Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Winde besoek Brackenfell: ‘EFF moet hier wegbly’

Aan die EFF: Julle kan nie hierdie gemeenskap kom ontwrig nie. Julle moet wegbly.

So het Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, Dinsdag voor die Hoërskool Brackenfell gesê nadat hy met die skoolhoof en die beheerliggaam vergader het.

“Ons moet nou politiek hier uithou en die leerlinge, veral matrieks, toelaat om hul jaar veilig te voltooi. Hierdie tipe ontwrigtings is onaanvaarbaar,” sê hy.

Hy sê die skool is in die proses om ’n interdik te bekom teen die EFF om hul wetlik te dwing om van die skoolomgewing weg te bly. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het dit bevestig.

“Matrieks het reeds ’n ontwrigtende jaar agter die rug. Wat Maandag gebeur het, was onwettig en ons sal dit nie duld nie,” sê Winde.

Dit kom nadat die polisie Maandag skokgranate gebruik het om betogers en gemeenskapslede uitmekaar te jaag. Geweld het uitgebreek en van die EFF-lede is glo beseer.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, en Alan Winde, premier, Dinsdag voor die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR van onderwys, sê daar is nie eens oorweeg om die skool te sluit nadat skokgranate en geweerskote Maandag daar geklap het nie.

“Ons gaan nie toelaat dat ’n skool gesluit word as gevolg van ’n groep mense wat ’n ander uitkyk op dinge het nie,” sê sy. “Dit is eenvoudig nie hoe ons dinge doen nie.”

Schäfer sê sy verwag ’n volledige verslag oor die aard van die betrokke matriekpartytjie, maar sê dat dit voorlopig voorkom asof dit ’n private geleentheid was wat geensins op grond van ras gediskrimineer het nie.

Winde het alle geweld buite die skool ten sterkste veroordeel en sê hy het dit met die provinsiale polisiekommissaris bespreek.

“Burgers het mekaar aangeval. Dit mag nie gebeur nie. Die skuldiges moet in hegtenis geneem word.”

Winde sê hy het genl. Yolisa Matakata, die kommissaris, gevra om te verseker dat daar Dinsdag polisieteenwoordigheid by die skool is. Daar is aan sy versoek voldoen, sê hy.

Benewens die polisie het verskeie gemeenskapslede en ouers weer Dinsdag naby die skool bymekaargekom. Een man, wat nie sy naam wou gee nie, het gesê hulle is nie daar om te baklei oor ras nie, maar om die skoolkinders te beskerm en toe te sien dat hulle hul eksamen veilig kan aflê.

’n Handjievol lede van Cosatu en die ANC was teenwoordig by die skool en die polisie het die situasie gemonitor. Teen omstreeks 12:00 was die meeste omstanders weg. Die EFF was glad nie daar nie, maar het beloof om Woensdag teenwoordig te wees by die hofverskyning van ’n 39-jarige man wat Maandag weens openbare geweld in hegtenis geneem is.

Meer oor:  Alan Winde  |  Debbie Schäfer  |  Brackenfell  |  Da  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.