Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Willem Breytenbach verbreek stilte ná aantygings

Willem Breytenbach (55), wat die laaste drie weke in 'n reeks podsendings van die molestering van minderjarige seuns beskuldig word, het sy stilte verbreek.

Hy het by monde van 'n prokureur laat weet hy is by sy “moeder, wat siek en oud is en twee groot operasies ondergaan het". Hy is nie tans bereid om enige onderhoude toe te staan nie. Hy is tussen sy Kaapse huis en sy ma se huis en reis tussen die twee bestemmings - al van vroeg in die jaar - om soveel as moontlik tyd saam met haar te kan deurbring.

Hy sal sy volle samewerking gee met die ondersoek, sê Breytenbach. Hy vlug nie. Hy het nog geen regsverteenwoordiger op rekord nie en sal mettertyd in die Kaap verteenwoordigers aanstel.

p
Willem Breytenbach

Breytenbach, 'n oudonderwyser wat later topposte by Media24 in Kaapstad beklee het, word deur die polisie ondersoek weens die beweerde molestering van een of meer skoolseuns so lank terug as 20 jaar gelede.

Ná sy jare in die onderwys was hy onder meer 'n onderwysverslaggewer en nuusredakteur by Die Burger en het later ander senior poste in Media24 beklee.

In die tydperk van sommige van die beweerde voorvalle het hy die maatskappy se skoolkoerantprojek help bestuur.

Een van sy vermeende slagoffers, Deon Wiggett, het die bewerings oor Breytenbach die afgelope drie weke in podsendings in samewerking met News24 uitgesaai en op hul webblad gepubliseer. Wiggett is 'n kopieskrywer van Johannesburg.

In die derde episode, wat Donderdag uitgereik is, maak Wiggett Breytenbach se identiteit bekend nadat hy deurlopend nog na hom as "Jimmy" verwys het.

Wiggett vertel in die podsendings hoe sy ondersoek na nog vermeende slagoffers en Breytenbach self ontvou en sê onder meer hoe hy op ’n oudleerling en nog 'n beweerde slagoffer van Breytenbach afgekom het.

Die ondersoek lei Wiggett verder na ene Ned* op die LinkedIn-platform, wat hy aanvanklik kontak omdat hy dink dat Ned met sy ondersoek kan help.

Kort daarna kry Wiggett egter ’n uitnodiging van Breytenbach self om op LinkedIn met hom in verbinding te tree.

“Jimmy se uitnodiging om op LinkedIn in verbinding te tree, was ons eerste kontak in 22 jaar,” sê Wiggett.

Deon Wiggett
Verskaf

Hy aanvaar die uitnodiging en kry glo 'n boodskap van Breytenbach, wat in daardie stadium aan die stuur van sy eie sakeonderneming, Lightspeed Digital Media, in Kaapstad was.

“Deon. My vriend Ned sê jy is op soek na my,” lui die boodskap volgens Wiggett.

Wiggett reageer twee weke later, op Breytenbach se verjaarsdag: “Geluk met jou 55ste ... Willie.”

Hy verras Breytenbach só met sy noemnaam uit sy skooljare wat niemand glo meer gebruik nie.

Breytenbach reageer die volgende oggend en vra vir “raad” oor Wiggett se bedryf (die advertensiewese).

“Dit was toe dat ek besef Willem het ’n slegte nag gehad,” sê Wiggett in die podsending.

Hy noem ook dat hy later Breytenbach se kantoor gebel het om te probeer vasstel waar Breytenbach hom bevind – net om te hoor hy is met siekteverlof.

Breytenbach het ná die eerste podsending sy sosialemediarekeninge gesluit en Lightspeed Digital Media se deure is volgens Rapport om “finansiële redes" toegemaak.

Media24 reageer

Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, het die bewerings as “skokkend” beskryf en sê die maatskappy het sy eie ondersoek gedoen en geen rekord of bewyse gevind dat enige van die kwessies wat geopper is, of die aantygings wat gemaak is, tydens Breytenbach se dienstydperk by Media24 aangemeld is nie.

In sy volledige antwoord veroordeel Media24 ten sterkste enige vorm van geweld of mishandeling.

“Ons neem die verantwoordelikheid vir ons mense baie ernstig op en is toegewyd daaraan om 'n werksplek te bevorder wat veilig, gesond en vry van misbruik en teistering is. Ons het beleid en prosesse om sodanige klagtes te hanteer en voorvalle aan te meld.”

Media24 het bevestig dat Breytenbach tussen 1995 en 2014 by die maatskappy gewerk het, waarna hy bedank het om sy eie onderneming te begin.

“Media24 is, soos altyd, gewillig om ten volle met die owerhede saam te werk, sou dit nodig wees.”

Esmaré Weideman reageer

Esmaré Weideman, voormalige uitvoerende hoof van Media24, het aan News24 gesê sy was nie bewus van enige aantygings teen Breytenbach nie, maar sou sy daarvan bewus geraak het, “sou die aantygings so vinnig en volledig as moontlik ondersoek word”.

“As redakteur van Huisgenoot, YOU en DRUM het Willem nooit aan my gerapporteer nie, hoewel ons ’n hegte werkverhouding gehad het aangesien hy in daardie stadium die uitgewer van hierdie publikasies was. Ons het albei aan John Relihan, die voormalige uitvoerende hoof van die tydskrif-afdeling, verslag gedoen.

“In my hoedanigheid as redakteur, en in latere jare as uitvoerende hoof van Media24, was ek nooit bewus van enige klagtes van enige aard teen hom nie. Sy aanstellings of bevorderings is ook nooit as problematies by my of enigiemand in die verskeie spanne wat ek gelei het tydens my dienstydperk by Media24, aangemeld nie.

 “Ek volg die storie met groot belangstelling en is diep geskok oor die aantygings teen ’n voormalige kollega. As hierdie aantygings my as uitvoerende hoof of my mensehulpbronbestuurder sou bereik het, sou geen steen onaangeroer gewees het om dit so vinnig en volledig as moontlik te ondersoek nie.”

* Ned is 'n skuilnaam.

* Netwerk24 is deel van Media24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.