Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zephany Nurse wil haar regte naam bekend maak

Die jong vrou wat as baba uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gesteel en op 17-jarige ouderdom deur haar biologiese ouers gevind is, vra in hofstukke wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is dat ’n tussentydse interdik wat haar identiteit beskerm, opgehef word.

Zephany Nurse (22) voer in haar beëdigde verklaring wat deel is van haar aansoek aan dat sy in die vier jaar sedert regter Eberhard Bertelsmann die interdik toegestaan het, die geleentheid gehad het om dit wat met haar gebeur het te verwerk.

Zephany is nie die naam waarmee sy grootgeword het nie.

Sy is die tweede respondent in die aansoek, waarop haar naam as KL aangedui word.

Celeste Nurse met Zephany. Foto: Mail Online/Barcroft Media via Getty Images.

In haar verklaring sê sy haar posisie is nou “fundamenteel anders as toe die bevel toegestaan is”. Sy sê ook sy het vrede gemaak met haar “nuwe realiteit”.

Volgens haar is dit moontlik gemaak deur die professionele hulp wat sy gekry het sedert sy van haar agtergrond bewus geword het en ook omdat die hof met die toestaan van die tussentydse interdik haar die geleentheid gegee het om die gebeure op haar eie tyd en op haar eie voorwaardes te verwerk.

Nurse sê indien haar aansoek dat die interdik opgehef word, toegestaan word, sal dit haar die geleentheid gee om haar storie te vertel, insluitend deur ’n boek wat op 23 Augustus op die rakke sal wees.

Hiervoor moet die interdik teen 16 Augustus opgehef wees sodat die boek gedruk en gepubliseer kan word.

Sy sê ook sedert dit onder haar aandag gekom het dat sy as baba gesteel is, het haar lewe nooit weer na normaal teruggekeer nie. “Dit sou veel erger gewees het as my identiteit toe ek jonger was aan die publiek bekend was en in ’n openbare hof geparadeer sou gewees het. Ek sou ook nooit die punt waar ek nou in my lewe is bereik het sonder die interdik se beskerming nie.”

Nurse meen ook, op grond van haar eie ondervinding, dat elke mens die reg het om self te besluit of en wanneer hulle hul storie wil vertel en dat die media hulle nie sonder hul toestemming mag identifiseer nie.

“Dit kan nie genoeg beklemtoon word nie,” lui haar beëdigde verklaring.

Nurse, die Sentrum vir Kinderreg, Childline, Nimro en Media Monitoring Africa het in Mei vanjaar ’n aansoek by die konstitusionele hof in Johannesburg ingedien waarin hulle vra dat die hof ’n uitspraak van die appèlhof in Bloemfontein bekragtig dat art. 154(3) van die Strafproseswet nie voldoende beskerming aan minderjarige slagoffers bied nie.

Dié artikel lui dat geen persoon op enige manier hoegenaamd enige inligting mag publiseer wat die identiteit van ’n beskuldigde of getuie onder die ouderdom van 18 jaar in strafverrigtinge onthul of moontlik kan onthul nie. Dit sluit dus nie minderjarige slagoffers van misdaad in waar daar nie ’n strafsaak is nie.

Hulle vra die hof ook om die appèlhof se verwerping van hul aansoek dat minderjarige slagoffers, getuies en beskuldigdes in strafsake se identiteit vir ewig ’n geheim moet bly en nooit op enige wyse deur die media onthul moet word nie, om te keer.

Uitspraak in dié aansoek is voorbehou.

Nurse sê in haar beëdigde verklaring sy steun steeds die aansoek by die konstitusionele hof. “Ek meen dié saak is nodig om seker te maak dat kinders (en selfs jong volwassenes) wat weerloos is – soos ek was toe ek 18 geword het, en selfs vir ’n tyd daarna – teen wat beskou kan word as die brutale aanslae van die media en publisiteit beskerm word.”

Volgens haar moet hulle op hul eie voorwaardes, wanneer hulle gereed is daarvoor, vrywillig en ná oorweging deur die hof, hul identiteit bekend kan maak.

“Ek vra hiermee dat die huidige beskermingsbevele wat op my van toepassing is, opgehef word.”

Nurse en die ander aansoekers vra dat die aansoek vir 13 Augustus op die dringende hofrol geplaas word sodat dit teen 16 Augustus aangehoor kan word.

Meer oor:  Zephany Nurse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.