en Marie het voor ete op die strand gaan stap. Sy is nooit weer gesien nie. Haar selfoon en skoene en ’n pet wat nie aan haar behoort nie, is wel ure later aan die onderkant van die duin gevind.

Hy ‘voel verlore en soek antwoorde.’

Ostbo het aan Rapport gesê hy glo die man wat die afgelope week in Sedgefield in hegtenis geneem is in verband met die moord op sy buurvrou is dieselfde man in een van die laaste video’s wat sy dogter geneem het. Die 52-jarige Sean Kelly het Donderdag in die landdroshof op Knysna verskyn in verband met die moord op sy buurvrou Noreen Hampson. Hy woon in Marigoldstraat, sowat 2,7 km van die hostel waar Marie gebly het. Kelly het in sy hofverskyning erken dat hy Hampson vermoor het en is vir sielkundige waarneming verwys.

Ostbo sê ’n Noorweegse misdaadondersoekdiens, Kripos, het sewe maande ná sy dogter se verdwyning daarin geslaag om haar selfoon se wagwoord te ontsyfer. Ostbo hoop die video’s en foto’s wat sy dogter in die minute voor haar verdwyning geneem het, asook ’n selfoon-app wat haar treë meet, kan hom help om die geheim van haar verdwyning te ontsyfer.

Hiervolgens het sy ongeveer 500 m langs die see in Knysna se rigting gestap. Op die foto’s lyk die see kalm en stil, net voor die storm wat volgens weervoorspellers in aantog was. Op een video stap ’n paartjie – wat later geïdentifiseer is as twee Switsers wat saam met haar op toer was – verby haar en op ’n ander stap ’n man met ’n hond in dieselfde rigting as Marie. Op latere beelde het hy omgedraai en stap na haar toe.

Ostbo, wat die afgelope week foto’s van die gearresteerde Kelly op die webblad van ’n plaaslike koerant gesien het, sê hy is oortuig daarvan dat hy die man met die hond in die video is.

Op nog foto’s pak die onweerswolke verder saam. Ostbo sê die selfoon se GPS het ná 18:22 nie weer Marie se ligging geregistreer nie. Teen 18:45 het die storm die kus getref. Daar was ook ’n Snapchat-boodskap op haar foon wat nie gestuur is nie. Haar foon is uiteindelik 11 m teen die duin op en ’n meter van haar skoene gevind.

Ostbo sê die spanning oor hul dogter se verdwyning het die tol op sy huwelik geëis. Hy en sy vrou is sedertdien van bed en tafel geskei en hy bly nou in ’n woonstel naby sy vrou.

“My vrou klou vas aan die idee dat Marie verdrink het. Dié verduideliking maak dit vir haar makliker om oor haar verdwyning te kom, maar dit maak dit ook moeiliker vir ons om saam in een huis te bly. Ek het toe besluit om uit te trek.”

Axel Due, woordvoerder vir Kripos, het Dinsdag aan Rapport bevestig dat hulle die Suid-Afrikaanse polisie met die ondersoek bygestaan het, onder meer deur inligting van haar selfoon te ontgin.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê die man met die hond in die video is nie dieselfde man wat hierdie week in hegtenis geneem is nie.

“Geen bewyse kon gevind word wat enige vuilspel suggereer nie. Ons kon ook nie enige verband trek tussen die verdwyning van Marie en Sean Kelly, die verdagte in die Noreen Hampson-moordsaak nie.”

Hy sê die polisie is bewus van gerugte van ’n “verdagte man” wat destyds in die omgewing waar Marie verdwyn het, met sy hond gestap het.

Meer oor:  Atle Ostbo  |  Marie Ostbo  |  Sedgefield  |  Verdwyning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.