Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wiese-gesin steeds gebroke ná lieflingdogter se dood
Jasper, Japie en Cobus Wiese saam met hul suster, Maretha. Foto: Instagram/Cobus Wiese

“Dit is nou ’n moeilike tyd wat voorlê,” sê Elmarie Wiese, die ma van die geliefde Melkbos-juffrou wat vroeër vanjaar deur ’n bus doodgery is. Sy is ook die ma van die rugbybroers Cobus en Jasper Wiese.

“Kersfees lê voor en dit is ’n tyd van eerstes. Ons is ’n baie hegte familie en haar dood raak ons almal steeds diep,” sê sy oor haar dogter, Maretha van Dyk (29), wat in Augustus dood is.

“Dit is maar ’n deurmekaar tyd,” sê sy.

“Maar ons het nét mooi herinneringe van haar en ons koester dit elke dag.”

Cobus en Jasper speel onderskeidelik vir die Stormers en die Vrystaat-Cheetahs rugby. Hulle het nog ’n broer, Japie.

Elmarie sê hoewel hul gesin nog sukkel om die hartseer werklikheid te aanvaar, wéét hulle sy het haar lewe voluit geleef.

“Ons het groot vreugde met wat sy in haar 29 jaar vermag het. Daar is baie mense wat nie naby kan kom aan dit wat sy in haar leeftyd gedoen het nie.”

Japie, Elmarie, Jasper en Cobus Wiese.Foto: Instagram/Jasper Wiese

Sy sê hulle sal die Kerstyd by die huis, op ’n plaas sowat 70 km van Upington in die Noord-Kaap, deurbring. Maretha se man van amper vier jaar, Diviniis, gaan kuier eerskomende naweek vir hulle.

Elmarie sê sy wens sy kon haar seuns en familie se pyn ná die dood van hul suster wegneem. “Maar ek het al geleer dat elkeen maar hul eie pad moet stap, hoe moeilik dit ook al vir my is om hul swaarkry te sien.”

Sy sê hulle loop die pad met die wete dat hulle hul lieflingdogter weer gaan sien. “Ek weet sy kyk uit die hemel na ons. Dit wat sy nou ervaar, kan ons nie met ons verstand begryp nie,” sê Elmarie.

Maretha was ’n gr. 4-onderwyseres by die Laerskool Van Riebeeckstrand in Melkbosstrand. Op 30 Augustus het sy Diviniis naby Sunset Beach op die R27-pad gaan help waar hy motorprobleme gehad het.

Net nadat sy hom klaar gehelp het en op pad terug was na haar motor het die MyCiti Express-bus haar getref. Sy is op slag dood. Diviniis het dit gesien gebeur.

Elmarie sê Diviniis kry ook baie swaar sonder sy vrou. Op hul huweliksherdenking op 24 Oktober het hy in ’n boodskap op Facebook geskryf: “Gelukkige huweliksherdenking my liefling.

“Vandag is ons vierde huweliksherdenking, die eerste van vele dinge sonder die liefde van my lewe. Die laaste paar weke was baie moeilik vir my.

“Ek het my siel, my krag en my lewensbasis verloor. Ek raak deesdae kwaad omdat ek jou so oneindig liefhet. Ek het van die begin af geweet dat ek my hart vir jou wou gee, maar jy het my siel gekry,” skryf hy op Facebook.

Elmarie sê hulle was nog altyd gerus oor Maretha en Diviniis bymekaar. “Hy het haar so op die hande gedra. Hy het die grond aanbid waarop sy geloop het.”

Elmarie sê hul herinneringe aan hul dogter sal altyd kosbaar wees, en hul familie van oral oor sal mekaar in dié moeilike tyd ondersteun.

Meer oor:  Maretha Van Dyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.