Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zim-boere eis miljarde by SA

Onteiende boere van Zimbabwe gaan nou miljarde rande by die Suid-Afrikaanse regering as vergoeding eis.

Die eerste tien verarmde boere het Vrydag ’n kennisgewing op die Suid-Afrikaanse regering beteken dat hulle R1,9 miljard se vergoeding gaan eis weens Suid-Afrika se aandadigheid aan hul lot.

Dié stap volg op die konstitusionele hof se uitspraak Woensdag wat beslis het oudpres. Jacob Zuma se dade wat daartoe bygedra het dat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se tribunaal ontbind is, onwettig was. Die SAOG-tribunaal was dié boere se laaste strooihalm om vergoed te word vir wat dié tribunaal reeds bevind het rassistiese en arbitrêre grondvergrype van die Zimbabwiese regering was.

Van die boere het só verarm dat hulle omtrent nie ’n bestaan kan maak nie.

Die eis van R1,9 miljard is vir die waarde van die tien boere se grond, sowel as pyn, lyding en skending van hul grondwetlike regte onder oudpres. Robert Mugabe se regime.

Sowat 4 000 wit boere in Zimbabwe het sedert 2000 hul grond verloor en dié geding kan ’n stortvloed van eise teen Suid-Afrikaanse belastingbetalers tot gevolg hê.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het die afgelope week bevind Zuma het geen reg gehad om in 2014 ’n protokol te onderteken wat die SAOG-tribunaal gestroop het van sy jurisdiksie om eise van individue aan te hoor nie.

Die SAOG-tribunaal, wat in Windhoek gesetel was, het in 2009 al ten gunste van 78 wit boere beslis en die Zimbabwiese regering beveel om hulle te vergoed en grondroof te staak.

Mugabe se regering het hulle nie aan die interdik gesteur nie.

Drie van dié boere – Chris Jarrett, Larry Cumming en Andrew Kockott – het toe die SAOG-tribunaal genader om spesifieke vergoedingsbedrae te beslis, maar voordat dít kon gebeur, het Mugabe, Zuma en kie ’n stokkie daarvoor gesteek. Dié drie boere is onder die tien wat nou van die Suid-Afrikaanse regering eis. Sommige van die tien is Suid-Afrikaners wat eiendom in Zimbabwe verloor het.

Die SAOG-leiers het in 2014 op ’n beraad die tribunaal se bedrywighede opgeskort. Die tribunaalregters se verstrykte termyne is nie verleng nie, wat die instelling ontman het. Nuwe regters is nie aangestel nie.

“Ons (Suid-Afrika) het dus gehelp om Suid-Afrikaanse en ander SAOG-lande se burgers te ontneem van geregtigheid op ’n streeksvlak in hul dispute oor menseregte, demokrasie en die oppergesag van die reg,” het Mogoeng gesê.

“Zuma het eintlik die regte van al die mense in ons (eie) land verontagsaam,” het Mogoeng gesê.

“Ons president (Zuma) het die protokol onderteken wat nie eens deur driekwart van die lidstate ondersteun is nie,” het hy verder gesê.

Die uitspraak bring mee dat pres. Cyril Ramaphosa Zuma se handtekening op die protokol moet terugtrek.

Die saak wat voor die konstitusionele hof was, is aanhangig gemaak deur die Prokureursorde van Suid-Afrika, asook die boere Luke Tembani, Benjamin Freeth, Richard Etheredge, Jarrett en die private boerderymaatskappye Tengwe Estate en France Farm.

Die boere word deur AfriForum bygestaan.

Willie Spies, ’n prokureur vir AfriForum, sê die R1,9 miljard-eis is gegrond daarop dat Suid-Afrika medepligtig was daaraan dat Zimbabwiese boere nie hul geskille voor die tribunaal kon bring nie.

Die Suid-Afrikaanse regering se onregmatige optrede is ’n eisoorsaak.

Formele dagvaardings sal einde Januarie uitgereik word indien die regering nie aan hul eise voldoen nie.

Die meeste onteiende boere moes ’n ander bestaan begin maak, soos deur goedere te verkoop.

Tembani (onder die tien eisers) smous suiker op straat en Deon Theron (ook onder die tien), wat visepresident van Zimbabwe se kommersiële boerevereniging was, maak dikmelk, sê Spies. “Van die boere het só verarm dat hulle omtrent nie ’n bestaan kan maak nie.”

Spies sê ’n boer en sy vrou het byvoorbeeld in ’n plakkerskamp in Harare geëindig. Die boer het kanker gehad. Hy is op die sinkhuis waarin hy gebly het, se sementvloer dood. Die plakkerskamp se inwoners het hom daar begrawe.

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, sê die eis teen die Suid-Afrikaanse regering is ’n “drukmeganisme” om die regering te dwing om die tribunaal op die been te kry.

Op dié manier kan die regering die eis dalk “afweer” en die belastingbetaler die rekening spaar. Hy sê die tribuunaalgebou “is steeds daar” en die regters moet net aangestel word. ’n Werkende tribunaal is haalbaar.

As die boere se eise by die tribunaal uiteindelik suksesvol is, kan bates van die Zimbabwe-regering uitgewin word om die eise uit te betaal, sê hy.

Spies sê daar is wel min bates in Zimbabwe oor. “Maar alle state hét bates, soos vliegtuie, wat opgeveil kan word.”

AfriForum het byvoorbeeld in 2015 ’n huis van die Zimbabwe-regering in Kenilworth, Kaapstad, vir amper R4 miljoen laat opveil ten bate van sowat 70 wit boere wat van hul plase verdryf is.

Spies sê die sowat 4 000 onteiende boere sal moet besluit of hulle van die Suid-Afrikaanse regering wil eis, of hul sake na die tribunaal toe wil neem.

Mvuzo Notyesi en Ettienne Barnard, medevoorsitters van die Prokureursorde van SA, het in ’n verklaring gesê dis ’n oorwinning vir alle burgers van SAOG-lande.

“In Suid-Afrika het ons ’n onafhanklike en doeltreffende regbank, maar dit is nie ’n gegewe dat dit altyd so sal wees nie. Dit is ook nie noodwendig ons medeburgers van SAOG-lande beskore nie. Die Prokureursorde maan ons president en regering om ernstig te besin oor dié uitspraak en om dit in berekening te bring wanneer Suid-Afrika se standpunt oor die Internasionale Strafhof oorweeg word.”

Suid-Afrika het in 2016 besluit om aan die Internasionale Strafhof te onttrek nadat Suid-Afrika op die vingers getik is toe die regering nie pres. Omar al-Basjir van Soedan in hegtenis geneem het nie.

Dié besluit van die Zuma-regering is egter nog onderhewig aan ’n parlementêre proses en hofgevegte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.