Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wonderlik! sê gemeenskap oor weermag se toetrede

“Ek is so verlig om dié nuus te hoor. Ek sê vanaand vir minister Bheki Cele, ‘dankie dat jy ons noodkrete gehoor het’.”

So sê Lucinda Evans, ’n voorsitter van die Mitchells Plain-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Donderdagaand ná sy die nuus ontvang het dat die president ingestem het om die weermag in bende- en misdaadgeteisterde gebiede in die Wes-Kaap te ontplooi.

“Ons vra al vir drie weke aanmekaar dat die weermag ontplooi moet word. Almal het vir my gesê ek is mal. Mense was vir my kwaad en het gesê ek het politieke agendas,” sê Evans.

“Ons het vir twee jaar aanhoudend aan gesprekke deelgeneem en verskillende roetes gevolg, maar dit het geen vrugte afgewerp nie. Nou is ek dankbaar dat die Here my gebede verhoor het.”

Bheki Cele, minister van polisie.Foto: Argief

Soldate en die polisie gaan uiteindelik in bendegeteisterde gebiede, op veral die Kaapse Vlakte, ontplooi word om die vlaag van moorde daar te stop.

Cele, minister van polisie, het dit Donderdagmiddag in sy begrotingsrede by die parlement aangekondig nadat hy meermale sedert 2018 gesê het die ontplooiing van die weermag is nie ’n opsie nie.

Cele het op 25 Junie, ná die dood van sers. Donovan Prins van die Steenberg-polisiekantoor, aan Netwerk24 gesê hy het nog nie gehoor dat gemeenskapslede vra dat die weermag ontplooi moet word nie.

“Dit was nou skoolvakansie, en dit was so onveilig dat ons kinders nie eers buite kon speel nie,” sê Evans.

Abie Isaacs, hoof van die GPF in Mitchells Plain, het die stap verwelkom dat die weermag ingebring word om hand by te sit.

“Die gemeenskap van Mitchells Plain vra reeds lankal dat die weermag moet kom help. Ons het daarop aangedring omdat mense wil hê dat die bendes vasgevat moet word en die dwelmbase uit ons buurte gedryf moet word,” het Isaacs gesê.

Hy het volgehou dat die stap nie polities was nie, maar wel ’n behoefte wat deur die gemeenskap uitgewys is.

“Ons sal aanhou bande snoer tussen die polisie en die gemeenskap om misdaad hok te slaan.”

Henriette Abrahams, ’n gemeenskapsaktivis van Bonteheuwel en ’n organiseerder van die “TotalShutdown”-veldtog teen bendegeweld, sê sy is bekommerd omdat gemeenskapsveiligheid, misdaadbekamping en georganiseerde misdaadintelligensie nie die mandaat van die weermag is nie.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het die aankondiging met ope arms verwelkom.

“Ons gemeenskappe en die Wes-Kaapse regering vra reeds vir etlike jare dat die weermag as ’n vredes- en stabiliseringsmag ingebring moet word, aangesien misdaad en bendeoorloë buite beheer is. Die polisieminister Bheki Cele het tot onlangs nog volgehou dat misdaad op die Kaapse Vlakte nie sleg genoeg is om die weermag in te roep nie en ons is verlig en verwelkom oor sy skielike ommeswaai,” het Winde gesê.

“Dit is ’n duidelike erkenning dat die polisie beheer oor die oorlog teen misdaad verloor het, ’n feit wat Cele enkele dae gelede geweier het om te aanvaar.”

Winde sê hulle het Donderdag voor die aankondiging aan Cele en die polisiebestuur geskryf om te vra dat die polisie gebruik maak van buitengewone maatreëls in terme van art. 13 (7) van die SAPD-wet, wat die polisie toelaat om klopjagte- en beslagleggingsoperasies vir ’n tydperk van 24 uur, sonder ’n lasbrief, te mag uitvoer. Die weermag kan ondersteuning bied en help om gebiede af te kordon tydens die operasies sodat die polisie die misdaadondersoeke kan lei en die oortreders in hegtenis kan neem.

Meer oor:  Alan Winde  |  Weermag  |  Polisie  |  Bendegeweld  |  Kaapse Vlakke  |  Ontplooiing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.