Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
ZS-OAK onder die Gupta-bates waarop beslag gelê is

Die Guptas se Bombardier-straler wat die afgelope naweek laatnag stil-stil op die Lanseria-lughawe noord van Randburg geland het, is deur die batebeslagleggingseenheid van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in bewaring geneem, ingevolge ’n bevel van die hooggeregshof in Bloemfontein.

Daarbenewens is ook ’n Bell-helikopter, ’n Cessna-vliegtuig en luukse motors soos ’n Lamborghini, Porsche, Mercedes-Benze, BMW’s en Land Rovers ingesluit by die voorlopige bewaringsbevele wat regter Philip Loubser op 11 April uitgereik het.

Dié bevele, wat ook talle Gupta-eiendomme in Saxonwold, Johannesburg insluit, is aangevra omdat die NGV meen dit is gefinansier uit die opbrengs van beweerde bedrog en diefstal van meer as R250 miljoen uit die omstrede Estina-suiwelprojek by Vrede in die Vrystaat.

Die Gupta-familie se straler Vrydagaand op die Lanseria-lughawe. Foto: Deon Raath, Rapport

Indien die bevele bekragtig word, kan hierdie bates verkoop word om vir dié verlies van die Vrystaatse departement van landbou te vergoed.

Intussen is die Bombardier-straler ZS-OAK ook die onderwerp van ’n afsonderlike hofgeding in Johannesburg oor die meer as R600 miljoen wat ’n Kanadese bank aan twee Gupta-maatskappye voorgeskiet het.

Die nuutste bewaringsbevele in die Vrystaatse hooggeregshof is teen die 11 beskuldigdes wat op 14 Februarie in die streekhof in Bloemfontein op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery verskyn het.

Twee van die mans, Peter Thabethe, die departementshoof van die Vrystaatse departement van landbou, en Nazeem Howa, ’n direkteur van Oakbay, se vroue, Precious Thabethe en Arlene Howa, se bates is ook by die batebeslagleggingsbevele ingesluit.

Die betrokkenes se klere, beddegoed en gewone huishoudelike meubels word nie deur die bevele geraak nie.

Thabethe het ’n huis in Bayswater, Bloemfontein, ’n plaas en twee woonerwe in Mpumalanga. Hy het ’n Porsche Cayenne en Ford Ranger-bakkie.

Seipati Dlamini, voormalige finansiële hoof van die departement, het ’n meenthuis in Hillsboro, Bloemfontein, en ’n huis in Kroonstad.

Van Ashu Chawla, ’n direkteur van Oakbay, is 17 huise, twee plase en ’n helikopter in bewaring geplaas. Dit sluit ook sy eie woonhuis van R3,5 miljoen in Saxonworld in.

Onder sy naam is onder meer ook ’n Lamborghini Gallardo, Porsche Cayenne, Audi Q7, Jeep Grand Cherokee en talle vragmotors en sleepwaens in bewaring geneem.

Onder Varun Gupta se naam is twee hoewes by Pretoria in bewaring geneem.

Ingevolge die bewaringsbevele is die Bombardier-straler en die Cessna-vliegtuig onder die naam van Ronica Ragavan, ’n direkteur van Oakbay in bewaring geneem. Elf huise in Gauteng en die Kaap is onder haar naam gelys.

Meer oor:  Beslagleggings  |  Zs-Oak  |  Guptas-Straler  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.