Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ystervrou van Zastron terug in hospitaal ná aanval

Daleen van der Hoven (80), die ystervrou van Zastron wat ná ’n plaasaanval, kaalvoet, sonder ’n bril in die bittere koue deur haar aanvallers in Lesotho afgelaai is, is terug in die höesorgeenheid van ’n Bloemfonteinse hospitaal nadat sy ’n terugslag gehad het.

Daleen van der Hoven, (80), Ystervrou van Zastron, wat terug in die hoësorgeenheid van die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein is na ’n prosedure. Foto: Argiewe

Haar dogter, Lize du Plessis van Bloemfontein by wie sy in die laaste tyd aangesterk het nadat sy uit die Rosepark-hospitaal ontslaan is, sê haar ma het nou weer baie vog en bloed op die brein ná die plaasaanval op 3 Julie toe sy meer as een keer met ’n yster oor die kop geslaan is.

Du Plessis sê ná ’n breinskandering Maandag is die vloeistof deur ’n prosedure met ’n boortjie gedreineer en sy is weer terug in die hoësorgeenheid.

“My ma rus nou en ek kan nie veel meer sê nie,” het sy Vrydagmiddag gesê.

Du Plessis sê sy het besef daar is fout omdat haar ma sekere goed nie kon doen nie. Sy het haar toe teruggeneem dokter toe waar hulle op die prosedure besluit het.

Intussen het dit bekend geraak dat een van haar vier aanvallers vermoedelik een van die gevangenes is wat op parool uit die Grootvlei-gevangenis by Bloemfontein gelaat is nadat pres. Cyril Ramaphosa afgekondig het sowat 19 000 gevangenes word vroeër uitgelaat om te keer dat die virussiekte in die tronke versprei.

Die polisie het nog net een van die vier verdagtes in hegtenis geneem. ’n Tweede verdagte het ontsnap kort nadat hy gevang is.

Daleen van der Hoven (80), Ystervrou van Zastron soos wat sy gelyk het ná die plaasaanval in die nag van 3 Julie vanjaar.

Die speurders weet wie die twee verdagtes met misdaadrekords in Suid-Afrika is, sê Du Plessis.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, het vroeër gesê die departement van korrektiewe dienste (DKD) sal die inligting moet bevestig.

Van der Hoven het verlede Vrydag in ’n onderhoud met Netwerk24 presies vertel hoe sy die nag van 3 Julie op die plaas oorrompel en twee keer hard met ’n yster oor die kop geslaan is. Kosbare familiejuweliersware, grysblou Nike-tekkies met oranje veters wat sy op ’n oorsese reis in Italië gekoop het, sowat R3 000 kontant, en haar oorlede man se twee gewere en ’n windbuks is geroof.

Die mans het toe met haar in haar Audi gevlug. Sy is aan die Lesotho-kant van die grens in die koue nag afgelaai waarna hulle die motor sowat 2,5 km daarvandaan uitgebrand het.

Van der Hoven het by ’n hut in die omgewing gaan aanklop om hulp. Sy is daar in komberse toegedraai en haar bure is gebel wat haar daar gaan haal het.

Van der Hoven het verlede Vrydag vir Netwerk24 gesê sy kry geweldige hoofpyne van die drukking op die brein wat deur die gestolde bloed veroorsaak word.

Meer oor:  Daleen Van Der Hoven  |  Zastron  |  Ystervrou  |  Aanval  |  Hospitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.