Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Worcester-vrou is polisie se beste skut

Die een is die eerste vrou wat as algehele kampioen gekroon is, die ander het kanker oorwin.

Kapt. Ronelle Alberts met die trofeë en medaljes wat sy tydens die polisie se jaarlikse skietkompetisie in Bloemfontein gewen het. Foto: Verskaf

Albei van hulle is dodelik akkurate skuts.

Kapt. Ronelle Alberts (44) en Lt.kol. Pauline Kriel (48), albei van Worcester, het in Vrouemaand gesogte titels losgeskiet tydens die polisie se nasionale skietkampioenskap in Bloemfontein.

Altesame 118 deelnemers van oor die hele Suid-Afrika heen het van 1 tot 10 Augustus aan die kompetisie deelgeneem.

Hulle het ook met spanne van die VSA, Nederland, Nieu-Seeland, Lesotho en Botswana meegeding.

Alberts is vanjaar se algehele geweer-kampioen en het ook die Suid-Afrikaanse polisievroue-toekenning ontvang.

“My doel was om die trofee huis toe te bring. Maar ek sou dit nie kon doen sonder my geloof in God, ondersteuning van familie en vriende, harde werk en konsentrasie tydens die kompetisie nie,” sê Alberts.

Alberts het in 1994 by die polisie aangesluit.

Sy neem sedert 2005 deel aan die kompetisie en het in 2014 ook dié trofee gewen.

Ons skiet gereeld in alle toestande soos wind, reën en donkerte. Ons vuurwapens moet ook gereeld gediens word om te kyk of alles nog reg is.

“Ek het deur die jare baie by my mede-skuts geleer en in die sport gegroei. Ek is ook die enigste vrou in die polisie wat al die algehele wenner was. Ek voel trots om die algehele kampioen te wees.”

Sy is getroud en het drie kinders.

Lt.kol. Pauline Kriel (48) het op haar beurt 14 medaljes, vier goud, sewe silwer en drie brons, gewen. Sy het ook die vrouekampioenskap gewen.

Kriel is gekies om die Suid-Afrikaanse nasionale A-span en die polisie se nasionale A-span te verteenwoordig.

Lt.kol. Pauline Kriel (48) het die vroue-kampioenskap gewen. Sy het 14 medaljes gewen. Foto: Verskaf

“Dit was die kersie op die koek om vanjaar te kon deelneem en om toe ook te wen. Ek kon nie verlede jaar deelneem nie omdat kanker by my gediagnoseer is en ek chemoterapie ontvang het,” sê Kriel.

Sy het in April uitgevind die kanker is in remissie en moet nou elke drie maande vir ’n ondersoek gaan.

Kriel neem al vir 27 jaar deel aan die kampioenskap.

Albei vroue doen ook gereeld CrossFit-oefeninge om fiks te bly.

CrossFit behels ’n kombinasie van verskillende oefeninge en sportsoorte waaronder olimpiese gewigoptel, touklim, swem, gimnastiek en naellope.

Alberts sê om te skiet vereis goeie sig en konsentrasie.

“Ons skiet gereeld in alle toestande soos wind, reën en donkerte. Ons vuurwapens moet ook gereeld gediens word om te kyk of alles nog reg is,” sê Kriel.

Kriel is getroud met lt.kol. Adriaan Kriel, wat intussen uit die diens getree het.

Kriel sê haar dogter, Rochelle Earle (27), is ook ’n kranige skut. Sy het ook ’n seun, Richard Earle (22).

Die polisiebestuur het Alberts en Kriel gelukgewens met hul onderskeie titels.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.