Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou erf glo niks by vermoorde wingerdboer
Stefan Smit se dogters, Louie Smit (in die middel) en Martine Smit (regs), kom verlede Vrydag by die NG moedergemeente op Stellenbosch vir hul pa se gedenkdiens aan. Agter is hul ma, Esmé Smit. Foto: Jaco Marais

Die weduwee van die wingerdboer Stefan Smit (62) wat op Sondag 2 Junie vanjaar in sy huis op sy plaas Louiesenhof doodgeskiet is, het volgens bronne na aan die familie niks uit sy boedel geërf nie.

Volgens dié bronne het Smit in Desember verlede jaar sy testament verander. Die testament is glo Vrydag gelees ná ’n gedenkdiens vir dié bekende Stellenbosser.

Daar is aan Netwerk24 gesê dat Louie en Martine, Smit se twee dogters uit sy eerste huwelik, ’n buitelandse belegging van etlike miljoene erf.

Die res van sy boedel is glo aan die Ribbok Heuwels Trust bemaak. Die begunstigdes van die trust is volgens inligting Smit se suster en sy twee dogters. Esmé Smit, sy eerste vrou en ma van sy twee dogters, is glo een van die trustees van die trust.

Dit blyk volgens die bronne dat Zurenah Smit (53), Smit se vrou van die afgelope 14 jaar, net verblyfreg in ’n aftreeoord in Stellenbosch, glo die Stellenoord 8, verkry het. Daar is glo ook ’n bepaling dat die “voordeel” teruggaan na die boedel sou Zurenah te sterwe kom.

Zurenah mag glo geskenke hou wat sy by Smit voor sy dood ontvang het.

Enige lenings wat sy egter voor sy dood aangegaan het of aan haar gemaak is, moet aan sy boedel terugbetaal word.

Zurenah Smit, Stefan Smit se weduwee, verwelkom mense verlede Vrydag by die gedenkdiens vir haar man. Foto: Jaco Marais

Luidens dokumente by die aktekantoor is die egpaar in 2005 buite gemeenskap van goedere getroud. Die bronne sê die aanwasbedeling het ook nie betrekking op Smit se testament nie.

Volgens een bron beteken dit dat Zurenah nie aanspraak kan maak op die winste van die verkoop van die plaas Watergang nie. Smit het die plaas in Mei vanjaar aan die Stellenbosse munisipaliteit vir meer as R45 miljoen verkoop.

Watergang is in Augustus verlede jaar deur agterplaasbewoners van Kayamandi beset. Die plaas grens aan Kayamandi. Smit het hom daarna tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend om ’n interdik te kry om die onwettige besetters van sy plaas af te kry en om nuwe besetters te keer om onwettige strukture daar op te rig. Hy en die munisipaliteit het in daardie tyd begin onderhandel oor die plaas.

’n Onlangse foto van Stefan Smit (62) op die begrafnisbrief op ’n gedenkdiens wat verlede Vrydag vir hom in Stellenbosch gehou is. Foto: Jaco Marais

Volgens inligting het drie of vier onbekende mans die Sondagaand tussen 18:30 en 19:00 by ’n oop deur ingekom terwyl Smit, Zurenah en ’n familievriendin (71) aandete geëet het.

Netwerk24 het verlede week berig Smit is drie keer glo met twee vuurwapens van verskillende kalibers geskiet.

Hy is glo een keer in sy kop, een keer in sy bors en een keer in sy gesig geskiet. Die eerste skoot was glo in sy kop.

Die vermoede bestaan dat ’n 9 mm-pistool en ’n .38 Special-rewolwer gebruik is.

Zurenah was glo in die kombuis besig om tee te maak toe die mans deur ’n oop deur van hul huis op die plaas ingestorm het.

Verskeie pogings is sedert Dinsdag aangewend om Zurenah om kommentaar te nader. Geeneen van die telefoonnommers wat verskaf is, het gewerk nie. Die nommer vir Louiesenhof het ook net gelui.

Niemand is nog vir Smit se dood in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Louiesenhof  |  Stefan Smit  |  Erf  |  Vermoor  |  Wynboer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.