Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Worcester-vroue geflous om naakfoto’s te stuur

’n Groep van ongeveer 50 vroue van die Worcester-omgewing se grootste nagmerrie het die naweek waar geword toe naakfoto’s van hulle oral op sosiale media versprei is.

Van die vroue is heeltemal naak in die foto’s, sommige is kaalborsfoto’s en ander vroue is in hul onderklere.

“Ek voel so dom dat ek vir die bedrogspul geval het,” sê Nicole (24) van Worcester wat een van die vroue op die foto’s is. Haar van word weerhou omdat sy anoniem wil bly.

“Ek het die foto’s vir ’n vrou gestuur wat gesê het sy werk vir ’n modelagentskap, Private Modeling, en sy sal my vir die foto’s betaal.”

Nicole en ander vroue is tussen R10 000 en R20 000 vir hul naakfoto’s belowe. Hulle het geglo hulle sal die geld kry en het die foto’s via WhatsApp aangestuur.

Verskeie mense het op Facebook na die vroue uitgereik. Profiele met die name Lizel Strydom, Nicole van Wyk en Shannon Shanny Felix het die vroue oortuig hulle sal modelkontrakte met hul foto’s losslaan.

Ek wil skaars my kop by die deur uitsteek – en vir baie van die meisies is dit nog erger as vir my. Álmal het hulle nou kaal gesien.

“Ek het R200 vir registrasie betaal en hulle het my al in November laasjaar gesê ek sal ’n kontrak per e-pos kry. Ek het tot vandag toe niks ontvang nie. Ek het ook nie die geld gekry wat hulle vir die foto’s belowe het nie.”

Nicole sê sy het ongeveer 30 foto’s gestuur, maar net een daarvan is op sosiale netwerke versprei. Saam met haar foto is die foto’s van sowat 29 ander vroue Vrydag gedeel. Later die naweek het nog sowat 20 vroue se foto’s verskyn.

“Dit het vir my geklink asof hulle ’n regte agentskap is,” sê Charlin (21), ’n slagoffer wat foto’s van haarself in haar onderklere gestuur het.

“Lizel het vir my video’s gestuur van hoe ’n fotosessie op die strand met ’n model gedoen word. Hulle het gesê ek kan ook sulke sessies doen en selfs oorsee reis,” sê sy. “Hulle het ook gesê ons gesigte sal verbloem word.”

In albei die vroue se geval het vriende en familie hulle vertel dat hul foto’s op WhatsApp rondgestuur word.

“Ek voel so skaam daaroor,” sê Charlin. “Ek wil skaars my kop by die deur uitsteek – en vir baie van die meisies is dit nog erger as vir my. Álmal het hulle nou kaal gesien.”

Nicole sê sy was aanvanklik baie ontsteld, maar het nou vrede gemaak dat ’n mens niks daaraan kan doen nie.

“Dit is nie asof ek dit vir ’n man gestuur het nie. Ek is net geflous. Ek voel baie dom, maar dit het gebeur. Dit help nie om in ’n hoekie te sit en tob daaroor nie. Dit is nou ongelukkig die realiteit.”

Volgens albei die vroue is die sogenaamde agente, Strydom, Van Wyk en Felix, onbereikbaar nadat die foto’s begin versprei is. Netwerk24 kon hulle ook nie op hul selfoonnommers bereik nie.

Nicole sê sy vermoed dat die name van die vroue vals is.

“Ek dink nie eers hulle is vroue nie. Dit het vir my geklink soos ’n man met wie ek op WhatsApp gepraat het. Die persoon het kwaad geraak toe ek nie ook eksplisiete video’s wil stuur nie,” sê sy. “Ek is so kwaad vir myself.”

Charlin het ander vroue op Facebook teen die sogenaamde bedrogspul gewaarsku en hulle gemaan om versigtig te wees wie hulle vertrou.

“Hulle het vir my ook boodskappe gestuur,” het meer as een ander vrou op Facebook gesê. “Ek het uitgevra en sy het gesê sy soek naakfoto’s en foto’s in my onderklere. Ek wou nie betrokke raak nie,” sê een vrou.

“Ek het sommer geweet dit is te goed om waar te wees,” sê ’n ander.

Die polisie kon nie onmiddellik bevestig of enige van die slagoffers dit aangemeld het nie. Indien kommentaar ontvang word, sal dit bygevoeg word.

Meer oor:  Worcester  |  Whatsapp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.