Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wit armes hul droom kwyt

Die droom van ’n veilige tuiste aan die Wes-Rand waar wit haweloses hulself kan onderhou, lê aan skerwe nadat Sunette Bridges, wie se geesteskind dié projek was, haar daaraan onttrek het.

Gerrit van Niekerk en sy vrou, Anita, woon al ‘n jaar lank op Kleinvallei. Hy doen elke dag tussen 07:00 en 16:00 los werkies en instandhouding op die plaas in ruil vir kos en verblyf. Foto: Wikus de Wet

Die eertydse sangeres woon deesdae in Amerika saam met haar vyfde man, Chris Roets. Maar op Kleinvallei, die plaas naby Krugersdorp wat Bridges in 2015 vir die haweloses gekoop het, heers daar onsekerheid oor die toekoms.

Bridges het in Junie vanjaar die koopkontrak vir Kleinvallei gekanselleer. Die plaas behoort tegnies steeds aan Ingrid Beetge (64), die vorige eienaar. En sy sit nou met die gebakte pere – 48 mense sonder ander heenkome van wie net twee gesinne die huurgeld van sowat R600 per maand betaal.

Bridges woon deesdae in die VSA.

Rapport verneem dit kos sowat R50 000 per maand om die eiendom te onderhou. Net die elektrisiteitsrekening vir die nedersetting beloop tussen R15 000 en R28 000 per maand. Sedert Junie moes Beetge dit betaal.

Bridges het nie gereageer op e-pos-versoeke vir kommentaar nie. Beetge het via haar prokureur, Ria van Niekerk, bevestig dat Bridges die kontrak eensydig per e-pos gekanselleer het. Sy het in Mei haar laaste paaiement van R100 000 betaal.

Lanese Hough (34) en haar man, Johan, bestuur sedert begin Augustus die Kleinvallei-nedersetting (onder) naby Krugersdorp. Foto’s: Wikus de Wet

Sunette het die plaas aanvanklik vir R9,2 miljoen by Beetge gekoop in die naam van die Bridges Musiek Trust. Sy sou die koopbedrag in 84 paaiemente vereffen. Teen Mei het sy reeds R3,5 miljoen afbetaal.

Van die oorspronklike plan om Kleinvallei ’n selfonderhoudende plaas te maak, het min gekom. Die perd en die paar hoenders op die werf is beswaarlik genoeg om enigeen te onderhou.

Die inwoners woon in houthutte in ’n halfsirkel om ’n grasperk met ’n vuurmaakplek. ’n Paar meter verder staan nog ses asbeshuisies. Die enigste luukse hier is die DStv-skottels by tien van die huise.

Lanese Hough (34) en haar man, Johan (38), bestuur die plaas sedert 1 Augustus en woon in die plaasopstal. Party van die inwoners help met instandhouding in ruil vir kos en verblyf, sê Lanese. Net twee huishoudings betaal die maandelikse huur van sowat R600.

Kos kom meestal van skenkers en water uit die boorgat.

Sunette Bridges

Die droom van Kleinvallei het begin toe die munisipaliteit van Mogale City (Krugersdorp) besluit het om die Kroningspark-woonwapark in die stad te sluit. Die armlastige permanente inwoners van die woonwapark is die opsie gegee om te trek na die nabygeleë Munsieville-township. Die wit plakkers wou egter nie swart plakkers as bure hê nie en Bridges het tot hul redding gekom.

Aanvanklik het 82 mense hulle op 9 Desember 2014 op Kleinvallei gevestig. Vandag is 48 van hulle oor.

Gerrit van Niekerk (48) en Francois Peach (37) doen los werkies en instandhouding in ruil vir kos en verblyf op Kleinvallei. “Ons werk elke dag van die week van 07:00 tot 16:00. Johan en Lanese kyk mooi na ons en na die plaas. Die toekoms lyk rooskleurig,” sê Gerrit.

Volgens nog twee inwoners van die nedersetting, wat nie hul name genoem wil hê nie, was hulle onder die indruk dat Bridges die grond kontant gekoop het en dat hulle altyd daar sal kan bly al het sy Amerika toe getrek.

“Sy het vir ons almal gesê die grond is met erfgeld gekoop en ons sal altyd hier ’n heenkome hê solank ons by die reëls hou,” het die een van hulle gesê.

Meer oor:  Sunette Bridges  |  Plakkers  |  Witmense  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.