Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zita en Gerrie is uit – sy fokus nou op klassieke musiek
Gerrie Pretorius en Zita Pretorius. Hul verhouding is verby, maar hulle is steeds goeie vriende.

Oor minder as ’n maand gaan Zita Pretorius haar 25ste verjaardag vier. Sonder ’n man aan haar sy.

Ná baie bespiegeling het die sangeres Vrydag aan Rapport bevestig sy en Gerrie Pretorius, sanger en televisieaanbieder (Leef jou reis, kyk­NET), is einde verlede jaar uitmekaar.

Die twee het ’n verhouding aangeknoop toe Zita in 2015 aangekondig het sy gaan van die Romanz-sanger Burgerd Botha skei.

“Ek en Gerrie is steeds goeie vriende. Hy is ’n wonderlike mens en ons pas graag ’n koffie in wanneer ons dagboeke dit toelaat.

“Tyd vlieg. Oor minder as ’n maand is ek ’n kwarteeu oud en ek is ongelooflik vervuld en gelukkig. Die dae wat eens moeilik was, is nou mooi helder,” sê sy.

Sy sê namate sy ouer word, besef sy daar is nie altyd antwoorde nie. “Daar word mos gesê, meet jou ouderdom aan jou lewenservaring en nie jare nie. En meet jou lewe in lag, nie trane nie.”

‘Ek is vervuld en gelukkig.’

Sy sê sy fokus nou weer op haar musiek. Sy was ’n ruk uit die openbare oog terwyl sy haar egskeiding verwerk het. Daar was skinderstories oor haar en Gerrie en sy wou nie haar persoonlike lewe met die publiek deel nie.

In dié tyd was sy besig met haar musiekskool en op haar wildplaas in die Waterberge. Sy koester drome om met eksotiese wildspesies te teel.

“Ek het my tyd gevat om te herfokus en ’n deurdagte besluit geneem om my fokus effe te verskuif na die klassieke genre, en tans meer spesifiek opera,” sê Zita wat sedert 2016 as ’n solis vir Gauteng-Opera sing.

“Ek was al in talle groot operaproduksies soos L’elisir d’amore, drie Suid-Afrikaanse operas asook ’n requiem. Klassieke musiek was nog altyd my voorliefde en ook meer geskik vir my stem. Ek werk hard om gerespekteer te word as ’n koloratuursopraan, en droom ook van ’n rol oorsee.”

Sy sing in Julie die rol van Musetta in Puccini se La bohème en is tans te sien in die kinderoperaproduksie The Cradle Under the Shade by Gauteng-Opera se teater, The Tin Town Theatre, in Johannesburg.

“Dit is die eerste keer dat ek betrokke is by ’n produksie wat op kinders gemik is. Dis so ’n voorreg om die moontlike kunstenaars van môre aan hierdie wêreld te kan blootstel. Hul energie en gesiggies wat straal van opwinding is so aansteeklik,” sê Zita.

En moenie bekommerd wees nie, daar is darem ook ’n nuwe album op pad. “Dit gaan ’n ‘classic­al cross­over’ wees en daar is twee enkelsnitte op pad wat opgevolg sal word deur musiekvideo’s.”

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.