Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wolk hang oor SAL-kaartjies

Leslie Matuson, sakereddingspraktisyn wat die SAL van ondergang moet red, sê hy kan nie vliegkaartjies van die wankelende lugdiens waarborg nie.

“In dié stadium is ek in onophoudelike vergaderings om my van die toestand by die SAL te vergewis. Enige waarborge of versekerings wat ek oor vlugkaartjies gee, sal nie op feite gegrond wees nie. Ek gaan die hele naweek daarmee besig wees,” het hy aan Rapport gesê.

Natalia Rosa, woordvoerder van die Vereniging van Suider-Afrikaanse Reisagente (Asata), sê geen reisagentskappe buiten Flight Centre het sover amptelik aangekondig dat hulle nie meer kaartjies van die SAL verkoop nie.

Duisende buitelandse toeriste is op pad.

Flight Centre het dié stap tien dae gelede gedoen.

“Vliegkaartjies van die SAL is steeds vrylik beskikbaar, maar mense wat die kaartjies koop, moet baie seker maak dat hulle voldoende reisversekering uitneem wat insolvensie dek,” sê Rosa.

“Vir internasionale vlugte sal versekering wat uitgeneem word wanneer kaartjies met ’n kredietkaart gekoop word of wat ingesluit is by mediese versekering, nie genoeg wees nie.”

Rosa meen dit sou ’n enorme terugslag vir die land se toerismebedryf wees as die SAL in dié stadium van die vakansietyd in likwidasie ingedwing sou word.

“Daar is duisende buitelandse toeriste op pad, asook binnelandse reisigers wat geraak sal word. Dit sal ’n nekslag vir die geloofwaardigheid van die land se toerismebedryf gewees het,” sê sy.

’n Likwidasie sou ook beteken dat SAL Tegnies sy deure moet sluit. Die afdeling lewer lyndienste aan al die groot binnelandse lugdienste wat elke sewe dae op passasierstralers gelewer moet word. ’n Likwidasie sou beteken dat al die land se grootste binnelandse lugdienste ná sewe dae waarskynlik nie meer sou kon vlieg nie, het die vereniging van lugdienseienaars Vrydag gesê.

Van die grootste versekeraars in die reisbedryf het egter reeds opgehou om versekering vir SAL-vliegkaartjies te verkoop. Nog ’n groot versekeraar, Hollard, het Donderdag aangekondig dat hy nie meer versekeringsdienste lewer aan SAL-kaartjies nie, kort op die hakke van Santam se reis-versekeringsfiliaal, Travel Insurance Consultants (TIC), wat enkele ure voor Flight Centre se aankondiging gesê het hy verskaf nie meer reisversekering vir SAL-vliegkaartjies nie.

Nog ’n versekeraar, Bryte, het reeds op 12 November aangekondig dat hy nie meer SAL-kaartjies verseker nie, maar het Maandag dié besluit herroep en gaan ondanks die sakereddingsaksie voort om die kaartjies te verseker.

Verskeie reisagente by wie Rapport navraag gedoen het, wou hulle nie hieroor uitlaat nie.

Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het Vrydag ná ’n vergadering met Matuson gesê Solidariteit is voorlopig tevrede dat Matuson onafhanklik van die regering sal optree, al is hy nie kragtens ’n hofbevel aangestel soos Solidariteit wou hê nie.

“Maar daar is genoeg meganismes ingebou in die Maatskappywet om hom te vervang as hy nie onafhanklik van die aandeelhouer (die regering) optree nie,” sê Hermann.

Matuson is deur die registrateur van maatskappye as sakereddingspraktisyn aangestel ná ’n besluit deur die SAL-direksie om die maatskappy in sakeredding te plaas. Dit beteken dat Matuson aan die registrateur verslag sal doen.

As dit ’n gedwonge sakereddingsaksie was, soos Solidariteit beoog het, sou hy aan die hof moes verslag doen.

Ná die voorlegging van die sakereddingsplan kry Matuson drie maande om die plan toe te pas. Daarna moet hy ’n volledige verslag aan die registrateur voorlê. As die sakereddingsaksie langer as drie maande duur, moet hy daarna maandeliks verslag doen.

Solidariteit het Vrydagmiddag met Matuson en verteenwoordigers van die SAL beraadslaag. Daar het Solidariteit voorgestel dat Vuyani Jarana, wat in Junie as uitvoerende hoof van die lugdiens bedank het, betrek word. Jarana was die skepper van ’n plan om die SAL met Ethiopian Airways te laat saamsmelt, maar die plan het verlede naweek finaal skipbreuk gelei.

Rapport het hom Vrydag in Senegal opgespoor waar hy op ’n sakebesoek is. “Ek is nie amptelik van Solidariteit se versoek ingelig nie,” het hy gesê.

Werner Human, adjunk-regshoof van die Solidariteit, sê die vakbond gaan nie voort met sy dringende hof­aansoek om die SAL onder verpligte sakeredding te plaas nie. “Ons dink daar is gedeeltes van die SAL wat gered kan word en wil hê die praktisyn moet kans kry om sy werk te doen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.