Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zuma sal dalk eensaam in die tronk oud word – Pauw
Jacques Pauw aan die woord met Ivor Price op die agtergrond. Foto: Jaco Marais

Jacob Zuma gaan eensaam oud word, waarskynlik in die tronk. Sy dae is verby. Hy staan alleen, want hy beteken niks meer vir niemand nie.

Dis die goeie nuus.

Die slegte nuus is dat die oudpresident alles in sy vermoë gaan doen om nié in die hof te staan nie, sê Jacques Pauw, skrywer van die boek The President’s Keepers.

Tot nou is meer as 160 000 eksemplare van sy boek verkoop.

Pauw, wat op die KKNK in Oudtshoorn aan die boekgespreksreeks in die Netwerk24-feestent deelgeneem het, het voor ’n stampvol saal gesê hy twyfel geensins dat daar genoeg deurtastende getuienis van korrupsie en staatskaping teen Zuma is om hom voor die hof te daag.

Vir politici gaan dit oor mag. Mense met mag doen vreemde dinge.

“Hy sal waarskynlik eers ’n aansoek bring dat adv. Shaun Abrahams van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVA) se besluit om hom te vervolg irrasioneel is. Hy gaan aansoek op aansoek bring om die besluit teen te staan, appelleer, ’n versoekskrif aan die konstitusionele hof rig. Dis ’n regsproses wat tot ’n paar jaar kan duur.”

Die ander slegte nuus is dat nie een van die Gupta-broers meer in die land is nie, “en nie hierheen sal terugkeer om in die hof te verskyn nie. En daar is geen uitruilooreenkoms tussen Suid-Afrika en die Verenigde Arabiese Emirate nie.”

Op vrae van die joernalis Ivor Price oor Zuma se “spinnekopverhaal” van staatsinfiltrasie deur hom en sy meelopers, het Pauw gesê Suid-Afrika het tot op die rand van ’n mafiastaat gekom, “omdat Zuma groot staatsinstellings uitgehol het – hy het sy trawante strategies geplaas sodat hulle hom nie meer kon ondersoek nie. Ek praat van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Misdaadintelligensie, die Valke, die NVA, die Staatsveiligheidsagentskap. Zuma was desperaat om alle ondersoeke na hom te stop.”

Die stampvol saal in die Netwerk24-feestent Dinsdag in OudtshoornFoto: Jaco Marais

Keepers se gewildheid skryf Pauw daaraan toe dat dit “op die regte tyd verskyn het, toe die woede en erns van die burgerlike samelewing teen Zuma al sterk opgebou het”.

“Ek was in daardie stadium al gatvol vir die joernalistiek. Maar ’n oud-joernalis is ook soos ’n gerehabiliteerde heroïenverslaafde – jy kan jouself nie help nie. Toe ek dus in 2016 ’n oproep kry van ’n ou bron dat hy inligting het oor die staatsbedrog en -korrupsie,” was dit die begin van sy ondersoek na Zuma se staatskaping.

“Hoe verder ek ondersoekwerk gedoen en geskryf het, hoe meer het ek die omvang besef van hoe Zuma die staat se wetstoepassingsagentskappe vernietig het. Dis toe ook dat ek besef het daar is ’n verskriklike swakplek in ons Grondwet. Dit is dat daardie wet geskryf is met oudpres. Nelson Mandela in gedagte, waar die uitvoerende president baie magte gegee is, onder meer om die hoofde van wetstoepassingsagentskappe aan te stel. Zuma het dit gebruik en sy trawante oral ontplooi.”

So het Zuma Tom Moyane as die SAID-hoof aangestel “en al vyf SAID-ondersoekeenheid gesluit”.

“Groot belastingskuld van sommiges – gangsters – is nooit ingevorder nie. Moyane het ’n uiters funksionele eenheid tot ’n tekort van R48,2 miljard gedryf. Honderde hoogs gekwalifiseerde senior amptenare het bedank weens dié toedrag van sake. Net om ons inkomstediens reg te ruk, gaan jare duur.”

Hy het baie geldprobleme gehad. Mandela het hom ’n miljoen rand gegee om hom uit die moeilikheid te hou. Daarna het almal gehelp om hom te onderhou.

Toe Zuma in 1992 na Suid-Afrika teruggekeer het, “het hy niks gehad nie – net ’n groeiende familie vir wie hy moes sorg”.

“Hy het baie geldprobleme gehad. Mandela het hom ’n miljoen rand gegee om hom uit die moeilikheid te hou. Daarna het almal gehelp om hom te onderhou. Banke het lenings en tjekboeke aan hom gegee – lenings wat hy nou nog nie terugbetaal het nie.

“Daar is by my geen twyfel nie dat Jacob Zuma geen begrip het van syfers en ekonomiese sake nie. Nou het sy onkunde hom ingehaal.”

Op die vraag of hy pres. Cyril Ramaphosa genoeg vertrou om die land weer op koers te kry ná die diefstal van miljarde, het Pauw gesê hy vertrou geen politikus nie.

“Vir politici gaan dit oor mag. Mense met mag doen vreemde dinge. Tog moet ons onthou hy het in ’n kort rukkie al baie reggekry. Maar ons moet ook onthou hy was deel van die verrotting. Hy het Zuma in die Parlement geprys. Hy is egter die beste wat ons nou kan kry. Die staat sit nog met baie useless mense. Daar nog baie keepers in die kabinet.”

Meer oor:  Jacques Pauw  |  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.