Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Verslag: Worcester-seun het nie verstik of versmoor

Die 15-jarige leerling van die Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy in Worcester wat Maandag dood in sy bed aangetref is, het nie verstik of versmoor nie.

Die rede vir Aidan Rossouw (15), ’n gr. 10-leerling, se dood kon nie tydens die lykskouing bevestig word nie en bloedmonsters is geneem en na ’n laboratorium vir ontleding gestuur. Dit kan egter maande en selfs jare neem voordat die uitslae bekend is.

“Dit gaan nie oor wat hom doodgemaak het nie. Hy is dood en niks kan dit verander nie,” het Jacques Rossouw, Aidan se pa, aan Netwerk24 gesê.

Aidan Rossouw (15), ’n gr. 10-leerling van die HTS Drostdy in Worcester, is Maandagoggend dood in sy koshuisbed aangetref.

Vroeër is berig Aidan is Maandagoggend deur sy kamermaats dood in sy koshuisbed aangetref.

Rossouw het kort nadat hy die nuus Maandagoggend ontvang het van Kaapstad, waar hy woon, na Worcester gery en homself telkemaal betrap waar hy sukkel om die werklikheid van die situasie te glo.

“Terwyl ek Worcester toe gery het, wou ek net die skool terugbel. (Aidan) het so ’n wit streep deur sy kuif gehad waar hy sy kop op laerskool gestamp het. Ek het gevoel ek wil net die skool terugbel en sê hulle moet seker maak dit is my seun, die een met die wit streep in sy hare. Maar ek weet ook almal het hom geken. Wat is die kans dat dit nie hy is nie? Jy wil dit nie glo nie.”

Rossouw sê sy seun het die afgelope tyd van ’n effens rebelse tiener tot ’n mooi jong seun ontwikkel, wat presies geweet het wat hy uit die lewe wil hê.

“Hy was ’n vriendelike, liefdevolle kind. Almal gaan deur hul tienerjare, maar hy was in ’n stadium wat hy net goedhartig was en geen konflik wou hê nie. Hy was ’n persoon wat gehou het van avontuur. Hy het branderplank gery, skaatsplank (gery) en van die buitelewe gehou. Hy en sy suster (Alex, 16) het ook die afgelope paar jaar goeie vriende geword en mekaar ondersteun.”

Aidan het reeds duidelike doelwitte gestel vir sy skoolloopbaan en ná skool, wanneer hy in sy oupa se voetspore as ’n motorwerktuigkundige wou volg.

Dié doelwitte het Aidan selfs die naweek nog met Rossouw gedeel terwyl hy in die Kaap by hom was.

“Ons het so ’n lekker naweek gehad. Ons het Saterdag nog verfbal gespeel. Sondag voordat ek hom bus toe gevat het, het ons by sy ma, waar sy woon in Table View, stilgehou om haar te groet.”

Alida, Aidan se ma, sê sy hou vas aan die herinnering van haar seun se laaste drukkie.

Jacques Rossouw saam met sy kinders, Alex en Aidan.

“Ek kon hom darem Sondag ’n drukkie gee. Hy het eintlik vir my twee keer koebaai gesê, wat hy nie gewoonlik doen nie. Daar was darem daai laaste soentjie, daai laaste drukkie, en hy kon die beste drukkies ooit gee.”

Sy beaam die lykskouing kon slegs versmoring en verstikking uitskakel en dat hulle nog nie weet wat Aidan se dood veroorsaak het nie.

“Ek wil amper sê dit maak nie saak hoe dit gebeur het nie, dit het gebeur. Daar is soveel vrae. Wat as? Maar as jy heeltyd daaroor wonder, sal jy jouself mal maak. Ek wil hom net onthou soos ek hom onthou en sal vashou aan sy herinneringe.”

Een hiervan is hoe Aidan haar op laerskool kon ompraat om by Melkbosstrand te stop waar hy voor skool kon branderplankry. “Hy het dan sommer daar in Melkbos sy skoolklere aangetrek en nog vol seewater skool toe gegaan, maar dit is waarvoor hy lief was.

“Hy het altyd ’n lus vir die lewe gehad. Hy het alles voluit gedoen en was passievol oor wat hy gedoen het.”

Die gesin beplan ’n gedenkdiens vir volgende naweek op een van die Kaapse strande.

Meer oor:  Worcester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.