Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wynand du Toit oor destyds se lesse en vandag
Lt.kol. Wynand du Toit het op 31-jarige ouderdom uit die weermag getree.

As ons die inperking oorleef, moet seker maak dat ons steeds elke dag lééf.

Dít is een van die lesse wat lt.kol. Wynand du Toit geleer het toe hy in 1985, nadat ’n spesialemagte-operasie skeefgeloop het, 837 dae in ’n Angolese gevangenis opgesluit was.

Met die land in ’n staat van inperking is die lewenslesse wat hy destyds geleer het, steeds van toepassing.

Du Toit, wat deesdae in Glentana in die Suid-Kaap woon, sê al het die omstandighede deur die jare verander, bly die mens, sy gedagtes en die oorlog wat hy binne homself veg, steeds dieselfde.

In die tyd wat Du Toit in ’n sel van 2 ½ m by 5 ½ m deurgebring het, is hy gekonfronteer en gebombardeer met persoonlike vrae, uitdaging en krisisse.

“Ek moes die gedagtes in my kop stilmaak en ontleed sodat ek daaruit kon groei,” sê hy.

Du Toit is van mening dat dieselfde dinge wat hom in 1985 deur isolasie gedra het, Suid-Afrikaners in 2020 ook daardeur gaan dra.

“Ons is lewendig in isolasie geplaas en so lank as wat jy lewendig is, moet jy ’n lewe lei.”

Du Toit sê mense moet daarna streef om so ver moontlik ’n normale lewenstyl te handhaaf.

“Begin jou dag op die regte manier, kam jou hare en trek aan vir werk.

“As ons lui optree, sal ons lui raak en slegte gedagtes sal die oorhand op ons gemoedstoestand hê.”

Dit is nou ook die ideale geleentheid om tyd te maak vir familie en vriende.

“As hulle by jou in die huis is, doen iets saam hulle en as hulle ver is, bel hulle, maar kom by jou mense uit.”

Du Toit bly deesdae in Glentana waar hy graag boeke skryf en vis vang.

Ons kan nie fokus op wanneer die einde gaan kom nie, want daaroor is ons onseker, sê Du Toit.

“Dit is beter om elke dag wat ons het voluit aan te durf.

“Mense is geneig om die probleem in ’n situasie te sien, eerder as die geleentheid.”

Du Toit sê as ons die geleenthede aangryp, sal die probleem se invloed op mense al hoe minder raak.

“Ons enigste konstante is die Here en ons moet Hom loof en prys in en deur elke oorlog.”

Du Toit sê dit is baie belangrik om aan die Here vas te klou in hierdie tyd.

“Hy (die Here) gee ons nie probleme sonder dat daar ’n oplossing is nie.”

Hy sê uitdagings is goed, want dit vorm ons daagliks om die beste mens te wees wat ons kan wees.

’n Deel van Du Toit se daaglikse roetine is om elke oggend ’n bemoedigende boodskap op sy YouTube-kanaal te deel.

In hierdie boodskappe vertel hy van sy eie tyd in afsondering en hoe die lesse wat hy daartydens geleer het, vandag nog van toepassing is.

Du Toit sê hy kan sien hoe bang en onseker die mense van Suid-Afrika is in die grendeltyd.

“Die mense se emosies in die tyd is nie uniek aan homself nie, almal voel so. Dís hoe en hoekom ons mekaar hierdeur kan help.”

Hy sê al kan ons nie die situasie verander nie, kan ons verander hoe ons aan die situasie dink.

Meer oor:  Wynand Du Toit  |  Weermag  |  Koronavirus  |  Lesse  |  Isolasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.