Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Woestyn toe sodat ander water kry
David Barnard in Hammanskraal met die Hippo Roller- rolbare watertenks.

David Barnard (49) van Fairland, Johannesburg, begin Saterdag oor sandduine, rots- en kleiterreine die voorlaaste uitdaging op sy emmerskop-lysie, en dit ten bate van Suid-Afrikaners wat nie vrye toegang tot water het nie.

Barnard, ’n deurwinterde drawwer, gaan 250 km aflê tydens die Big Red Run in die Simpson-woestyn in Australië. Dit is sy negende woestynwedloop op sy sesde vasteland – vir sy mikpunt van tien woestynwedlope op sewe vastelande lê nog net Europa voor.

“Dit sal voor 2020 wees,” vertel Barnard, ’n konsultant wat in die afgelope 20 jaar betrokke was by verskeie plaaslike en internasionale nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat fokus op ontwikkelingsuitdagings in Afrika.

Die Australiese woestynwedloop is ongetwyfeld een van die mees ekstreme op die sewe vastelande. Wikipedia beskryf die Simpson-woestyn as die wêreld se grootste sandduinwoestyn met ’n oppervlakte van 176 500 km2. Barnard het Maandagaand gevlieg.

Met dié projek poog Barnard om verhoogde bewusmaking te skep vir waterkwessies wêreldwyd met ’n sterk klem op Suid-Afrika ten doel om geld in te samel vir Hippo Roller. Met die Hippo Roller- rolbare tenks kan mense in gemeenskappe wat nog nie waterkrane in of by hul huise het nie, die water in ’n tenk aanrol eerder as om swaar emmers te dra. Die rolbare tenks kan 90 liter water berg.

Barnard beoog om nagenoeg R80 000 deur skenkings in te samel (givewater.hipporoller.org/david-barnard).

David BarnardFoto: Johan Brits

“Volgens Statistieke Suid-Afrika het amper 90% mense in hierdie land toegang tot water in ’n pyp, met ander woorde water wat jy kan drink, maar minder as 50% het daardie water waar hulle woon. Dit beteken hulle het nie ’n kraan wat jy in jou huis kan oopdraai nie.”

Hy noem as voorbeeld Hammanskraal anderkant Pretoria waar daar in ’n spesifieke gemeenskap met minstens 4 000 mense net een gemeenskaplike waterpunt is met drie krane. Boonop was daar met sy besoek twee weke gelede by dié waterpunt nie water nie.

Barnard is fisiek en emosioneel gerat vir die Big Red Run-woestynwedloop. In die eerste drie dae word 42,1 km per dag afgelê, op dag vier 31 km, daarna 84,39 km op die vyfde dag en 8 km op die laaste dag.

“Die woestyn het die wêreld se langste, nie hoogste, sandduine. Dit is taai, al is jy hoe goeie atleet.”

“Kyk, as jy in Johannesburg bly, het jy nie woestyntoestande waar jy kan oefen nie. Dit was dieselfde soos toe ek Antarktika toe gegaan het, waar oefen ’n mens werklik hier? Die goed wat jy kan beheer, is die fisieke voorbereiding – hardloopfiksheid, om soveel as moontlik te leer oor waarheen jy gaan.”

Oor die afgelope vyf en ’n half maande het Barnard ter voorbereiding bykans meer as 2 000 km op pad en ander hardloopterreine afgelê.

Hy sê dit is vir hom belangrik om na sy voete om te sien omdat die wedloop “swaar is op ’n mens se voete wat betref blase”. Hy sê die tegnologie het darem baie verbeter teenoor vyf, ses jaar terug met die soorte skoene en sokkies wat vandag beskikbaar is.

“Kos is maar altyd ’n issue – alles gaan oor, wat ek noem, gewig teenoor substansie. Omdat jy alles moet saamdra, moet alles wat jy inneem die maksimale impak gee. Dit gaan alles maar oor poeiers, of wat ek noem, plastiekkos. Baie keer vat mens kanse met biltong en droëwors vir die proteïene, maar in Noord-Amerika het ek nie glad ’n kans gewaag om dit in te pak nie en in Australië kan jy nie ’n kans waag nie.”

Hy sê in dié soort wedlope word ’n mens getoets – “as dit nie fisiek is nie, smokkel dit met jou kop”.

“Jy kan die beste atleet wees, maar as jou kop nie wil nie, gaan jy nie vorentoe nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.