Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zephany: Ek is nog steeds lief vir haar...

Op die dag toe die ma wat haar as baba gesteel het gevonnis is, het haar biologiese familie partytjie gehou. Hulle het nie gewonder hoe sy, hul dogter, daaroor voel nie, vertel Miché Solomon in dié uittreksel uit die boek oor haar lewe.

Miché Solomon en haar steel-ma, Lavona, by die Soetwaters-kampeerterrein waar die gesin gereeld vakansie gehou het.

Ek was by die werk die dag toe my ma gevonnis is. My werkplek is in Koningin Victoriastraat, digby die hooggeregshof. [Miché het ná matriek as ’n intern in die kantoor van Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, gaan werk].

Dis so naby dat ek my enige tyd kon vasloop in mense wat op pad is na my ma [haar steel-ma, Lavona Solomon] se verhoor. Een keer het dit amper gebeur toe ek by die koffiewinkel daar naby was.

Ek het geweet my ma sou dié week gevonnis word, maar ek het nie geweet presies wanneer nie. Op dié dag kom die minister ingestap in die kantoor waar ek sit en hy vra: “Het jy gehoor wat die uitspraak is? Weet jy wat aan die gang is?”

Ek het op Google gaan kyk, want die minister wou nie vir my sê nie. Ek het dadelik gesien sy is tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Het hulle (die Nurses) haar ooit gevra of sy ’n dak oor haar kop het, of sy klere het?

My foon het gelui. Dit was my daddy [Michael Solomon, die pa wat haar grootgemaak het]. “Sy het tien jaar gekry,” sê hy. “Tien jaar.”

My hele familie was by die hof. My daddy het my vertel my niggie het flou geval en almal het baie emosioneel geraak toe die regter die vonnis uitgespreek het. Hoe is dit selfs moontlik dat sy so lank weg van ons gaan wees, terwyl sy vir jare elke dag in ons lewe was?

My daddy het gevra hoe ek voel. Ek kon dit nie beskryf nie.

”Dis orraait, dit gaan oukei wees,” was al wat ek kon sê.

Celeste Nurse met klein Zephany voordat sy uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer is.

Die minister het gesê ek kan huis toe gaan, dat hy my ’n hele week verlof gee en dat ek ’n tydjie gaan ontspan. My daddy het my dié oggend ná elfuur kom haal. Toe ek by die kantoor uitstap, staan daar ’n hele klomp mense buite. Almal het baie bekommerd gelyk en gevra of ek oukei is. “Ek is orraait,” het ek vir hulle gesê. “Dit gaan oukei wees.”

Wat het ek gevoel?

Teleurgesteld. Hartseer. Verward. En ek moet sê – ’n bietjie verbaas. Want ondanks alles het ek nog steeds hoop gehad dat my ma nie tronk toe sou gaan nie.

Ek onthou die dag toe sy skuldig bevind is.

Ek was besig om eksamen te skryf. Ek onthou ek het huis toe gekom en almal het net in stilte in die sitkamer gesit. Dit het eerlikwaar vir my gevoel of iemand daardie dag dood is. Ek het na my kamer toe gegaan en op my bed in trane uitgebars.

Miché Solomon saam met haar grootmaak-pa, Michael Solomon.

Ek het net gehuil en gehuil en gehuil. Hoe gaan ek dit hanteer?

Gaan my ma tronk toe?

My boyfriend was dié dag ook daar, en hy het my kom troos.

“Dit gaan oukei wees,” het hy gesê. “Ten minste het jy geweet jy kan so iets verwag. Moenie dit as ’n yslike skok sien nie.”

Maar ek het nogtans gehoop dat sy op die een of manier nie skuldig bevind gaan word nie.

Miché Solomon en haar suster, Cassidy Nurse.

Later het almal na my kamer toe gekom en my verseker hulle sou daar wees vir my, dat alles orraait sou wees. Dit het gevoel of hulle simpatiseer nadat iemand dood is. En regdeur die huis was daar hierdie diepe hartseer.

Ek reken sewe maande later, op die dag dat my ma gevonnis is, was ek ’n bietjie meer voorbereid. Ek het ’n ruk lank reeds geweet daar sou ’n straf wees, so dit het my nie so swaar getref soos toe sy skuldig bevind is nie. Maar ek het myself oortuig sy sou nie tronkstraf kry nie. Ek het gedink miskien gee hulle haar twee jaar, met huisarres daarna. Ek het selfs gehoop sy kry net gemeenskapsdiens, al het ek verstaan dis nie sommer ’n klein oortreding soos winkeldiefstal nie. Maar tien jaar . . . Tien jaar is ’n láng tyd.

Ek het nie ’n woord van die Nurses gehoor op die dag toe my ma gevonnis is nie. Nie een van hulle het daardie dag by my huis kom aanklop nie; nie Celeste [haar biologiese ma] nie, nie Morné [haar biologiese pa] nie. As hulle net kon gedink het hoe Zephany op hierdie oomblik voel. Hulle het geweet ek is lief vir my ma. Ek het dit duidelik gemaak dat my mammie altyd my mammie sou wees; vanselfsprekend sou dit my seermaak dat sy tot ’n lang tronkstraf gevonnis is.

Maar nie een van die twee nie, en niemand van daardie familie nie, het gekom om te vra of ek hulle nodig het of met hulle wil praat nie.

Niks.

Dié stuk is ’n geredigeerde uittreksel uit die boek Zephany: Twee ma’s. Een dogter. Dis geskryf deur Joanne Jowell en word uitgegee deur Tafelberg.

Die Nurses het ’n baie groot partytjie by Morné se familie gehou en ek kan nie sê dis verkeerd nie, want in hulle oë het geregtigheid geskied. Geregtigheid het vir hulle geskied, maar hulle het nie een keer gewonder hoe hul dogter voel nie.

Hulle kon nie van my verwag om my ma te haat nie. Ja, ek was kwaad vir haar, en kwaad dat daar vir my gelieg is, maar ek was nog steeds lief vir haar! Ek het nie omgegee of sy dit gedoen het of nie.

Die Nurses kan ook nie sê al hul probleme is deur my ontvoering veroorsaak nie. Volgens wat Celeste my vertel het, was daar al probleme nog voor ek gebore is; nie ál hulle teëspoed kom daarvan dat ek gesteel is nie. Vir die publiek het hulle dit laat lyk asof dit Lavona se skuld is dat hulle geskei is; en dat dit as gevolg van dié vrou was dat Celeste selfmoord probeer pleeg het. Maar die publiek ken nie die res van hul storie nie.

Zephany is ook Miché
Zephany Nurse se familie
- Morné Nurse noem sy “Dad”
- Celeste Nurse noem sy “Mum”
- Cassidy Nurse (suster)
- Joshua Nurse (broer)
- Micah Nurse (suster)
- Marilyn Francis (Celeste se ma)

Miché Solomon se familie
- Michael Solomon noem sy “Daddy”
- Lavona Solomon noem sy “Mummy”
- Gerald (Lavona se susterskind)
- Sofia (Miché se eerste kind)

Ek onthou die dag toe Morné my pa ’n “idioot” genoem het. Ek wou vir hom sê: “Wel, hierdie ‘idioot’ werk nog heeltyd vir jou dogter en onderhou haar. Gee jy ooit om oor wat ek nodig het?”

Ná die vonnisoplegging, toe my niggie flou geword het, het my tannie ook ’n uitbarsting gehad. Jy kan dit aanlyn sien saam met al die ander goed. Sy kon dit nie meer hou nie, en sy het vir die kameras gesê: “Het hulle (die Nurses) haar ooit gevra of sy ’n dak oor haar kop het, of sy klere het? Sy wil niks met hulle te doen hê nie. Nie as gevolg van enigiets anders nie, maar omdat hulle nie vir haar omgee nie! Dit gaan nie oor my familie nie. Dit gaan oor Zephany!”

Mense vra my altyd: “Hoe sal jy voel as dit met jou kind gebeur?”

Ek kan eerlikwaar nie sê nie; dis ’n verskriklike ding om jou in te dink. Ek kan maar net hoop dat die persoon wat dalk my kind steel, sal wees soos die ma wat my grootgemaak het – dat die enigste ding wat sy wil hê, is om ’n kind lief te hê, om deur ’n kind liefgehê te word; geen ander bedoelings soos om kinders seer te maak, babas te verkoop of mensehandel nie.

Net liefde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.