Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wit poeier in poskantoor dalk bestanddeel in jogurt

Die wit stof wat Donderdag ’n konsternasie in die Witspos-hoofposkantoor in Johannesburg veroorsaak het, is moontlik ’n bestanddeel van jogurt.

Nadat die stof Donderdagaand uit ’n pakkie geval het, is die sortering van nuwe pos tydelik gestaak uit vrees dat dit skadelik kan wees.

Luidens ’n verklaring van die Poskantoor het 18 werkers wat met die wit poeier in aanraking was, siek geraak.

Die werkers se simptome het braking en koors ingesluit.

Volgens die Poskantoor blyk dit nou dat die stof skadeloos kan wees nadat die ontvanger van die pakkie bevestig het dit is jogurtpoeier uit Amerika. Die toetsuitslae om dit te bevestig, word egter nog ingewag.

Johan Kruger, woordvoerder van die Poskantoor, het vroeër in ’n verklaring gesê die sorteringsdienste is as voorsorgmaatreël opgeskort.

As ’n stof moontlik skadelik is, moet die gebied ontruim word sodat ’n ondersoek gedoen kan word. Die polisie en die gesondheidsdepartement moet ook in kennis gestel word.

“Die gebied is afgesper sodat die pakkie ondersoek kon word. Ons het toe agtergekom dat 18 van ons werkers, wat in aanraking met die pakkie gekom het, siek geword het. Hulle is onmiddellik hospitaal toe geneem,” lui die verklaring.

Hulle is egter vinnig ontslaan en gesond genoeg verklaar om terug te keer werk toe.

Die Poskantoor het Vrydag aan Netwerk24 bevestig dat die werkers vir hul aandskof sal inval. Die hele gebied is ook deeglik ontsmet.

Indien die pakkie veilig verklaar word, sal dit aan die ontvanger besorg word.

Tobias Fourie, direkteur van Limpopo Melkery, sê ’n mens kry ’n soort melkpoeier waarvan jogurt gemaak word.

Dié poeier bestaan uit melkpoeier, stabiliseerders en stysel.

“Dit word vir menslike gebruik gemaak, so dit behoort veilig te wees, tensy iemand allergies vir suiwelprodukte is,” sê Fourie.

Eugene du Plessis, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, sê mense kan ’n psigosomatiese reaksie hê indien daar ’n persepsie bestaan van ’n gevaarlike situasie.

“Die brein is magtig en kan iemand maklik oortuig van dinge, al is dit nie so nie. Kyk maar na die voorbeeld van die plasebo-effek,” sê Du Plessis.

Hy sê dit is egter belangrik om te onthou dat gewone angs, soos werkangs, mense maagkwale kan gee.

“Hierdie geval was dalk ’n kombinasie van vrees vir iets soos die koronavirus én stres oor werk,” sê Du Plessis.

Die polisie en Johannesburg se nooddienste het nie onmiddellik op navrae oor die voorval gereageer nie.

Meer oor:  Poskantoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.