Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wit en bruin Afrikaanses kry meer babas

’n Toename in die aantal babas wat wit en bruin Afrikaanssprekendes kry, is een van die redes waarom albei dié bevolkingsgroepe se getalle oor die volgende paar jaar gaan toeneem.

Dít is een van die bevindings in die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se verslag oor die demografiese tendense van Afrikaanssprekendes wat Woensdag in Centurion bekend gemaak is.

Ander aspekte wat die bevolkingsgetalle raak, is emigrasie en verengelsing.

Die navorsing toon Afrikaanssprekendes se getalle gaan teen 2031 tot net meer as 7 miljoen styg, wat bykans 270 000 meer as die nasionale sensus in 2011 is.

Die Afrikanerbevolking sal wel daarna begin verminder, maar teen ’n veel stadiger tempo as wat vroeër verwag is.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die verslag wys dat wit en bruin Afrikaanssprekendes nie in die voorsienbare toekoms sal verdwyn nie.

“Die bevindings is verrassend, want daar het ’n persepsie ontstaan dat veral die wit Afrikaanse bevolkingsgroep aan die afneem is. Die emigrasiesyfer van Afrikaanssprekendes is nie so hoog soos wat sommiges verwag het nie en dit blyk nou dat baie selfs uit die buiteland terugkeer,” sê Hermann.

Hy sê die nuwe inligting sal help om te beplan watter soort gemeenskapsdienste soos skole en tersiêre onderwysinstellings in die Afrikaanse gemeenskap benodig word.

Die verslag wys ook dat die getal geboortes van wit Afrikaanssprekendes ná 1994 begin afneem het. Maar voor die 2011-sensus het wit Afrikaanssprekendes meer kinders begin kry en dit blyk dat dié tendens voortduur.

Om die verskynsel te bevestig is doopsyfers van die drie gereformeerde kerke in Suid-Afrika aangevra. Uit die data blyk dit dat die getal dope per lidmaat sedert 2003 sterk toegeneem het.

Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, het dié “klein baba-ontploffing” verreikende gevolge vir instellings en kultuurorganisasies.

“Vanweë die groter aantal kinders was daar ná 2011 ’n toename in kleuterskole en ’n groter vraag na laerskole in Afrikaanse gebiede,” sê Mulder.

Die bruin Afrikaanssprekende bevolking sal toeneem tot 3,6 miljoen in 2021. Teen 2041 sal daar 3,7 miljoen bruin Afrikaanssprekendes in die land wees.

“Die aantal Afrikaanssprekendes is egter besig om proporsioneel teenoor die res van die bevolking in Suid-Afrika af te neem omdat ander bevolkingsgroepe vinniger groei.”

Die getal wit Afrikaanssprekendes sal luidens die verslag van 2011 af met 40 000 tot 2,75 miljoen in 2021 toeneem.

“Die Afrikanerbevolking sal wel daarna begin verminder, maar teen ’n veel stadiger tempo as wat vroeër verwag is.”

Volgens Mulder bly dit kommerwekkend dat die wit Afrikaanssprekende bevolkingskoers 1,57 kinders per vrou is. Die handhawingskoers van ’n bevolking is 2,1 kinders per vrou. Hy sê dit is ’n wêreldwye tendens in ontwikkelde lande wat onder meer daaraan toegeskryf kan word dat werkende ma’s minder kinders kry.

Die bruin Afrikaanssprekende bevolking sal toeneem tot 3,6 miljoen in 2021. Teen 2041 sal daar 3,7 miljoen bruin Afrikaanssprekendes in die land wees.

Luidens die verslag verengels bruin Afrikaanssprekendes teen dieselfde tempo wat wit Afrikaanssprekendes emigreer.

Die navorsing wys ook dat die getal swart Afrikaanssprekendes ’n sterk bevolkingsgroei toon en van sowat 600 000 in 2011 tot 675 000 in 2041 sal toeneem.

Meer oor:  Babas  |  Geboortes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.