Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wonderboom-vliegtuigramp: 2 dood

“Mayday, mayday, mayday – ons enjin is aan die brand.”

Dít was die noodkreet van een van die vlieëniers op die Convair 340-vliegtuig kort voor dit Dinsdagmiddag laat naby die Wonderboom-lughawe in Pretoria-Noord neergestort het.

Die vlugingenieur, Christo Barnard (54), is Dinsdagaand op die ongelukstoneel dood. Thabang Moloto (19), ’n werknemer van die Moorddrift-melkery, het Woensdag in die Unitas-hospitaal beswyk aan sy wonde.

Foto: Deaan Vivier

Moloto, wat glo 15 minute voor die ongeluk vir sy skof by die melkery opgedaag het, se bene is albei glo deur ’n vlerk van die vliegtuig afgesny nadat dit neergestort het. Hy het ook ernstige nekbeserings opgedoen en sy heup was gebreek.

Die vlieënier se boodskap kon op die radiokanaal tussen die vliegtuig en die beheertoring van die Wonderboom-lughawe gehoor word, vertel Pierre van Zyl, ’n studente-vlieënier, wat op dieselfde kanaal ingeskakel was terwyl hy self ’n afsonderlike vliegtuig naby die lughawe gevlieg het.

Van Zyl sê hy het van dieselfde aanloopbaan in Wonderboom opgestyg kort voordat die Convair die aanloopbaan verlaat het.

“Ons vliegtuig was hoër op en ek kon sien hoe die Convair ’n dik rookstreep maak en toe hoor ek die boodskap van een van die vlieëniers,” sê van Zyl.

Nie een van die vlieëniers was weer oor die radiostelsel hoorbaar voordat dit in ’n oop stuk veld op die perseel van die Moorddrift-melkery neergestort het nie.

Volgens Van Zyl het die Convair probeer terugkeer na ’n aanloopbaan by die Wonderboom-lughawe toe die ongeluk gebeur het.

Intussen het Kabelo Ledwaba, ’n woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), Woensdag bevestig dat twee mense in die ongeluk dood is.

Die hoof van die BLO, Peter Mashaba, sê ’n voorlopige verslag oor die oorsaak van die ongeluk sal binne 30 dae vrygestel word.

Ek weet nie eens waarheen ons op pad was nie, maar ek wou net in die vliegtuig wees. Ek was nog nooit in my lewe so opgewonde nie.

Mashaba het bevestig dat twee Australiërs, drie Nederlanders en 14 Suid-Afrikaners aan boord was.

Ruffus Manyise, die bestuurder van die Moorddrift-melkery, sê buiten Moloto is nog sewe van hul personeellede is beseer.

Een van hulle, Thomas Makubhela, het sy tande uitgeval toe hy weggehardloop het van die naderende vliegtuig. Sy kollega Wanda Mushidi het brandwonde opgedoen toe die brandende vliegtuig ’n gedeelte van die pakhuis waar hulle werk aan die brand gesteek het.

Een van die oorlewendes, wat verkies om anoniem te bly, sê dit was die eerste keer dat hy gevlieg het – en toe stort die vliegtuig neer.

Hy sê sy vriend het hom genooi om saam te vlieg.

“Ek weet nie eens waarheen ons op pad was nie, maar ek wou net in die vliegtuig wees. Ek was nog nooit in my lewe so opgewonde nie.”

Hy sê die vliegtuig het van die lughawe af opgestyg en toe hy weer kyk, was dit vol rook.

“Die vlieënier het in die lug begin om beheer daaroor te verloor. Al wat in my gedagtes aangegaan het, is dat ons dit nie sou oorleef nie. Ek het gedink ons gaan doodgaan.”

Aviodrome het Woensdag in ’n verklaring gesê die Convair 340, ' ’n besonderse vliegtuig', het neergestort terwyl dit besig was op om te styg vir ’n toetsvlug voor die lang vlug na Nederland.

Hy sê almal het geskree en toe die vliegtuig neerstort, was hy verbaas dat hy nog leef.

Hy het sy voete en regterhand beseer en is in die hospitaal opgeneem. Hy is Dinsdagaand ontslaan.

Hy is nog geskok, maar sê hy sal weer vlieg.

Die rook wat uit die Convair getrek het, het vermoedelik uit een van die twee enjins gekom, het Benno Baksteen, ’n lugvaartkenner aan die Nederlandse nuusblad De Stentor gesê.

Die vliegtuig was bestem vir die Aviodrome-lugvaartmuseum by die Lelystad-lughawe in Nederland.

Aviodrome het Woensdag in ’n verklaring gesê die Convair 340, “ ’n besonderse vliegtuig”, het neergestort terwyl dit besig was op om te styg vir ’n toetsvlug voor die lang vlug na Nederland.

Volgens Ledwaba het die vliegtuig ’n lugwaardigheidsertifikaat gehad wat op 15 Augustus vanjaar sou verval. Die vliegtuig was volgens hom geskeduleer om van die Wonderboom-lughawe op te styg en het beoog om op Pilanesberg te land.

Vliegtuigongeluk. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Pretoria  |  Vliegongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.