Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wow se veiling haal bitter min

Wow Musiekverspreiders van die Du Plessis-familie se roerende bates is vir R35 000 verkoop om skuld van sowat R7,3 miljoen te dek.

Van die CD’s het so min as 17 sent per CD gehaal.

Wow Musiekverspreiders se roerende bates het Donderdag R35 000 gehaal op die veiling. Foto’s: Elizabeth Sejake

Wow is ’n beslote korporasie waarvan die sanger Ruan Josh verlede jaar by sy pa, Doepie du Plessis, oorgeneem het as enigste lid. Wow het ook in ’n stadium Juanita du Plessis se CD’s versprei.

Rapport het vroeër berig Wow het op 16 Januarie aansoek gedoen om vrywillige likwidasie. Verskeie mense was woedend omdat Wow hulle glo ingeloop het.

Donderdag is al Wow se roerende bates op ’n veiling in Midrand verkoop. Geen kunstenaar of die Du Plessis-familie was daar om hul eie CD’s te koop nie. Op die lys van CD’s wat verkoop is, is 180 van Coenie de Villiers se nuutste album wat nie versprei is soos hy gedink het nie. De Villiers het vroeër aan Rapport gesê hy het erge skade gely met sy album Pure Coenie. Hy en Wow het ’n ooreenkoms aangegaan oor geld wat hulle hom geskuld het.

17 c: So min het party van die CD’s elk gehaal.

Ander kunstenaars wie se CD’s opgeveil is, sluit in Gerhard Steyn, Louis Brittz, André Swartz, Chris Chameleon, die Campbells, Kurt Darren en Steve Hofmeyr. Wow het nie noodwendig met hulle sake gedoen nie, maar het hulle CD’s in voorraad gehad.

Een van die suksesvolle bieërs, Phillip Theron, sê hy gaan die sowat 17 000 CD’s wat hy gekoop het, aan sy kerk skenk. “Ons kerk, die Volle Evangelie Krugersdorp, hou elke jaar basaar.”

Theron, self ’n afslaer, het ook ’n verskeidenheid van sowat 150 geestelike boeke vir R1 400 gekoop. Dié bod het op R200 begin.

Phillip Theron, wat 17 000 CD’s gekoop het, wat hy vir sy kerk se basaar gaan skenk.

’n Ander bieër het skilderye en ander muurversierings wat aan Wow behoort het vir R750 gekoop, vertooneenhede en CD-houers vir R950 en ’n naambord met “Mambamba” daarop geskryf, vir R200. ’n Laaste lot van 2 000 DVD’s, wat Angus Buchan s’n insluit, het R4 500 gehaal.

Die likwidateurs het vroeër skuldeisers in ’n brief wat Rapport gesien het gerus gestel dat Juanita du Plessis, Ruan Josh en sy suster Franja se CD’s óók opgeveil sal word. Dit het in ’n tweede besending by die afslaer opgedaag. Een van Juanita se CD’s wat verkoop is, is Toe staan die wêreld stil.

Kaalvoetkinners, ’n CD wat Juanita, Ruan en Franja aan die einde van 2017 uitgereik het, was ook onder dié in die tientalle bokse by die veiling. Bokse vol CD’s met Ruan se Eggo, is ook verkoop.

Ruan Josh, Wow se baas.

Martin Pretorius, uitvoerende hoof van Van’s Afslaers, sê die verkope van Wow se bates is nog onderhewig aan die likwidateurs se aanvaarding. Nóg Ruan Josh, nóg sy pa, Doepie du Plessis, het Vrydag gereageer op Rapport se versoeke om kommentaar.

Ruan Josh het in Maart in ’n onderhoud met Maroela Media “teruggekap” teen bewerings van ongelukkige kliënte wat selfs ’n strafregtelike klag by die polisie inge­dien het. Oor kunstenaars se produkte wat nie versprei was soos hulle gedink het nie, terwyl die Du Plessis-familie se CD’s verkoop is, het hy gesê Musica het hul verspreidingsooreenkoms verander en Wow moes hulle skielik ’n klomp geld betaal.

“Ons wou natuurlik hê my eie, my sussie en my ma se albums moet aanhou verkoop, en ons het gevolglik die R500 000-las net so oorgeskuif na Juanita Records toe; in effek het Juanita Records dus R500 000 (namens Wow) aan Musica betaal om al haar voorraad te kry en verkope voort te sit.”

Ruan Josh het gesê al die kunstenaars se geld is opsy gesit en die uitbetalings sou daardie week begin het. In Maart het hy gesê: “Ek het nooit weggehardloop nie. Die bedrag verskuldig is omtrent R4,9 miljoen. 30 000 eenhede wat uit die winkels onttrek is kan op die bankrotveiling verkoop word om in kontant om te sit. Ons weet nie hoeveel die likwidateurs daarvoor gaan kry nie.”

Die bedrag is nou bekend: R35 000, voor kommissie. Die skuld is luidens die likwidateurs se verslag aan die meester van die hooggeregshof baie meer as R4,9 miljoen. Die verslag, gedateer 6 Maart, dui aan dat Absa ’n notariële verband het oor alle voorraad, kontant en roerende bates ter waarde van R1,5 miljoen. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is volgende in die ry vir R245 443 op Wow-wins. Die likwidateurs sê hulle weet van skuldeisers wat R5,64 miljoen eis.

Meer oor:  Juanita Du Plessis  |  Bankrotskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.