Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wonderwerk dat hy leef, sê man ná buffel hom gaffel

Bossie Mostert (39), die jagter van Limpopo wat ’n onderonsie met ’n gekweste buffel oorleef het, sê dit is ’n wonderwerk dat hy net meer as ’n week ná die voorval by die huis is.

Bossie Mostert. Foto: Verskaf

“Sê vir die mense dit gaan goed met my. Ek is gespaar. Die Here het ’n plan met my en ek gaan dit nou uitvoer,” het ’n opgewekte Mostert Maandag gesê pas nadat hy uit die Tzaneen-Mediclinic ontslaan is.

Mostert is op 5 April twee keer deur die buffel gegaffel en deurboor.

’n Amerikaanse kliënt van Mostert se onderneming,

Limpopo Big Game Safaris, het die buffel drie dae voor die voorval gekwes.

Mostert bedryf sy jag-onderneming al langer as 12 jaar.

Die jagtog was op ’n wildplaas in die Waterpoort-omgewing noord van die Soutpansberg.

Mostert het dadelik na die buffel begin soek om die dier se lyding te beëindig.

Eers teen Vrydag is die buffel die oggend vroeg vasgekeer in ’n beboste deel, maar dinge het vinnig skeefgeloop.

Die buffel het Mostert met sy horings opgetel en sy lyf twee keer deurboor – een keer van onder sy regterknie tot in sy bobeen en toe van sy maag tot amper by sy longe.

Mostert kon met die tweede slag onder laaghangende bosse inkruip.

Later, nadat hy twee operasies ondergaan het, het Mostert aan sy verloofde, Ronel Kloppers-Pieterse (41), vertel hoe die buffel hom daar in die bosse aangegluur het.

Sy was Maandag baie opgewonde om Bossa, soos hy ook genoem word, weer aan haar sy te hê.

Ek sal nou nie oral saamloop nie, en het gereël dat ’n ander jagter die kliënt bystaan, maar ek gaan saam.
Bossie Mostert

Die dokters het hom voor die naweek uit die waakeenheid oorgeplaas na ’n gewone saal, maar gesê hy is nog nie gesond genoeg om dadelik ontslaan te word nie. Die verwagting was dat hy eers later in die week ontslaan sou word, maar teen Maandag was hy soveel beter dat Ronel hom kon huistoe vat.

“Ek voel regtig goed,” sê hy.

Hy het nog las van sy voete wat opswel, maar hy doen al die fisio-oefeninge wat aan hom voorgeskryf is, en sê die bosveld roep al weer.

Mostert het teen einde April nog kliënte wat in die noorde wil jag en hy is vasbeslote om saam te gaan.

“Ek sal nou nie oral saamloop nie, en het gereël dat ’n ander jagter die kliënt bystaan, maar ek gaan saam,” sê hy.

Meer oor:  Tzaneen  |  Jagter  |  Buffel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.