Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zephany Nurse praat Courtney se ma moed in
Zephany Nurse (20) bemoedig Juanita Pieters, wie se dogtertjie dae lank vermis was en uiteindelik dood gevind is. Foto: Shantel Moses

Zephany Nurse, die vrou wat 20 jaar gelede in Kaapstad as baba uit die Groote Schuur-hospitaal gesteel is, het Woensdag haar medelye aan Courtney Pieters se ma betoon en vir die eerste keer oor haar ervaring gepraat.

Nurse, wat drie dae oud was toe sy ontvoer is, sê Courtney se verhaal het haar genoop om haar stilswye te verbreek.

Courtney was nege dae vermis nadat sy op 4 Mei laas lewend gesien is. Haar lyk is tussen vullis in die nywerheidsgebied in Epping, Kaapstad, gevind.

Mortimer Saunders (40) word daarvan aangekla dat hy haar verkrag en vermoor het.

“Ek kan aanklank vind by haar storie. Ek is ook ontvoer, en ek kan my nou net indink deur watter pyn my ouers moes gaan. Al die partye gaan steeds deur ’n harde, pynlike tyd. Ek weet hoe die familie nou moet voel. Niemand was voorbereid daarop nie. Dit is pyn wat net op jou afgestoot is.”

Nurse sê Moedersdag was die moeilikste.

“Daar is nie ’n vinnige oplossing nie. Meestal leef ek vir die dag. My [grootmaak]ma sal altyd deel wees van my lewe.”

Nurse sê sy is jammer dat Courtney se ouers nie hul kind lewend teruggekry het nie.

“As ’n familie kan julle daardeur kom. Jy moet sterk wees. Jy gaan jou kind mis, maar jy sal hierdeur kom. Ek vind aanklank by jul verhaal, want ek het my ma deur alles verloor – wel nie fisiek nie, maar ek het haar verloor,” het sy aan Courtney se ma, Juanita, gesê.

Juanita se trane het gevloei toe sy weer vertel het waardeur sy die afgelope twee weke is.

“My babatjie is verkrag en vermoor,” het sy in trane gesê.

Nurse sê sy het ook ’n dogtertjie en vrees vir haar lewe. “Ek moes vir my dogters se onthalwe uit my dop kruip. Om ’n kind te ontvoer is so verkeerd. Ek het darem die geleentheid om ná alles te kan opstaan en met my lewe aan te gaan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.