Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Nóg Vrystaatse dorpe brand – oproer, woede kring uit

Die onluste in die Vrystaat kring uit met oproerige mense wat moles begin maak in nóg dorpe in die omgewing van Winburg. Die polisie het Dinsdag met traangas gereageer en het met rubberkoeëls op oproermakers geskiet.

Terwyl dit Dinsdag stiller was in Winburg, het dinge in en om Theunissen handuit geruk. Paaie is gesluit deur ’n woedende skare mense, terwyl die winkels van buitelanders geplunder en leeg gesteel is.

Dis oorlog in die Vrystaat. Die R30 tussen Brandfort en Theunissen is deur die oproerige skare met klippe en ander voorwerpe toegepak tydens die onluste Dinsdag. Die Njala-voertuie van die polisie se eenheid vir openbare orde was oral te sien. Foto: Mlungisi Louw

Dit is nie duidelik waaroor dié mense so kwaad is nie, maar daar word gesê hulle staan saam met hul buurdorp Winburg se mense, wat kwaad is omdat pres. Cyril Ramaphosa se beoogde besoek op 27 April aan dié dorp afgestel is.

Winburg was stil, sê Pieter Rossouw, Netwerk 24 se korrespondent op dié dorp. Min mense het egter gaan werk weens intimidasie en vrees dat hul huise afgebrand gaan word.

Die N1 wat verby Winburg loop en wat vroeër deur die oproeriges gesluit is, was Dinsdag weer oop vir verkeer, maar daar was ’n swaar polisieteenwoordigheid op die dorp self en langs die N1.

Intussen is vyf skole in Winburg, asook die munisipale kantore, gesluit.

Die polisie skiet met rubberkoeëls op inwoners van Theunissen en die township waar onluste ook Dinsdag uitgebreek het. Foto: Mlungisi Louw

Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, het bevestig die Gekombineerde Skool Winburg en sy koshuis, die Winburg Pre-Primary School, die Ipopeng Secondary School, Naledi High School en die Thlonganyeng High School is gesluit.

Leerlinge sal waarskynlik eers in Mei terugkeer.

“Ons skole kry reeds swaar weens Covid-19 en nou is daar nog onluste ook. Dit is ’n dubbele slag,” sê hy.

Pule Tsekedi, munisipale bestuurder van die Masilonyana-munisipaliteit (Winburg, Theunissen, Brandfort en Verkeerdevlei), het ook laat weet die munisipale kantore is tot verdere kennisgewing gesluit omdat die protesaksies in Winburg en Theunissen ’n groot invloed het op dienslewering en die veiligheid van werknemers.

Die polisie verjaag ’n klomp molesmakers in die Vrystaatse dorp Theunissen, waar groot oproerigheid uitgebreek het omdat pres. Cyril Ramaphosa nie meer na Winburg, die buurdorp sowat 39 km daarvandaan, kom nie. Foto: Mlungisi Louw

Mlungisi Louw, fotograaf van Netwerk24, was in Theunissen, sowat 39 km van Winburg, en die township Makeleketla, nadat die onluste daarheen oorgespoel het.

Talle mense daar het aan hom gesê hulle staan saam met Winburg se inwoners dat die president die Masilonyana-munisipaliteit op Vryheidsdag behoort te besoek omdat beloftes vroeër daaroor gemaak is.

Die inwoners van Theunissen en sy townships, soos Masilo, Lusaka, Tshepong en ander, is woedend. “My motor is met klippe bestook toe ek net wou gaan hoor wat aan die gang is,” sê Louw.

Oproermakers gooi klippe en steek bande in die pad aan die brand. Baie van dié mense was jeugdiges. Foto: Mlungisi Louw

Hy sê die winkels van buitelanders is ook geplunder, terwyl die R30 tussen Brandfort en Theunissen vir ’n lang tyd gesluit was. Dié pad is nou weer oop.

Marieta Visser, DA-raadslid van Theunissen, sê die situasie is onseker en niemand weet presies wat die agenda is nie.

Dit maak nie sin dat winkels in Theunissen beroof word omdat die president nie Winburg toe kom nie.

“Leerlinge van die Concordia High School het Maandag die Theunissen Combined School gaan ontwrig en van die leerlinge is erg getraumatiseer,” sê sy.

Traangas en rook net waar jy kyk. Die polisie reageer Dinsdag in Theunissen met rubberkoeëls en traangas toe inwoners oproerig raak. Foto: Mlungisi Louw

Thandi Mbambo, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het ook Dinsdag gesê die onluste van Winburg, Theunissen en Ventersburg hou glo verband met mekaar en dat daar ook verlede week onluste in Zastron in die Suid-Vrystaat was. “Ons weet nie wat die rede is nie, maar probeer die situasie ontlont.”

Intussen het Zolile Lobe, woordvoerder van die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake, waaronder munisipaliteite val, gesê onluste word ook van Woensdag af in Botshabelo buite Bloemfontein verwag.

Die polisie en die oproerige mense raak slaags. Foto: Mlungisi Louw

Inwoners daar soek werk en meer sakegeleenthede. Hulle sê Ramaphosa se besoek aan dié gebied op 27 April om onder meer die Charlotte Maxeke-rehabilitasiesentrum vir dwelmverslaafdes te open, gaan niks vir hulle beteken nie. “Dit is die buitelanders se kinders wat daar gehelp gaan word.”

Lobe sê die mense van Botshabelo wil ook hê die buitelanders moet uit Botshabelo gesit word.

“Ek dink die vlaag onluste in die Vrystaat het eerder met politiek as met dienslewering te doen," sê hy.

Brande soos dié is op verskeie plekke in Theunissen se strate gestig. Foto: Mlungisi Louw

’n Ingeligte bron het daarop gewys dat een faksie in die ANC gedreig het om die hele land tot stilstand te bring. “Ek dink dit is wat nou hier gebeur, maar dit word dorp vir dorp gedoen om die Vrystaat en moontlik die hele land te destabiliseer,” het hy gesê.

Oproerige mense takel ’n winkel van ’n buitelander. Verskeie winkels is gestroop van alles wat waarde het. Foto: Mlungisi Louw
Die rakke van ’n buitelander se winkel in Theunissen is kaal gestroop. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Pule Tsekedi  |  Vrystaat  |  Oproer  |  Dorpe  |  Dienslewering  |  Brand  |  Woede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.