
Yolande deel van haar ondervindings as gyselaar in Jemen. Foto: Mlungisi Louw
“Deur die boek te lees, gaan julle Pierre leer ken en leer watter wonderlike mens hy was.”
Dit was die woorde van Yolande Korkie toe sy haar boek 558 dae by Grey Kollege in Bloemfontein bekend gestel het.
Die boek handel oor haar en Pierre, haar man, se dae as gyselaars in Jemen.
Die Korkie-egpaar is in Mei 2013 in Taiz, Jemen, deur die Al-Kaïda-terreurgroep gyselaar geneem.
Yolande is ná 228 dae, in Januarie 2014, sonder ’n losprys vrygelaat, maar Pierre het die gebeure nie oorleef nie.

Pierre Korkie. Foto: Argief
Hy is in Desember 2014, ná 558 dae as gyselaar, in Jemen doodgeskiet. Dit was tydens ’n mislukte reddingspoging deur die VSA se Navy Seals.
Dit was slegs enkele ure voordat Pierre veronderstel was om vrygelaat te word ná lang en intense onderhandelinge deur die hulporganisasie Gift of the Givers.
Die skoolsaal was Maandag stampvol Grey-leerlinge. Yolande is met luide applous verwelkom toe sy die saal binnekom.
Pierre was 24 jaar lank ’n onderwyser en atletiekafrigter by dié skool.
Yolande en Pierre se kinders, Pieter-Ben (18) en Lize-Mari (16), het ook die bekendstelling bygewoon.
“Pappa sou só trots op julle gewees het,” het ’n emosionele Yolande aan hulle gesê.
Een van Pierre se oudleerlinge, Ruan Coetzer, het gesê “meneer Korkie” was iemand wat sy lewe verryk het.
“Hy het vir my lesse geleer wat ek vandag nog in my lewe en in my huwelik toepas.”
Anas al Hamati van Gift of the Givers het gesê hy is baie bly dat Yolande besluit het om ’n boek oor hul gyselaarskap te skryf.
“Dit is nodig dat mense weet wat tydens so iets gebeur en hoe traumaties dit is.”
Hy het Yolande onder meer gehelp om oor die onderhandelinge tussen Gift of the Givers en Al-Kaïda te skryf.
“Mense weet nie wat regtig gebeur tydens sulke onderhandelinge nie. Daarom is dit belangrik dat die storie vertel word, want dit kan met enigiemand op enige plek gebeur.”
Yolande het tydens die bekendstelling ’n boek aan hom oorhandig en hom in Arabies vir hul ondersteuning en hulp bedank.
“Dit is lekker om haar ‘ander’ familie te kon ontmoet en te sien hoeveel mense ook vir haar gebid het,” het Al Hamati gesê.