Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Wie’t my uit die wasmasjien gered?’

Agt-en-dertig jaar gelede is sy as ’n pasgebore babatjie in ’n ou wasmasjien gesit wat op pad vullishoop toe was, maar ’n verbyganger het haar hoor huil en daar uitgehaal.

Kim Dimevski (38) is op 17 April 1981 as huilende pasgebore baba in ’n papiersak in ’n stukkende wasmasjien gevind. Foto: Deon Raath

’n Berig in die Rapport van 24 April 1981 vertel die storie: “ ‘Die verpleegsters kon haar nie Moses noem nie, toe noem hulle haar maar Miriam.’ Só gesels die matrone, mev. Cornelia Botha, van die Prinses Alice-aannemingstehuis oor die babadogter wat Vrydag deur mev. Johanna Hamblock gevind is.

“Mev. Hamblock het gesê ’n swart man het die baba in ’n papiersak by haar aangebring en vertel hoe hy die huilende baba in ’n verlate wasmasjien gevind het, blykbaar langs ’n pad in Greenside wat na die vullisterrein loop. Miriam is nou sewe dae oud en is onmiddellik nadat sy gevind is na die Johannesburgse Hospitaal geneem waar sy aarvoeding gekry het. Sy is nou perdfris en gesond.”

Vandag is die “baba Miriam” – oftewel Kim Dimevski – self ’n ma van twee kinders. Sy het altyd geweet sy is op eenjarige ouderdom aangeneem, maar dit was eers onlangs, nadat sy na haar biologiese ma begin soek het, dat sy op die koerantberigte van destyds afgekom het en besef het dat sý die babatjie in die papiersak binne-in die wasmasjien was.

“Nadat my seuntjie, Rafael (nou 11), gebore is, het ek besef ek ken nie enige van my bloedfamilie nie. Ek het besluit om te begin soek en die kinderwelsynsorganisasie genader om te hoor of hulle nie inligting het nie.

Die berig oor Kim wat in 1981 in Rapport verskyn het.

“Iemand het my toe gekontak en ’n afspraak gemaak, maar ek kon agterkom sy was versigtig oor hoe om die situasie te benader,” vertel Kim.

Die welsynswerker het toe vir haar al die ou koerantberigte gewys wat in 1981 oor haar geskryf is en gesê dis ál inligting wat hulle oor haar het. Hulle weet steeds nie wie haar ma was nie of hoe sy in die wasmasjien beland het nie.

Dit was vir Kim ’n reuseskok.

“Ek was so hoopvol en het verwag om antwoorde te kry, maar toe moes ek uitvind dat my ma my weggegooi het – asof sy net van my wou ontslae raak. Wie doen so iets?” Ook haar aanneemouers, Anthony en Adele Jossel, kon nie meer lig op die geheim werp nie.

Kim sê al wat sy kon vasstel, is dat sy, nadat sy gevind is, vir die eerste jaar van haar lewe in die Prinses Alice-aannemingstehuis in Westcliff, Johannesburg, versorg is – ’n tehuis wat vandag nog na babatjies omsien wat wag op aanneming.

“Nadat ek uitgevind het dat ek self as babatjie daar was, het ek as ’n vrywilliger daar gaan werk.

“Die ervaring was baie erg. Die realiteit is dat daar te min permanente personeel en geld is om vir die babas alles te gee wat nodig is. Ek kan onthou hoe hulle in hul kotte gehuil het, en al wat ek wou doen, is om hulle te troos, maar personeel het vir my gesê ek kan nie, want daar is nie genoeg mense om dit die hele tyd te doen nie en dan maak ek dit net erger,” vertel sy.

Weet jy iets?
As jy meer weet oor die “baba Miriam” of weet waar enige van hierdie mense vandag is, kontak Suzanne Venter by suzanne.venter@rapport.co.za.

Dit was moeilik om te verwerk dat sy eens op ’n tyd een van daardie huilende babas was.

Op ’n dag toe sy daar kom was daar ’n nuwe babatjie – ’n blondekoppie van so om en by een jaar oud wat haar baie aan haarself herinner het omdat sy ook as babatjie blonde haartjies gehad het. “Ek het myself die hele tyd in haar gesien en dit het my gebreek. Ek is daar weg en kon nog nooit weer teruggaan nie.”

Sy sê sy het vrede gemaak met die feit dat sy dalk nooit haar biologiese ma sal opspoor nie, maar sy hoop tog dat sy van haar bloedfamilie kan vind. Die mense wat sy wel baie graag sou wou ontmoet, is Johanna Hamblock, die vrou wat destyds in Green­side gebly het, en die onbekende man wat haar gevind het.

“Ek wil so graag vir die mense wat my lewe gered het dankie sê. En ek wil graag hê hulle moet weet dat ek ’n goeie lewe het.”

Meer oor:  Vondeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.