Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wrakstukke gevind ná vliegtuig in W-Kaap verdwyn

Nooddienswerkers was Donderdagmiddag laat steeds op die toneel in die omgewing van die Robinsonpas tussen Mosselbaai en Oudtshoorn waar ’n vliegtuig vermoedelik neergestort het.

“Daar is op moontlike wrakstukke afgekom,” sê kapt. Malcolm Pojie. Die presiese ligging van die wrakstukke is nie bekend gemaak nie.

Volgens hom kon dit nog nie bevestig word of die wrakstukke afkomstig is van die Burgerlugvaartowerheid (BLO) se Cessna Citation-vliegtuig wat Donderdagoggend verdwyn het nadat dit van die George-lughawe opgestyg het nie.

Cessna Citation-vliegtuig
Die Cessna Citation-vliegtuig van die Burgerlugvaartowerheid (BLO) wat moontlik in die Robinsonpas tussen Mosselbaai en Oudtshoorn neergestort het. Foto: Burgerlugvaartowerheid

Pojie sê daar kan ook nog nie bevestig word of daar enige oorlewendes is nie.

Digte mis het die soektog bemoeilik en die gebied is ook bergagtig. Hy sê die wrakstukke is met behulp van ’n weermaghelikopter gevind.

’n Personeellid van die Eight Bells Mountain Inn, ’n gewilde toerismebestemming naby die Robinsonpas, sê by navraag hulle het nie Donderdagoggend ’n vliegtuig gehoor of iets wat klink soos ’n vliegtuig wat neerstort nie.

Reddingswerkers het blykbaar vroeër Donderdag by die begin van die pas bymekaargekom op ’n plek waarvandaan die soektog gekoördineer is.

Die Robinsonpas tussen Mosselbaai en Oudtshoorn.

Kabelo Ledwaba, ’n woordvoerder van die BLO, kon nie by navraag bevestig waar die vliegtuig moontlik geval het nie.

Die BLO het vroeër in ’n verklaring gesê die vliegtuig, wat gebruik word vir lugvaartinspeksies, het Donderdagoggend verdwyn nadat dit van die George-lughawe opgestyg het.

Volgens die BLO het die vliegtuig, met twee mans en ’n vrou aan boord, omstreeks 10:40 van die George-lughawe vertrek ten einde die navigasiehulpmiddels van die lughawe na te gaan.

Die lugbeheertoring kon tien minute ná die opstyging nie weer kontak met die vliegtuig maak nie.

Die lugverkeer- en navigasiedienste het onmiddellik die betrokke soek-en-reddingsdienste in kennis gestel om na die vliegtuig te soek.

Die bemanningslede se name is nie bekend gemaak nie. Die George-lughawe wou nie kommentaar lewer nie en het navrae na die BLO verwys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.