Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Woensdag: ‘Hoe gaan ons RSG op lug hou?’

Die jarelange krisis by die SAUK is die afgelope week op die spits gedryf toe die korporasie uit die bloute aangekondig het duisende van sy werknemers moet vir hul poste heraansoek doen.

In reaksie op dié nuus het Magdaleen Krüger, stasiebestuurder van RSG, Woensdagmiddag op die aktualiteitsprogram Spektrum gesê: “Ná 1 Januarie weet ek nie wat ons gaan maak om die stasie op die lug te hou nie.”

Dit volg nadat personeel “baie kil en koue” briewe ontvang het dat die stasie herstruktureer word en dat almal van 1 Desember moet heraansoek doen vir hul poste.

RSG is een van 11 openbare (niekommersiële) radiostasies onder die SAUK-sambreel wat almal in die gesig gestaar word deur dieselfde krisis. Twaalf van RSG se 14 permanente werknemers het afleggingsbriewe ontvang.

’n Dag ná haar emosionele aankondiging het Krüger teruggekrabbel en gesê dit is “kwaadwillig en fopnuus” om aan te voer die stasie gaan ophou bestaan.

Sonder om die “kwaadwillige” ander radiostasie te identifiseer wat dít doen, het sy uitgevaar teen “politieke opportuniste” wat die herstrukturering by die SAUK gebruik as ’n “reklamefoefie om luisteraars te trek”.

Dit was ’n onverbloemde verwysing na Pretoria FM, ’n radiostasie onder die Solidariteit/AfriForum-sambreel se pogings om munt te slaan uit haar uitsprake van Woensdag.

Ons mag nie toelaat dat Afrikaans se stem stil raak nie.

Willie Spies, uitvoerende hoof van Pretoria FM, het Donderdag in ’n WhatsApp-boodskap aan AfriForum-lede gewaarsku wanbestuur gaan die einde van ’n “eeue oue trotse Afrikaanse uitsaaier” beteken.

“Ons mag nie toelaat dat Afrikaans se stem stil raak nie. Ons moet ’n alternatief bou. Pretoria FM bou tans ’n landswye netwerk van Afrikaanse gemeenskapstasies wat groter, sterker, beter en meer volhoubaar as die SABC se dienste kan wees.”

Dis afgesluit met ’n beroep op hul lede om geld vir hul pogings te skenk.

Magdaleen Krüger

Krüger het in haar onderhoud Donderdag gesê daar wag ’n blink toekoms vir RSG én Afrikaans by die SAUK. RSG, met meer as 1,3 miljoen luisteraars, is een van die tien grootste radiostasies in die land.

“Dit is ’n pluimpie vir RSG en vir Afrikaans omdat RSG se luisteraars so lojaal is. Daar kan selfs in die toekoms ’n uitbreiding van RSG en Afrikaanse radio kom.”

Sy het toe verduidelik dit is nie net RSG wat deur die besnoeiings geraak word nie.

Krüger en haar sekretaresse is die enigste permanente personeellede by die stasie wat nie afleggingsbriewe gekry het nie.

Die vyf vaste omroepers, Martelize Brink, Haidee Muller, Johan Rademan, Jacqui January en Fritz Klaaste, asook Kobus Burger (uitvoerende regisseur vir drama) en Sharifa Swartz, uitvoerende regisseur vir opvoedkundige programme, se poste is in gevaar. Anita Visser, Suzanne Paxton en die res van die Monitor/Spektrum-span is deel van die nuusredaksie, maar word ook deur die afleggings geraak.

Martelize Brink

Krüger het in haar eerste onderhoud Woensdag verduidelik werknemers kan vir nuwe poste aansoek doen en sal die poste hopelik kry.

“Dit is egter nie te sê die poste gaan op dieselfde skaal met dieselfde salarisse wees nie. Inteendeel, dit sal laer wees, want dit is alles deel van die besparings.”

Sy het gesê RSG het twee keer voorleggings gemaak, wat geïgnoreer is. “Die radiostasies is in Julie of Augustus bymekaar geroep en daar is ’n ding op die skerm gegooi van hoe die nuwe struktuur gaan lyk.”

Sy het gesê daar is poste in die organogram ingesluit wat nie meer nodig is by RSG nie, maar ander is besnoei wat weer nodig is.

“Dit is ’n one size fits all-struktuur wat baie sterk na die kommersiële kant toe leun.”

Sy het gesê só ’n benadering kan nie werk nie. “Ons is 11 stasies met 11 kulture en 11 tale.

“Dit help nie ons gaan in ’n nuwe struktuur en die nuwe struktuur is nie eintlik iets wat kan werk nie. Ons probeer bestuur sover kry om na ons te luister oor die probleempunte en waar daar uitdagings is.”

Fritz Klaaste

’n Dag later het sy egter beloof die stasie se vyf vaste omroepers sal steeds op RSG gehoor word – ten spyte van die afleggings – maar as vryskutte, eerder as vaste werknemers.

Sy het toe gesê sy hoop dié proses sal teen 1 Januarie afgehandel wees sodat RSG soos normaal kan voortgaan.

Foeta Krige, afgetrede uitvoerende regisseur van RSG se nuusaktualiteitsprogramme Monitor en Spektrum, sê die jongste besluite is geneem deur mense wat nie die openbare uitsaaier se mandaat verstaan nie.

“Die herstrukturering moet nie bloot gaan oor kostebesparings nie, maar oor die verbetering van dienste en bestuur. Die nuusspan sukkel reeds om sy mandaat uit te voer soos om uit te gaan op stories en om onderhoude in persoon met mense te voer.

“Hulle kan nie meer mini-dokumentêre soos in die verlede vervaardig nie. Onderhoude word al hoe meer telefonies gedoen en onderhoude word uitgerek om tyd te vul.”

RSG is deel van die SAUK se openbare uitsaaidiens wat ingevolge sy lisensievoorwaardes ’n minimum persentasie opvoedkundige, godsdienstige, drama-, dokumentêre en nuusprogramme moet uitsaai.

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) kan die SAUK swaar beboet as hy dié lisensievoorwaardes oortree.

Meer oor:  Herstrukturering  |  Sauk  |  Afleggingsbriewe  |  Rsg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.