Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Zindzi Mandela dag voor pa se verjaardag begrawe

’n Dag voordat oudpres. Nelson Mandela se verjaardag herdenk word, is sy jongste dogter, Zindzi Mandela (59), Vrydagoggend ter ruste gelê.

Sy is in die Fourways Memorial Park in Johannesburg begrawe en familie en vriende het die geleentheid bygewoon.

Zindzi Mandela (59) se oorskot word Vrydagoggend van haar huis in Orlando-Wes in Soweto na die Fourways Memorial Park geneem. Foto: Felix Dlangamandla

Van die politici wat daar was, sluit onder andere Julius Malema, leier van die EFF, Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, en Geoff Makhubo, burgemeester van Johannesburg, in.

’n Kort roudiens is gehou voordat sy begrawe is.

Soos deur die inperkingsregulasies vereis, was daar net 50 mense by die roudiens.

Zindzi is begrawe langs haar ma, Winnie Madikizela-Mandela, wat op 2 April 2018 dood is.

Twee ander lede van die Mandela-gesin, Zenawe en Zenani, is ook in die Fourways Memorial Park begrawe.

Haar pa is in Qunu in die Oos-Kaap begrawe nadat hy op 5 Desember 2013 dood is.

Familie en vriende toon Vrydagoggend medelye by die huis van Zindzi Mandela in Orlando-Wes, Soweto. Foto: Felix Dlangamandla

Malema het by die begrafnis aan die SAUK gesê Zindzi se dood is ’n groot terugslag vir Suid-Afrika. “Ons sukkel om haar dood te aanvaar en te verwerk. Maar, dit kom saam met die dood,” sê hy.

Hy het haar beskryf as ’n vreeslose vrou, nes haar ma, Winnie.

“Van jongs af moes sy die mees wrede regime van apartheid oorwin. Sy was sy nie bang om haar standpunt te stel nie. Sy was nog nooit bang nie.”

Malema het gesê nie eens Covid-19 sou hom keer om haar begrafnis by te woon nie.

“As Covid-19 ons saam met haar vat, dan is dit nou maar so.”

’n Emosionele Sisulu het aan die SAUK gesê Zindzi se begrafnisdiens is uiters spesiaal. “Wat kan ek sê? Die roudiens veral was baie mooi. Ek hoop sy (Zindzi) is orraait waar sy is. Ek hoop haar ma kyk mooi na haar.”

Familie en vriende by die huis van Zindzi Mandela in Orlando-Wes, Soweto, kort voor haar begrafnis in Fourways, Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Sisulu het gesê Zindzi die haat teenoor haar op sosiale media ná haar dood is ontstellend.

“Die mense op die haatmedia het nou baie te sê omdat hulle weet Zindzi sal nie kan reageer nie,” het sy gesê.

Makhubo het aan die SAUK gesê Zindzi se dood is ’n groot terugslag vir Johannesburg se mense. “Sy het so baie vir die stad gedoen. Ons gaan haar mis.”

Hy het gesê haar dood affekteer nie net Johannesburg nie, maar die hele Suid-Afrika. “Ons het ’n leier verloor.”

Die lykswa vertrek Vrydagoggend met Zindzi Mandela se oorskot van haar huis in Orlando-Wes na die Fourways Memorial Park waar sy later ter ruste gelê is. Foto: Felix Dlangamandla

Sy het Maandag in Johannesburgse hospitaal gesterf.

Dit is steeds onbekend waaraan sy dood is en die Mandela-gesin wag op die uitslag van ’n nadoodse ondersoek.

Haar seun, Zondwa, het bevestig dat sy ma voor haar dood positief vir die koronavirus getoets is.

Zindzi was ten tyde van haar dood ’n Suid-Afrikaanse ambassadeur in Denemarke.

Meer oor:  Zindzi Mandela  |  Verjaardag  |  Begrawe  |  Madiba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.