Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zephany-boek ‘breek’ ouers

Miché Solomon beskryf watter marteling haar geliefde steel-ma se hofsaak vir  haar was, berig Julian Jansen.

Só lyk Miché Solomon – Zephany – vandag. Foto: NB UITGEWERS

Die blydskap om hul ontvoerde dogter, Zephany, ná 17 jaar te vind, het vir Ce­leste en Morné Nurse in trane geëindig.

’n Vriend van Celeste het Saterdag vir Rapport gesê sy is gebroke oor die goed wat haar biologiese dogter gesê het in ’n boek oor hul lewe wat hierdie week verskyn het.

Hy het ook gesê Morné dreig met regstappe oor die dinge wat oor hom gesê is.

Zephany is twee dae ná haar geboorte uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gesteel deur Lavona Solomon, wat haar toe as haar eie grootgemaak het.

Dit is die vrou wat elke dag daar was vir my.
Miché Solomon

Lavona se man, Michael, het geglo die kind is syne totdat die bedrog 17 jaar later oopgevlek is en Lavona vir tien jaar tronk toe is.

Zephany het besluit om die naam te hou wat haar steel-ma vir haar gegee het, Miché Solomon, en sy het gekies om by haar grootmaakpa te woon.

Die Nurses is geskei kort voordat hulle hul dogter gevind het. Sedert sy opgespoor is, het hulle probeer om met haar ’n verhouding te bou, maar dit was van die begin af rampspoedig, blyk dit nou.

Morné en Celeste Nurse in 2016. Foto: Wesley Martin

Toe sy haar biologiese ouers die eerste keer ontmoet het, het sy hulle omhels, maar “niks gevoel nie, absoluut niks,” het sy aan die skrywer van die boek, Joanne Jowell, gesê.

Van hul eerste uitstappie saam, vertel sy: “Ek het in die kar geklim en Celeste het met haar voete op die paneelbord gesit – soos ’n kind! Ek onthou Morné het in die kar gerook en die musiek was hard . . . En ek was soos: Rêrig? Julle is my ouers?”

Miché het dieselfde dag nog vir hulle gesê sy wil nie by hulle gaan bly nie. “Ek kan nie terugkom na ’n gesin wat gebroke is nie . . . Ek is nie gewoond aan so iets nie,” het sy gesê.

Miché beskryf hoe verskeurd sy gevoel het. Sy het verlang na die vrou wat sy vir 17 jaar as haar ma geken het. Trouens, sy sê sy het aanvanklik voorgegee dat sy bly is om haar biologiese ouers te ontmoet om vir hulle te wys dat Lavona “ ’n ordentlike dogter” grootgemaak het.

Lavona se hofsaak was vir Miché ’n marteling.

Miché Solomon (5) en haar steel-ma, Lavona, destyds.

“Ek het my mammie (op televisie) sien loop na die hofgebou met ’n hoodie aan en ’n doek oor die gesig. Sy het byna gelyk soos iemand wat arm is. Mense het haar uitgevloek . . . Dit het my gebreek. Dit is die vrou wat elke dag daar was vir my, wat middagete vir my en my vriende gemaak het as ons van die skool af kom, en hier is sy nou op die televisie en word ’n misdadiger genoem.”

Op die dag toe Lavona gevonnis is, was die familie wat Miché grootgemaak het gebroke, maar die Nurses het ’n groot partytjie gehou om dit te vier. Maar hulle het haar glad nie gekontak nie.

“Geregtigheid het vir hulle geskied, maar hulle het nie een keer gewonder hoe hul dogter voel nie,” sê Miché. Sy sê in die boek haar ouers is Michael en Lavona. Celeste en Morné bestempel sy as “die 2de partye.”

Op die aand van haar matriekafskeid het Morné en Celeste se families in die straat op mekaar geskel nadat Morné se minnares daar opgedaag het.

Miché het haar biologiese ouers ’n paar keer gekonfronteer oor hul gedrag. Sy het onder meer vir Celeste gesê sy is onbetroubaar, vir Morné gevra om haar uit te los en vir hom gesê hy is nie haar “regte daddy” nie. En sy was woedend omdat hy haar grootmaakpa, Michael, ’n “idioot” genoem het en vir haar ’n “spoilt brat”.

Michael en Lavona Solomon. Foto: Jonathan Lestrade

Die skrywer van die boek het op Miché se versoek onderhoude gevoer met verskeie mense wat haar deur die drama bygestaan het, maar die Nurse-familie het geweier om saam te werk.

Die kinderregte-aktivis Joan van Niekerk sê reguit die Nurses het Miché in die steek gelaat.

Sophie Botha, ’n onderwyseres en vertroueling van Miché, beskryf hulle as “aasvoëls, aangedryf deur geldgierigheid en roem, wat die situasie tot hul eie voordeel benut”.

“Hulle wou op die voorgrond wees en hulle wou geld hê. Dit was aaklig om te sien wat die kind met dié mense deurgegaan het,” sê Botha.

Adv. Ann Skelton, hoof van die sentrum vir kinderreg, wat Miché met regshulp bygestaan het, sê Morné en Celeste het geld gemaak uit hul verhouding met die media terwyl Lavona se verhoor aan die gang was.

Ná die Nurses se egskeiding het Celeste rondgeswerf en geld geleen, onder meer by Miché se pa, vertel Miché. Die Nurses wou in ’n stadium ook ’n boek oor hul ervaring skryf.

Volgens Van Niekerk het dit vir Miché gevoel sy word uitgebuit.

Miché sê sy het geviktimiseer gevoel deur Morné en Celeste se “konstante drama”.

In teenstelling met die spanning by die Nurses, skets Miché in die boek ’n prentjie van ’n gelukkige kinderlewe in Gladiola­straat, Seawinds. Lavona was ’n kleremaakster en Michael ’n elektrisiën.

Hulle het gewoon in ’n “huisie met baie liefde, maar min buffers teen die buitewêreld”, beskryf adv. Skelton haar grootwordplek.

Celeste bly deesdae by haar ma, Marilyn Francis, saam met haar twee jongste kinders.

Francis het vir Rapport gesê Miché het aanvanklik vir haar kom kuier, maar deesdae kommunikeer hulle meestal deur WhatsApp.

Miché en Celeste het nie op die oomblik kontak nie, sê sy.

Miché het Vrydag vir die Kaapse radiostasie KFM gesê haar biologiese pa is baie ontsteld oor “sekere lelike goed” wat in die boek gesê is.

Sy het hom probeer bel, maar hy het die telefoon net doodgedruk, het sy gesê.

Sy het gesê daar is “hardcore brutale” redes vir haar optrede teenoor haar biologiese ouers.

* Lees ook 'n uittreksel uit Zephany se boek hier.

Meer oor:  Zephany  |  Lavona Solomon  |  Celeste Nurse  |  Miché Solomon  |  Morné Nurse  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.