Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
YouTube, terapie en Vivaldi vir eensame gorilla

Sharon Tshikosi vat met selfvertroue aan die groot groen traliehek wat om ’n baie goeie rede in die Johannesburgse Dieretuin staan: om Mokoko die gorilla van mense af weg te hou.

Aan die anderkant hou Mokoko sy hand teen die tralie waar haar hand is.

Mokoko, die enigste gorilla in die Johannesburgse Dieretuin, ­kry gedragsbehandeling wat insluit dat klassieke musiek vir hom gespeel word. Foto: Elizabeth Sejake

As dié groen hek nie daar was nie, sou dié twee dalk kon handjies vashou. Daar is egter geen opsie om aan mekaar te vat nie.

Jy mag nie eens oogkontak maak met die 32-jarige Mokoko nie, want hy sal hom bloedig vererg.

Vreemdelinge mag ook nie naby die hek kom terwyl Tshikosi daar is nie, want hy sal jaloers raak. Dié bewaarder is syne en hy weet dit.

Hy het selfs ’n spanspek in ­Rapport se rigting geslinger toe hy nie aandag kry van die mense wat elke dag vir hom sorg nie. En hy het gegooi om dood te gooi.

Sodra Tshikosi en Mokoko aan weerskante van die hek hul hande teen mekaar neersit, kry Mokoko ’n vrug om te eet. Tshikosi skuif haar hand hoër op. Mokoko sit weer sy hand waar hare is en hy kry weer ’n vrug.

Hy hou niks van kwaito nie.

Dié keer glimlag hy.

Dit klink dalk of die Johannesburgse Dieretuin sy enigste gorilla ’n paar oulike nuwe truuks leer, maar dit is alles deel van ’n program met ’n ernstiger doel: om die gorilla die nodige mediese sorg te kan gee.

Dit word die afgelope ses maande gedoen in samewerking met die internasionale liefdadigheidsorganisasie die Sentrum vir Toegepaste Troeteldier-gedragstudie (Coape), wat sorg vir diere in aanhouding.

“Ons doel is om diere in aanhouding se lewens te verryk en hul gedrag natuurlik te laat ontwikkel,” sê Karin Pienaar van
Coape.

Sodra Mokoko gemaklik genoeg voel om sy hand deur die tralies te druk, kan sy bloeddruk getoets word en uiteindelik kan sy bloed getrek word sonder dat hy vir sulke klein prosedures verdoof hoef te word.

Die oefeninge moet ook help om hom verstandelik te stimuleer en om hom kalm te hou.

Daarvoor word musiek ook gebruik.

“Onthou, hy is hoogs intelligent en hy is alleen,” sê Katherine Visser, kurator van die dieretuin.

Binnekort gaan daar permanent ’n klawerbord, ’n kitaar en ’n iPad waarop hy na YouTube-musiekvideo’s kan kyk, in een van sy naghokke gebêre word. Die beste stimulante vir Mokoko is klassieke musiek en klanke uit die natuur.

“Hy is mal oor ‘Lente’ uit Antonio Vivaldi se Vier seisoene,” sê Visser.

“Hy sal gereeld tjoepstil gaan lê en die hele stuk deurluister.”

Hy hou niks van kwaito nie.

“Hy het dit al op Sharon se selfoon gehoor, maar sy demp dit nou, want dit maak hom kwaad,” sê Visser. “Enige herhalende ritmes irriteer hom.”

Coape werk tans ook aan die gedrag van die dieretuin se spinape en bere. “Dié twee spesies word spesifiek nie direk deur die personeel gevoer nie. Ons steek hul kos in spesiale voedselhouers weg sodat hulle self daarvoor moet soek. Soos in die natuur.

“Dit hou die diere opgewonde, want ’n wilde dier kan depressief raak as hy net bloot gevoer word sonder iets om na uit te sien.”

Vroeg vanjaar gaan Coape Johannesburg se olifante en sjimpansees ook begin behandel.

Meer oor:  Dieretuin  |  Gorilla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.