Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zephany Nurse seuntjie ryker

Sy het baie opgeoffer, maar dit is ’n uitdaging wat sy met haar hele hart aangepak het.

Zephany Nurse se tweede baba, ’n seuntjie, is op Saterdag 29 September in die Mowbray-kraamhospitaal gebore.

Nurse, wat haar eerste baba, 'n dogtertjie, in Februarie 2017 gehad het, weet dat sy nog baie meer gaan opoffer, maar sy is positief oor die toekoms.

Sy het in Februarie 2015 (sy was toe 17) uitgevind sy is as baba uit die Groote Schuur-hospitaal gesteel.

Die vrou wat sy as haar ma ken, is in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind op ’n klag van kinderontvoering.

Nurse vertel haar babaseun is weens komplikasies vroeg gebore.

Zephany Nurse as baba by haar biologiese ma, Celeste Nurse. Foto: Verskaf

“Om ’n ma te wees het my op ’n goeie manier beïnvloed. Ek is meer volwasse en het my meer voorberei oor hoe om die lewe aan te pak,” sê sy.

“Ja, ’n mens moet baie opoffer – tyd vir jouself, jou lyf, geld, te min slaap – en dit vertraag jou planne vir die toekoms ’n bietjie.

“Soos wat jy jou omstandighede aanvaar, leer ’n mens om jou lewe beter te beplan. Ek prioritiseer en ek weet alles gaan nie oor my nie. Ek weet ek moet baie opoffer om ’n goeie werk te kry en my studies te begin. Gelukkig is die manier waarop ek grootgemaak is ’n sterk grondslag daarvoor.”

Nurse sê haar grootmaakouers het haar geleer om verantwoordelikheid te aanvaar vir dit wat jy doen en om op ’n positiewe uitkoms te fokus en om van jou foute te leer.

“Hulle het my geleer om myself te bemoedig wanneer ’n slegte besluit geneem is. Ja, die tyding was nie perfek nie, maar dat dit nie sal definieer wie ek is nie.”

Haar ouers het haar ook geleer om volgens ’n plan te werk en as die plan nie werk nie, moet jy ’n nuwe plan uitpluis.

“Ek gebruik hierdie beginsels elke dag van my lewe. Dit is hoe ek vrede gemaak het met dit wat met my gebeur het.”

Haar verhouding met haar biologiese ouers, Morné en Celeste Nurse, is “nie perfek nie en is ook nie soos wat ek dit sou wou hê nie”, maar die verhouding met haar grootmaakouers is sterker.

“Veral met my pa. Hy is my held en ondersteun my baie.”

Nurse se kinders het nie dieselfde pa nie.

“Ek en die pa van my seun is nie getroud nie, en ons voel nie reg om nou nog ’n groot verantwoordelikheid aan te pak nie omdat ons nog nie voorbereid is daarop nie.

“Dit is beslis ’n moontlikheid en ons sal dit in die toekoms oorweeg.”

* Die berig is geskryf op voorwaarde dat ons nie Nurse se kinders se name noem nie.

Meer oor:  Zephany Nurse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.