Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Zuma sal steeds vir VBS-lening moet betaal

Oudpres. Jacob Zuma sal ondanks die ineenstorting van VBS Mutual Bank steeds verplig wees om vir die huislening op te dok wat dié bank aan hom toegestaan het.

Zuma het in 2016 bekend gemaak dat hy ’n huisverband van R7,8 miljoen van VBS bekom het vir Nkandla – sy private woning in KwaZulu-Natal.

’n Verdoemende verslag wat Woensdag bekend gestel is, het bevind dat sowat R1,9 miljard van VBS geplunder is. Die bank is vroeër vanjaar onder kuratorskap geplaas.

Adv. Terry Motau SC, wat deur die Reserwebank se Omsigtigheidsowerheid aangestel is om VBS te ondersoek, het in sy verslag, “The Great Bank Heist”, bevind dat VBS nie gered kan word nie en gelikwideer moet word.

Onder die prominente figure wat in die Motau-verslag genoem word, is Florence Radzilani, ondervoorsitter van die ANC in Limpopo.

Sanco – een van die ANC se alliansievennote – het Donderdag volgens The Citizen gesê die VBS-ondersoek moet uitgebrei word om vas te stel of die R7,8 miljoen-lening aan Zuma bo alle verdenking is en of paaiemente wel betaal word.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficiency Group, het by navraag gesê die kurator kan nie vir Zuma sê hy moet die geld terugbetaal nie.

“Hy kan hom egter dwing om gebonde te bly aan die kontrak wat hy met VBS Mutual Bank aangegaan het.

“Wat waarskynlik gaan gebeur, is dat die boek van debiteure vir huisverbande saam in ’n mandjie gegooi en aan ’n ander bank verkoop sal word. Hy sal dus nie meer vir VBS skuld nie, maar ’n ander bank.

“Die kontrak sal bly staan, maar dit sal waarskynlik na ’n ander bank oorgedra word. Dit sal ook geld vir ander lenings en deposito’s,” het hy verduidelik.

Zuma se kantoor het in 2016 gesê hy het die geld bekom deur ’n huislening met VBS op standaardvoorwaardes aan te gaan. Dit was nadat die konstitusionele hof in ’n bevel teen Zuma en die parlement die nasionale tesourie opdrag gegee het om te bepaal hoeveel geld Zuma moet terugbetaal vir die opgraderingswerk by Nkandla wat R246 miljoen beloop het.

Mutual VBS was in daardie stadium betreklik onbekend en het hoofsaaklik dienste in Limpopo gelewer.

Onder die prominente figure wat in die Motau-verslag genoem word, is Florence Radzilani, ondervoorsitter van die ANC in Limpopo.

Sy het na bewering R300 000 van die Vhembe-distriksmunisipaliteit in VBS belê en in ruil daarvoor omkoopgeld, genoem ’n “Kersgeskenk”, ontvang.

Danny Msiza, ANC-tesourier van Limpopo, en Brian Shivambu, broer van Floyd Shivambu van die EFF, het volgens die verslag ook geld ontvang.

Die ANC se provinsiale uitvoerende komitee in Limpopo sou volgens Eyewitness News Donderdagaand vergader het om die korrupsieskandaal te bespreek.

Brian Shivambu het die beweringe in ’n verklaring ontken.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Vbs Mutual Bank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.