Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zindzi se suster kom SA binne sonder kwarantyn

Wyle Zindzi Mandela se begrafnis Vrydag is in omstredenheid gehul nadat EFF-leiers strydig met die inperkingsregulasies sonder maskers en styf langs ander begrafnisgangers vir foto’s geposeer het.

Dali Mpofu, oudvoorsitter van die EFF, Zenani Mandela-Dlamini, ouer suster van Zindzi Mandela, en Julius Malema, EFF-leier ná die teraardebestelling van Zindzi. Foto: TWITTER

Die SAUK het boonop Woensdag berig dat Zenani Mandela-Dlamini, ouer suster van Zindzi en Suid-Afrika se ambassadeur in Suid-Korea, Woensdagoggend in Suid-Afrika geland het – wat beteken dat sy die land binnegekom het sonder om, soos alle ander sterflinge wat hier arriveer, vir 14 dae in kwarantyn geplaas te word.

Lungi Mtshali, woordvoerder van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, was nie gister beskikbaar om Rapport se navrae hieroor te beantwoord nie.

Julius Malema, leier van die EFF, het later – dié keer met ’n masker – aan die SAUK gesê daar was geen manier dat die EFF-lede die begrafnis sou misloop nie.

“Dis hoekom ons te midde van hierdie moeilike tyd van korona gesê word om te bly waar ons is, maar ons het gesê daar is geen manier waarop ons tuis kan sit wanneer Zindzi begrawe word nie.

Zindzi Mandela

“As dié korona ons saam met haar vat . . . daar is geen manier waarop ons tuis sou bly en nie hier sou wees nie. Sy was met ons oor die grondkwessie toe dit moeilik en ongemaklik was,” het hy gesê.

Slegs nabye vriende en familielede is by Vrydagoggend se begrafnisdiens toegelaat, met die oorledene se oorskot wat in ’n wit bussie vervoer is. Die kis was met ’n pienk kombers bedek.

Die departement van internasionale betrekkinge het gesê Mandela was bestem om Suid-Afrika se volgende ambassadeur in Monrovia, Liberië, te word.

Mandela, wat Vrydagoggend langs haar ma, Winnie Madikizela-Mandela, begrawe is, is Maandagoggend vroeg onverwags in ’n Johannesburgse hospitaal oorlede.

Sy sou in Desember 60 word.

Hoewel sy ook positief getoets is vir Covid-19, is die presiese oorsaak van haar dood nog onbekend.

Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, het egter Vrydag in die ANC se weeklikse nuusbrief, ANC Today, geskryf Mandela het haar lewe weens die pandemie verloor. Ook Malema het haar dood aan dié “onsigbare vyand” toegeskryf.

Groot gewag is die afgelope week gemaak van die jong Zindzi, jongste dogter van oudpres. Nelson Mandela en Winnie, wat bekendheid verwerf het toe sy op 10 Februarie 1985 haar pa se brief uit die Pollsmoor-gevangenis aan oudpres. PW Botha op ’n massasaamtrek in die Orlando-stadion in Soweto voorgelees het.

Botha het Mandela destyds sy vryheid aangebied op voorwaarde dat hy “onvoorwaardelik geweld as ’n politieke wapen afsweer”.

Mandela het die aanbod verwerp.

Pres. Cyril Ramaphosa, wat Donderdagaand by ’n virtuele gedenkdiens van die ANC-vroueliga hulde gebring het aan die oorledene, het gesê haar dapperheid het toe vir almal duidelik geword het.

Sy was slegs ’n jaar oud toe haar pa in hegtenis geneem is en moes reg deur haar kinderdae die destydse veiligheidspolisie se gedurige teistering van haar ma verduur.

Sy het saam met haar ma op Brandfort in die Vrystaat gebly waar Madikizela-Mandela onder huisarres was.

* Lees Herman Lategan se artikel oor Zindzi Mandela in Weekliks.

Meer oor:  Zindzi Mandela  |  Begrafnis  |  Gedenkdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.